Lae hou op Dan Craven voor Tokio

Fietsry
Andrew Poolman
Die Namibiese Fietsryfederasie moes Dan Craven inderhaas as sy verteenwoordiger in aanstaande week se Olimpiese padfietsresies in Japan vervang.

Die 38-jarige Craven was bestem om aan sy derde Olimpiese Spele te gaan deelneem, maar het Donderdag positief vir Covid-19 getoets in Spanje, waar hy die afgelope maande gewoon en geoefen het.

Craven het tevore aangedui dat hy sy Olimpiese resies sou aanpak op 'n fiets wat twee werkers op hul familieplaas by Omaruru met die hand vervaardig het. Hy wou dié geleentheid onder meer gebruik om hul fietsprodukte op die wêreldmark bekend te stel.

“Sommer net so is die Olimpiese Spele vir my verby. Vir meer as drie jaar het ek geoefen, voorberei en planne gesmee vir Tokio.

“My oefentyd was allesbehalwe seepglad, maar die algehele moeite om só ver te kom, was enorm. En met een positiewe Covid-toets is dit alles daarmee heen,” het Craven teleurgesteld op sy Instagram-blad geskryf.

Die Fietsryfederasie het intussen die bevordering vir die 24-jarige Tristan de Lange as kortlysreserwe aangekondig, wat gister die lang vliegreis via Johannesburg, Frankfurt en Wene na die Japanse hoofstad begin aanpak het. Sy padfietsresies in Tokio is komende Saterdag.

Die Fietsryfederasie se president, mnr. Axel Theissen, het reeds in Junie positief vir die coronavirus getoets en kon weke later steeds nie 'n negatiewe toetsuitslag lewer nie. Sy toerplek as meganikus na Tokio is gevolglik deur Mannie Heymans ingeneem.

Op sosiale media het Theissen gister gereageer op 'n gefrustreerde Drikus Coetzee (nasionale padfietsresieskampioen 2021 asook tydtoetskampioen) se openbare kritiek dat De Lange, wat die amptelike reserwe vir die bergfietsry-posisie ná Alex Miller was, die gesogte prys losgeslaan het om die land in die padfietsresies te verteenwoordig.

De Lange was met 'n kortkop tweede ná Craven in die 2020 nasionale kampioenskap, wat in daardie stadium die bepalende kriteria-byeenkoms was.

Theissen het in sy reaksie Coetzee se stelling as misleidend ontken dat “tegniese foute deur die relevante partye” tot sy Olimpiese weglating gelei het.

“Die NCF kon net vier mansryers vir die fietsrydissiplines in Tokio 2020 benoem. Drikus se naam was in daardie stadium nie een van die vier kandidate nie, op grond van sy ­fietsryvertoning in daardie stadium.

“Enige insinuasie van vuilspel is dus nie van toepassing nie. Die NCF, in samewerking met die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee, moet voldoen aan die reëls neergelê deur die Internasionale Olimpiese Komitee.”

Theissen sê die Federasie is ondanks die laat terugslag steeds bevoorreg om deur vier ryers verteenwoordig te word. De Lange se Olimpiese kompetisie komende Saterdag sal in die daaropvolgende dae gevolg word deur Vera Looser in die vrouepadresies (Sondag), voor die bergfietsresiese vir Alex Miller (Maandag) en Michelle Vorster (Dinsdag).

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!