• Tuisblad
  • Menings
  • Laat die kindertjies na U toe gaan en verhinder hulle nie
Laat die kindertjies na U toe gaan en verhinder hulle nie
Laat die kindertjies na U toe gaan en verhinder hulle nie

Laat die kindertjies na U toe gaan en verhinder hulle nie

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Onbekende ontbinde baba - Noordoewer. Onbekende baba - rivierbedding. Onbekende baba - Kupferberg-stortingsterrein. Onbekende baba - Goreangabdam. Onbekende baba - Gammams-suiweringswerke. Onbekende baba - bosse by 'n informele nedersetting.
Hoe blaas 'n mens asem, 'n geskiedenis wat sê " jy was hier en was geliefd en daar is na jou uitgesien en jy maak sin" in 'n volgestopte sak, bondeltjies vlees, bene en stink?
Gee jy 'n naam wat lag en son spel, nerfaf knieë van teen steiltes afrol en boombas skuur, 'n asempie soetsuur van 'n pienk melkie, rooi koeldrank uit 'n plastiekbeker met twee handvatsels en 'n gestreepte strooitjie en 'n verjaarsdagkoek, gevorm in die plomp lyfie van 'n blou beertjie met twee kersies om uit te blaasspoeg.
Verbeel jy 'n album volgeprop met foto's van onthou's saamgepak uit 'n huis met 'n mamma, pappa, boeties, sussies, 'n hond. 'n Pappa wat 'n kleindogtertjieseuntjielyfie ver bo sy skouers swaai of versigtig waaksaam, trots, agter 'n eerste rooi fietsie met twee oefenwiele staan. 'n Mamma met arms wat 'n kleindogtertjieseuntjielyfie styf versigtig op haar skoot in haar armvlerke toevou en in 'n sagte stem lees van Hom wat immer en altyd vir kindertjies die liefste van alles en almal is.
Iewers 'n foto van 'n kersboom met bontpapierpresente rondom gestrooi, uitgesoek presies volgens 'n moeë prewelstemmetjie voor slaaptyd se voorskrifte.
Iewers 'n vakansie met branders en sandkastele en emmertjies en afdopneusies en 'n uitasem afrol teen 'n duin.
'n Skoolkonsert met 'n skralekrans op skoonblink vlegsels wat ruik soos babasjampoe en viooltjies, 'n spierwit vallerok waaronder skurwe speeltone uitsteek, deel van 'n groep voorskoolse engeletjies op 'n skoolverhoog wat saam met Maria en Josef sing 'n " Heiland is vir ons gebore" .
Iewers geplak 'n briefie in domvingertjieskrif aan Talienkie Tandemuis, kinderkrabbels uitgestal op 'n yskas, geraam in 'n gang. 'n Eerste haasbekkie-oopbekkie glimlag tussen twee styfgevlegte boksterte. Iewers 'n rooi vetkrythartjie vir moedersdag, vadersdag, verjaarsdag.
Tussen die bladsye van die wye wêreldweb gaan dwaal ek op Versindaba om woorde te gaan soekleen, want vir hierdie bondeltjies been in rooi sakke vir mediese afval het en kry ek nie woorde nie, net 'n verskriklikverlate hartseer.
"Naamloos vir nou
want haar eerste housewarming
was 'n ingeduikte vullisdrom
haar bestemming die stortings-
terrein (langs die suid-park begraafplaas)
waar brandende bande nou al vir weke
die aangrense buurte se kele verkool
dae op daardie godverlate vlakte van ontbinding
miere wat haar halssnoer in swart pêrels. aan haar naelstring
begin knaag. die son het haar met 'n laaste ave maria ingesalf"
Skryf Gisela Ullyatt in haar " Mame se kindjie: Gedigte vir gestorwe kinders" :
"Jy's klein
pienk planeet
met 'n ses-en-dertig
grade Celsius son,
waar jy vandaan kom
is dit altyd mooiweer
is dit altyd warm
maar jou borskassie
is 'n maankind
wat na die klein en ver planeet
verlang
waar elke teug liquid sunshine is
reis, reis deur die sterre
na jou planeet waar daar vosse
en rose en stiltes is"
Gaan leen ek by Antjie Krog se By jou vertrek:
"In jou voorgeskiedenis
skeur 'n
mens klere en werp
as
op die hoof: ek bloei
uit my
milt"
Beaam Anthony Osler, Suid-Afrikaanse Zenmeester en menseregte-advokaat, wat erken, " sometimes, this life just feels too hard." Amen, sê ek.
En bid vir elke bondeltjie rooisakbaba dat julle lankal soos beloof reeds by Hom is - julle vir wie Hy immers die liefste van almal was.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!