Laat vier bestes bly, su00ea Naas
Laat vier bestes bly, su00ea Naas

Laat vier bestes bly, sê Naas

Rugby
Andrew Poolman
Tinus van Staden



Hoewel twee van die ses Suid-Afrikaanse Superrugby-spanne hul plek in dié reeks gaan verloor, is dit bitter belangrik dat die vier sterkste spanne in die kompetisie bly – ongeag wié die spanne is.

Dít was gister die voormalige Springbok-losskakel en -kaptein Naas Botha se siening nadat rugby se beheerliggaam in die Suidelike Halfrond, Sanzaar, bekend gemaak het dat die reeks in sy geheel met drie spanne verminder gaan word.

Hoewel drie Superrugby-spanne die trekpas gaan kry, gaan die omstrede konferensie-stelsel steeds toegepas word.

“Twee (Suid-Afrikaanse) spanne gaan wegval. Daar is baie maniere hoe hulle kan bepaal wie die spanne is wat moet wegval, maar al wat ek vra, is dat die beste vier Suid-Afrikaanse spanne in die reeks oorbly,” sê Botha.

Volgens hom sou die ideaal wees dat die ses spanne wat tans in die reeks deelneem, in 'n klein kompetisie speel om te bepaal wie in die Superreeks gaan meeding.

“Niemand moet beskerm word omdat hulle tien jaar terug 'n goeie span was nie. Waar jy geografies geleë is, moet ook nie bepaal of jy in die reeks speel of nie.

“Dalk is dit beter dat ons spelerspoel net vier spanne voed. Jy wil hê dat die beste 160 spelers in die land die vier Super-spanne voed.”

Hy bestempel dié skuiwe nietemin as 'n tree in die regte rigting.

“Daar was te veel probleme met die struktuur van die reeks. Dit was te groot en te lomp en mense wil sien dat die beste spanne teen mekaar meeding,” sê hy.

Nóg 'n voormalige Bok-kaptein, die slot Victor Matfield, meen dit is tog hartseer dat twee spanne hul plek in die reeks gaan verloor.

“Dit is hartseer, maar baie mense sal sê die reeks werk nie op die oomblik soos dit is nie en iets moet daaraan gedoen word,” sê Matfield.

Volgens Matfield sal die twee spanne wat weggelaat word, se beste spelers tien teen een aan ander franchises uitgeleen word.

“Maar ek sal graag wil sien dat daar 'n promosie- of relegasie-wedstryd gespeel word om te bepaal watter spanne bly dan in die reeks.”

Matfield meen dit sal hartseer wees as 'n unie wat so baie vir rugby in die land gedoen het soos die Vrystaat, sy plek in die kompetisie verloor.

• Laas naweek se tellings: Force 46-41 Kings; Stormers 34-26 Chiefs; Sharks 18-13 Jaguares; Brumbies 43-10 Reds; Highlanders 26-20 Blues; Sunwolves 21-20 Bulls; Hurricanes 38-28 Waratahs.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer