Laat die draak liewers lê

Ljubljana – episode 1
Lloyd Zandberg
Trek met jou wysvinger 'n lyn op 'n kaart reg suid van Klagenfurt, Oostenryk, en nog een ooswaarts uit Udine, Italië. Jou vingers glip omtrent terselfdertyd oor Slowenië se noord- en wesgrens en ontmoet in Ljubljana, die mitologiese lêplek van 'n draak.

Ons Sloweniese gasheer, Dejan, verduidelik die swart Peugeot is sy metgesel van 13 jaar se eiendom. Hy het syne verkoop en ry nou soos baie Ljubljaners fiets. Dié stadjie is plat genoeg om van fietsry nie 'n martelsessie te maak nie. Bogsnuiters, bejaardes, verslonsde studente en 'n netjiese vrou in sykouse skiet van agter om ons in vaardige beheer van hul trapgoed. Vir afwisseling rasper daar so elke nou en dan iemand op 'n skaatsplank verby.

Ek sien nie een fietsryer 'n voet­ganger tref nie.

Dejan se plekkie is klein, maar presies wat ons nodig het vir die herstel van die dag en 'n halwe reis tot hier, die hoofstad van Slowenië. Die woonstel is uitstekend sentraal geleë.

Binne loopafstand, in 'n radius van 1 km, is daar 24 van die top- toeriste­aantreklikhede. Dit sluit in die trippel- en drakebrug, die Presen­ter-plein en die vars vrugte- en groentemark. In die omtrek is daar ook bakkerye, 'n supermark, goeie en beter eetplekke, ensovoorts.

Ljubljana se middedorp het geen oordonderende hoë geboue nie, selfs die kasteel op die hoogste grond het 'n lae profiel en is verspot naby, 'n kort klimstap ver.

Ons moet koes onderdeur 'n restaurant se sambrele, systap om tafels en stoele om by die voordeur van ons blyplek uit te kom. Dejan raai ons aan om nie daar te eet nie, dáár is beter. Die een wat hy aanbeveel sit smullekker perdevleishamburgers voor.

Ek vra uit oor misdaad.

“Nee wat, misdaad is geen probleem nie.”

Net toe klink harde knalle op.

“Ja, en dít?” vra ek.

Hy lag en beduie agter my. Vuur­werke gooi kleurvolle rosette in die nag rondom die kasteel op die heuwel. Watter verwelkoming! Hulle hoef regtig nie soveel moeite te gedoen het nie. Vir 'n oomblik wonder ek verspot: Het Ljubljana se draak teruggekom? Die gedierte is die simbool van die land en stad.

Vroegoggend is die oudstryders die beste barometer van waar die bier die koudste en goedkoopste is. Die dagtemperature is abnormaal hoog, in die hoër twintigs. Die stad ervaar 'n buitegewone hittegolf waarin ons tevrede deel. Die Sloweniërs kry warm, vir ons is dit Swakop-heerlik.

Daarom is roomys eet normaal. Oorvloedig beskikbaar by straatstalletjies in ondenkbare en verrassende geure. Moontlik is die bloubessiegeur die ys ingehamer, want dit is van die lekkerste wat ek nog geproe het.

Ons vind 'n tafeltjie by 'n kafee wat roomys adverteer. 'n Ou dame, smaakvol geklee, kom regop, maar moeisaam met haar loopring en neem in die son plaas.

Sy is maklik 80 jaar oud. Die eienaar bedien ons. Sy wag. 'n Gesin daag op en daar is te min sambrele en stoele. Sy bly eenkant. Ná 'n geskarrel kry elkeen sy sit en skaduplek. Sy nié. Sy beskik oor die seldsame eienskap van waardigheid. Steeds wag sy in die son. Geen sambreel word vir haar oopgevou nie. Haar gesig bly gelate. Vandag moet haar bederf-uitstappie wees. Aan wie sou sy dink? Sy is onsigbaar vir die kelners. Later staan sy op, vra ons hoflik om na haar loopring te kyk en gaan koop haar ysie binne.

Toe sy loop, bedank sy ons vir die oppas. Sy raak weg in die vrolike vroegsomer gewoel. By die gesinstafel word selfies geneem en uitbundig gelag.

Tussen jou eie mense is jy soms die eensaamste.

Gaan sag die nag binne, Mevrou.

Moet jy eers oud word om oues raak te sien?

Dejan kom op sy fiets om die woonstelletjie se Wi-Fi reg te maak. Ons gesels. Hy moet gaan fluitjie blaas vir 'n sokkerwedstryd. Sokker is natuurlik groot in Slowenië. Rugby is my sport, sê ek. Hy raak liries, syne ook. Rugby is die sport vir die manne, groot manne, oordeel hy.

Hy gaan binnekort 'n vakante setel in die parlement vul, maar daar is geen aanstellerigheid by hom nie.

Die laatnag vuurwerkvertoning was natuurlik nie die draak wat teruggekom het of 'n verwelkoming vir ons nie. Dit was die teken dat die stadsraad se vergaderingsessies verby is.

Tog, vir 'n oomblik, het die toeval ons baie spesiaal laat voel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!