Lag of huil Nam-styl
Augetto Graig - Hei, mense, ons sien darem almal ’n ding anders, nè?
Kyk nou net hoe sien Mej. Namibië se mense die land se kultuur. Hul keuse vir ’n kostuum om ons land op die wêreldverhoog te verteenwoordig, is glad nie soos ek dit sou verwag het nie. Skreeusnaaks en ongelooflik is hoe ek vanjaar se nasionale uitrusting sou beskryf, maar met wat ek van mode weet, is dit dalk juis die wenresep.
Dit hang seker baie van ’n mens se opvattings af.
Jou ervaring van Namibiërs se klere en styl in die algemeen is klaarblyklik nie dieselfde as myne nie.
Ek dink nog altyd Namibiërs het ’n sekere flair, en as hulle die kans kry, word daar nogal moeite gedoen om “uitgevat” iewers op te daag.
As mens kyk na die aandag aan besonderhede by die verskillende tradisionele kostuums, is dit aanduidend van trots.
Armoede onderdruk hierdie pronkerigheid, maar daar is altyd een of twee mense wat ondanks ’n gebrek aan geld steeds skitter.
Ek weet nie watter beperkings Nadja Breytenbach genoop het om die Suid-Afrikaanse ontwerper Mzukisi Mbane se skepping te kies nie. Sy idee van wie ons as Namibiërs is, vind ek vreemd.
Tog moet ek erken ons almal is so anders en sien die wêreld so verskillend, dat daar nog baie vir my is om te leer.
Ek dink die les en geleentheid hierin vir my is om my vooroordele te bevraagteken. Is ons regtig wie ek dink ons is? Lyk ons werklik soos ek dink ons lyk? Duidelik nie altyd nie, en sekerlik nie vir almal nie.
Selfs in my geliefde hoofstad, Windhoek, verskil mense heelwat, afhangende van waar jy hulle teekom.
In die dorp is dit net blink skoene, gestrykte pakke, fraai rompies en hoë hakke.
Woonbuurte is vol tekkies of sandale, kortbroeke en T-hemde, terwyl skeure en gate wat nie deur Kanye West ontwerp is nie, algemeen in die nedersettings is.
Nou met die nasionale verkiesings om die draai voel ek die idee van verskillende opvattings sal help om verskillende standpunte en boodskappe te ontleed.
Politici se verskillende benaderings spruit uit die verskillende omstandighede waarin hulle leef.
Mense moet dus verstaan die president glo korrupsie is nie so erg in Namibië nie, omdat hy nie daagliks daardeur hoef te worstel nie. Vir die taxidrywer is dit ’n heel ander werklikheid.
Kom ons kyk weer na die kostuum waarmee Mej. Namibië die wêreld wil verlei.
Dit is kleurvol en dapper, wat Namibiërs ook is. Daar is driehoeke en horings op.
Die ding het selfs vlerke, maar kom nie juis van die grond af nie.
Verwarring word aan die Namibiese samelewing gekoppel, en ook aan hierdie ontwerp.
Dalk sê dit meer van Namibië as wat ons bereid is om te erken?
Miskien moet ons net aanvaar dat ons effe belaglik is.
Die hele storie laat my sommer lag, en soos die Engelse sê, lag bly maar die beste medisyne.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie