Lag met u2019n traan saam met die vistermanne
Lag met u2019n traan saam met die vistermanne

Lag met ’n traan saam met die vistermanne

Des Erasmus
Des Erasmus - ’n Glimlag in die stryd. Die goue strofe het sy inslag eintlik in tye van oorlog en geweld gevind, maar die afgelope week is dit die bittersoet of soetbitter waar die kusdorpe Hentiesbaai, Swakopmund en Walvisbaai aan die visgrate wurg.

Die steen des aanstoots is strandhengel. Ingevolge ’n kennisgewing in die Staatskoerant van 26 Junie word ’n heffing van N$1 500 per maand op hengelpermitte terugwerkend ingestel.

Kortom, waar dit ’n hengelaar in die verlede N$14 per maand gekos het om af te stap see toe, is dit nou N$14 plus N$1 500.

Dis die wet van die Mede en Perse met nog ander rafels van mindere heffings wat in die kraaines koek.

Opvallend is dat bestaanshengelaars, die sogenaamde baaisiekelbulle, vrygestel word. Van die ander hengelaars sê dis diskriminasie, maar die volksmond praat onmiddellik van viskriminasie.

Praat van skerp. Een van die beswaardes onder die hengelgebroedere het onmiddellik op die sosiale media geklouter, die embleem van ’n groot bankgroep gebruik en ’n spesiale aanbod verkondig: “Sagte lenings vir vislisensies.”

Toerisme en die handel is die groot verloorders, maar op die gebied van dorpe word die bepaling as ’n doodsklok vir die Dorp van die Jaar vertolk. In ’n futuristiese weergawe word vertel wanneer ’n toerleier oor ’n klompie jare verby die vakansieoord ry, word aan die toeriste vertel: “Op links is die plek waar Hentiesbaai gelê het.”

Dan word vertel van die grense van die Skedelkus wat eensklaps ver suid geskuif het om nou al by Swakopmund te begin. Spookkus word die gebied genoem. Glo nie verniet dat die ouvrou lankal snags op die hoofweg tussen Swakop en Walvisbaai dwaal nie.

Met die bestaansreg van Henties wat aangetas word, lui ’n ander stukkie goedige reklame so: “Huis te koop op Hentiesbaai. Spotgoedkoop. Ou Land Rover en bos visstokke en katrolle by die koopprys ingesluit.”

Ewe luimig is ’n storie dat Jan Rap en sy pêlle hulle almal tot bestaanshengelaars gaan laat verklaar.

Hulle gaan trapfietse met omboude visstokhouers koop en daar gaat hulle viswaters toe. Teen N$14 per maand lyk dit na ’n bargain.

Kolmanskop 2. Só word nou al na Hentiesbaai verwys.

Die jare lange gekibbel oor die toestand van die oorde langs die sentrale kus is blykbaar ook met ’n penneveeg iets van die verlede. Hoekom ten duurste basiese geriewe by plekke soos Jakkalzputz, Myl 72, Myl 108 en Torrabaai skep as die hengelaars nie meer gaan kom nie? En vir ’n bestaande oord soos St. Nowhere, noord van Myl 108, is dit blykbaar nou ook nag.

Al wat ’n hengelfees langs die kus is, gaan vir toekomstige geslagte net mooi vertellings uit die verlede word. ’n Visfees, korporatiewe hengelkompetisie, toetsreekse teen Suid-Afrika, die Bonanza die dag ná Kersfees - alles gaan in die verskiet lê.

Nog ’n bewering is dat net een enkele hengelpermit plus die heffing van N$1 500 uitgeskryf is sedert die bom verlede Vrydag gebars het. Die koper was blykbaar ’n Suid-Kaapse versamelaar wat vir sy stokperdjie op unieke stukke konsentreer.

Dis die oog wat nog na ’n glimlag soek. Die harde werklikheid is die betraande ander oog tot tyd en wyl iemand tot besinning gekom het.

Volgens een skatting gaan die groter Namibië N$225 000 000 per jaar verloor volgens ’n opname getiteld The economic value of Namibia’s recreational shore fishing. Dan word toegegee dat die syfer dalk ’n bietjie verouderd kan wees. Dit kan vandag al aansienlik meer wees.

Een van die ou jorse van die viswaters is gevra wat nou.

“No problems,” het hy gesê.

Hy drink nou sommer by die huis.

Kommentaar

Republikein 2025-04-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer