Lamtietie, Damtietie . . .
Lamtietie, Damtietie . . .

Lamtietie, Damtietie . . .

Minette Brink
1552427 Brink Minette L 49 F 06/11/2018 11:06:34. . . 35. . . 36. . .

Beknopte kamer vol skemer. Ondersoekbed nog kleiner. Skerm met swart en grys beelde wat die sekondes aftel. Jurkie dieselfde turkoois as die sloop en laken.

Ek dryf in ‘n skemersee van ‘n gunstelingkleur. My linkerarm gelig, agter my kop.

“Hallo,” sê die dokter. “En hoekom is jou oë so groot?”

“Want ek is bang,” sê ek. Nie een enkele lawwe sêding êrens in my nie.

“Moenie,” sê hy. “As jy wil, neurie iets. Dit maak mens kalm. Jammer, dié gaan koud wees.”

Maar nie so koud soos my binneste nie. Ek sê dit nie vir hom nie.

Die skandeerder kruip oor die jellie-en-bors. My oë op die skerm. As die beweging stop, gaan staan my hart. Hou ek asem op.

11:09:12. . . 13. . . 14. . . Dit beweeg aan. Hart skop weer in. Asem uit. Oor en oor.

Ek is jammer ek het so lank gewag, praat my gewete met wie weet wie. Ek moes ses maande terug al gekom het vir die opvolg. Sê nou die knop is groter én kwaadaardig en . . . Maar tyd vlieg en dis matriekjaar en ek is oorwerk en . . . bang.

Dalk moet ek ophou dink en liewer sing. Langenhoven verdien meer as neurie. “Lamtietie, Damtietie, luister hoe fluister die wind . . .”

“Alles goed,” sê die dokter. “Die *heelwat groot wetenskaplike woorde* het effe gekrimp. Sien jou oor ‘n jaar.”

Ek bel vir liewe Rolfus Magnificus by die Kankervereniging. Vertel vir hom watter Lamtietie, Dômtietie ek was om so lank te wag.

En hy moet dadelik vir my sê wie kan waar en wanneer gaan vir ‘n ondersoek en hulp. Want nie almal is in my uiters bevoorregte posisie met ‘n mediese fonds nie.

“Hi, Mintie-Mens!” jubel Vrolike Lied Hansen. “KEN JOU BORSTE!”

Ek sien sommer hoe frons hy. Ek ken daai frons al van lank terug se koor- en koerantdae af.

“Selfondersoek bly die beste eerste opsie om borskanker hok te slaan. Ek sê altyd: Voel jouself, ken jouself, beskerm so jouself.

“As jy ‘n knop voel, ‘n seer of sensitiewe bors het wat nie verbeter binne ‘n week ná menstruasie nie, gaan dokter of kliniek toe. Veral as daar swelling, ‘n bloedige of swart uitskeiding uit die tepel is, of die vel verkleur of lyk soos lemoenskil. ‘n Kliniese borsondersoek is die eerste stap! Dring aan op ‘n mammogram of borssonar.

“Mammogramme is seer en ongemaklik, maar só belangrik. Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel aan dat ‘n vrou ten minste een maal per jaar vir een gaan.

“Maar in Namibië is dit ‘n byna onmoontlike taak met dié dat daar vir staatspasiënte slegs een mammo-eenheid by die Windhoek Sentrale Hospitaal en een by die Oshakati-staatshospitaal is.

“Private dienste is beskikbaar in Windhoek en aan die kus, en ons is baie dankbaar dat die Grootfontein Private Hospitaal nou ook ‘n mammo-eenheid het.

“By CAN het ons van vanjaar af ‘n mobiele borssonar-eenheid en het reeds in Windhoek met sonografie begin omdat dit deesdae beter werk as mammogramme. So sê die internasionale slimkoppe.

“Ons poog om hierdie diens landswyd met ons uitreikklinieke van 2019 af gratis aan te bied. So ja, dit is waar Namibiërs se geld deels gegaan het die afgelope twee jaar – om ’n nuwe baken van hoop in die stryd teen borskanker op die been te bring.

“In Nam het ons tans dié skokkende syfers: 27,4% van alle kankertipes in Nam is vroueborskanker. Tussen 2014 tot 2016 is 1 635 vroue nuut diagnoseer met ‘n vorm daarvan.

“Borskanker is nie noodwendig voorkombaar nie, maar hoogs geneesbaar indien vroeg gediagnoseer en behandel.”

Toe hy vir die eerste keer asemskep, weet ek die grand finale kom.

“Borskanker is die nommer een kankerdraak wat Namibiese vrouens jaag! Jaag weg die draak!

“Deur hom te vrees, maak ons hom ons koning.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!