Laerhofkrisis kring uit
Hoofregter Peter Shivute het gister ’n somber prentjie oor die situasie in veral Namibië se landdroshowe geskets.
Denver Kisting - Gedurende Januarie tot September verlede jaar het landdroshowe in Namibië nie eens daarin kon slaag om die helfte van die sake wat toe op hul rol beland het, af te handel nie.
Hoofregter Peter Shivute het gister tydens die amptelike begin van die regsjaar gesê dié toedrag van sake bekommer hom diep. Teen dié koers, sê Shivute, “bou ons ‘n agterstand van sake in die landdroshowe”.
Gedurende die tydperk in 2017 is 38 435 sake by landdroshowe aangeteken en 49,79%, of 19 140, afgehandel.
Luidens statistiek wat Shivute gister beskikbaar gestel het, was daar aan die einde van 2017 meer as 20 000 sake hangende. Die nuwe regsjaar erf net 608 sake minder as die vorige jaar, met 20 263 sake.
Nagenoeg 104 landdroste is op die bank by 34 voltydse en 37 tussentydse laerhowe, en moet pa staan vir dié las.
Shivute skryf die “minder as bevredigende” slakkepas toe aan te min hofsale, wanfunksionele en gebrekkige opnametoerusting, asook ‘n tekort aan geregsamptenare en ondersteuningspersoneel in diens van die laerhowe.
Volgens hom is ‘n aantal regrukopsies op hande “om hierdie neiging hok te slaan”. Onder meer word sekere strukture reeds ingespan as hofsale in samewerking met die ministerie van justisie wat vir kapitaalprojekte verantwoordelik is. Daarnaas word ‘n voltydse verkeershof vir Bismarckstraat in Windhoek beoog wat uitsluitlik verkeersgeskille gaan besleg, sê Shivute.
Hoërhofsyfers van Windhoek dui aan daar is in 2016 net 23,4% van strafverhore afgehandel – 0.4 persentasiepunte minder as 2017 se 23,8%.
Op die appèlfront is 23% van sake in 2016 voltooi en verlede jaar 26,3%.
Tydens 2017 is 53,6% van arbeidsappèlle en 91,8% van arbeidsaansoeke en hersienings afgehandel.
Die prentjie wat siviele gedinge betref, toon daar is tydens 2016 amper 81% van sake afgehandel en 89,8% in 2017.
Soos die res van die land moes die regbank ook verlede jaar met verminderde hulpronne die pyp probeer rook, sê Shivute.
Die regering het egter sy pleidooi met “‘n simpatieke reaksie” begroet en meer geld is uiteindelik beskikbaar gestel as wat toegeken is.
Hoewel hy nie aangedui het presies hoeveel aanvullend verskaf is nie, toon die 2017-begroting N$242,5 miljoen is vir die regbank se operasionale werksaamhede opsy gesit. Later, tydens die hersiening van die nasionale begroting, is meer as N$10 miljoen bykomstig beskikbaar gestel vir onbetaalde fakture uit die vorige jaar.
Die huidige begrotingsjaar loop 31 Maart 2018 ten einde terwyl die statistiek wat Shivute gister gedeel het met die kalenderjaar verband hou.
‘n Ander beduidende verwikkeling op die regsfront is die vordering wat met die skep van ‘n strafreghervormingstaakspan gemaak is, sê die hoofregter.
Die korttermynmaatreëls wat sonder versuim geïmplementeer moet word, sal toesien dat die strafregstel meer geskik vir die behoeftes van Namibiërs word, het hy gesê.
Borgtog bly ‘n tameletjie wat nie net vir Jan Alleman grief nie, maar dit word toenemend belangrik vir mense op die bank om die beginsels daaromtrent reg te verstaan sodat hulle dit reg kan toepas, sê Shivute.
Daarom is ‘n reeks opleidingsessies gehou wat ten doel gehad het om veral landdroste touwys te maak. “Desondanks is dit belangrik dat ek beklemtoon regsamptenare is grotendeels afhanklik van die inligting tot hul beskikking wanneer hulle moet bepaal of daar aan ‘n beskuldigde borgtog toegestaan moet word of nie. Dit is onmoontlik om die onderneming te maak dat ‘n besluit oor borgtog altyd die goedkeuring van die publiek sal wegdra. Die regte van die beskuldigde en die openbare belang moet altyd teen mekaar opgeweeg word.”
Intussen word daar hard gespook om meer magte aan distrikshowe toe te ken ten einde die druk op die hoërhof te verlig. In dié verband sal streekshowe moontlik binnekort egskeidings mag behartig. Hoewel mans en vroue met mekaar in landdroshowe mag trou, mag mense se regsweë tans net in die hoërhof skei.
President Hage Geingob het op sy beurt die grondwetlike onafhanklikheid van die regbank benadruk.
Ook, sê die staatshoof, moet Namibiërs onthou hul regte en vryhede wat hulle geniet, is nie absoluut nie. Nagklubs en kroeë in woonbuurte wat diegene pla wat wil slaap, studeer of siek is, mag nie geduld word nie. Daarnaas is daar géén plek in die Namibiese huis vir mense wat die regte van vroue en kinders verontagsaam nie, het hy gemaan.
Eie aan sy 2018-tema sal die regbank óók vanjaar ‘n jaar van afrekening hê, het die president gesê.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie