Laer bierverkope in SA rem AB InBev
Laer bierverkope in SA rem AB InBev

Laer bierverkope in SA rem AB InBev

Jo-Mare Duddy Booysen
Hanlie Stadler - Die verkryging van SABMiller het (nog) nie 'n wonderkuur vir Anheuser-Busch InBev se trae groei van die afgelope paar jaar meegebring nie.

Inteendeel, bierverkope in Suid-Afrika, wat volgens volume in die vierde kwartaal van 2016 met 5% gedaal het, was een van die dempers op die bierreus se syfers. Die syfers vir die vierde kwartaal van 2016 en vir die voljaar is gister uitgereik.

Die maatskappy se kernwinsgrens (winsgrens nadat rente, belasting, waardevermindering, oftewel die ebitda, afgetrek is) vir die voljaar het vir die eerste keer sedert die maatskappy in 2004 tot stand gekom het, gedaal. (2004 was die jaar waarin België se Interbrew met Brasilië se AmBev saamgesmelt het.)

Die kernwinsgrens het van 38,7% in 2015 tot 36,8% in 2016 gedaal.

Omdat belangrike teikens nie gehaal is nie, is Carlos Brito, uitvoerende hoof, en ander senior werknemers van die wêreld se grootste bierbrouer hul prestasiebonusse kwyt, die eerste keer sedert 2008 dat dit gebeur.

Dié bierreus het in 2016 altesame 500 242 000 hektoliter bier verkoop as SABMiller se verkope ook bygetel word, al is die verkryging eers in Oktober voltrek. Dit is egter 2% minder (in volume gemeet) as in 2015.

Die maatskappy se inkomste het danksy prysstygings darem met 2,4% tot US$45,517 miljard gestyg en sy wins het met 2,8% tot US$27,715 miljard gestyg.



Beste drie

Die groep se drie beste biere, Budweiser, Stella Artois en Corona, is steeds besig om die wêreld te verower. Inkomste uit die verkope van dié drie sogenaamde “wêreldhandelsname” het met 6,5% gestyg.

Veral Corona se verkope het volgens inkomste met 14,3% gestyg en dit lyk asof dié bier veral Doer Onder die kele natmaak.

In Suid-Afrika word verkope van Castle Lite en van die gegeurde bier Flying Fish uitgesonder. Suid-­Afrika se syfers word nou weergegee as deel van die streek Europa, die Midde-Ooste en Afrika en syfers vir individuele lande word nie uitgelig nie.

Die groot vlieg in AB InBev se salf is Brasilië. Brasilië is in 'n resessie en die reaal het in die loop van 2016 met 32% teenoor die dollar, waarin AB InBev sy syfers weergee, geval.

As dié land se swak syfers uitgelaat sou kon word, sou die maatskappy se ebitda met 6,4% kon styg, pleks van met 0,1% daal.



Positief

AB InBev is egter positief oor die langtermynvooruitsig vir Brasilië. “Ons is nou al amper 30 jaar in die land bedrywig . . . Gunstige demografie, die daling van inkomste-ongelykheid in die streek en verbruikers se vraag na innoverende en premie-produkte sal na verwagting langtermyngroei help aandryf.

“Wat meer is, ons glo daarin om voordeel te trek uit die geleenthede wat in uitdagende omgewings ontstaan.”

AB InBev sê hy hou aan om talentvolle mense te werf, wat nou moont­lik is in Brasilië omdat baie ander maatskappye afleggings doen of nie nuwe mense werf nie.

AB InBev het aangekondig dat hy sy teiken vir besparings uit die verkryging van SABMiller gaan verhoog. Hy wil nou binne vier jaar US$2,8 miljard bespaar, pleks van die US$2,45 miljard wat vantevore aangekondig is. Van die besparings is reeds gerea­liseer weens sinergieë en kostebesparings.

Wat 2017 en die toekoms betref, sê AB InBev hy is optimisties oor die groeigeleenthede wat die verkryging van SABMiller skep. Dit is veral danksy SABMiller se voetspoor in Asië, Sentraal- en Suid-Amerika en Afrika.

Die gekombineerde groep het nou meer as 500 biere, insluitend sewe van die tien biere met die hoogste wêreldwye verkope. Altesaam 18 biersoorte lewer verkope van meer as US$1 miljard per jaar. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!