Laer rentekoers alleen gaan nie ekonomie 'red'
Hanlie Stadler
Dit gaan méér as 'n verlaging in die rentekoers vereis om ware, langtermynverligting vir verbruikers te verseker, het die Reserwebank Donderdag toegegee.
Dié erkenning kom nadat die sentrale bank sy repokoers met 0,25 van 'n persentasiepunt, vanaf 6,75% tot 6,5%, verlaag het. Banke se prima rentekoers verlaag vanaf 10,25% tot 10%.
Fundi Tshazibana, een van die twee nuwe adjunkpresidente van die Reserwebank, het beklemtoon die verlaging op sy eie gaan nie al die druk op verbruikers verlig nie.
Sy sê strukturele hervorming moet dringend deurgevoer word om ekonomiese groei aan te blaas.
Ekonomiese groei sal lone laat styg, wat verbruikers in 'n volhoubaar beter posisie kan plaas.
Prof. Raymond Parsons, ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, sê dit sou in dié stadium 'n veel groter ekonomiese impak gehad het as die rentekoers met 0,5 van 'n persentasiepunt verlaag is.
Nietemin reken hy die verlaging is tog positief: “Die sielkundige uitwerking van die verlaging op verbruikers- en sakevertroue sal waarskynlik groter wees as die werklike impak op die ekonomie.”
Kganki Matabane, uitvoerende hoof van die Black Business Council, het die besluit verwelkom, maar sê ook die Reserwebank moes eintlik die koers met 0,5 van 'n persentasiepunt verlaag het om “tasbare stimulus” te skep.
Peter Kent, medehoof van vaste inkomste by Investec Batebestuur, meen daar is ruimte vir die rentekoers om verder verlaag te word, met nog 0,25 tot 0,5 van 'n persentasiepunt.
Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê 'n verlaging van 0,5 is nie oorweeg nie. Die Reserwebank voorspel ook nie enige verdere rentekoersverlagings nie.
GOEIE NUUS VIR EIENDOMSBEDRYF
Dr. Michael Ade, hoofekonoom van die bedryfsliggaam vir staal en ingenieurswese, Seifsa, sê die verlaging het die potensiaal om plaaslike verbruikersvraag te stimuleer en daarom produksie te laat styg “ten einde die sputterende ekonomie te laat herleef”.
David Morobe, hoofbestuurder vir impakbeleggings by Business Partners, sê dis om twee redes goeie nuus vir kleinsake: Verbruikers kan nou meer bestee en kleinsake se eie skuldterugbetalings word goedkoper.
Dr. Andrew Golding, uitvoerende hoof van Pam Golding Properties, sê dis goeie nuus vir die eiendomsbedryf. Dit skep die ideale geleentheid vir nuwe kopers om die huismark te betree.
Hannes van den Berg, medehoof van Suid-Afrikaanse aandele en multibates van Investec Batebestuur, stem saam die verlaging sal op kort tot mediumtermyn nie veel van 'n impak op die ekonomie hê nie, “maar dit kan 'n belangrike rol speel om verwagtinge en sentiment oor die toekoms te verander”.
“Onderdrukte sake-, verbruikers- en beleggersvertroue het investering in ons plaaslike ekonomie, werkskepping en 'n potensiële ekonomiese herstel gekniehalter. . . Beter sentiment kan hernude belangstelling in SA Ingelyf meebring.”
Hy waarsku dit sal heelwat tyd verg om van die strukturele probleme in die ekonomie op te los wat maatskappye se inkomste en daarom aandeelpryse volhoubaar sal laat styg.
Jacques Celliers, uitvoerende hoof van FNB, sê hoewel die verlaging 'n klein bietjie verligting bring, is die Reserwebank reg dat rentekoerse alleen nie die ekonomie sal aandryf nie.
Hy maan verbruikers om steeds hul uitgawes verstandig te bestuur. “Ek doen 'n beroep op verbruikers om elke moontlike kans te gebruik om hul uitgawes te besnoei.
“Laer rentekoerse skep die geleentheid om 'n buffer in hul begroting in te bou wanneer hulle langtermynlenings vir 'n huis of nuwe motor oorweeg.”
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie