'Land sal nie 2de grendeltyd oorleef'
Covid-19 se inperkings blyk toenemend die laaste spykers in die ekonomie se doodskis te wees.
Ronelle Rademeyer
Die Namibiese ekonomie sal nie 'n tweede grendeltyd oorleef nie. Om dié werklikheid by die regering te beklemtoon, probeer sakelui tans 'n afspraak met besluitnemers kry.
Só het mnr. Sven Thieme, voorsitter van die Ohlthaver & List-groep, gister gesê na aanleiding van die aankondiging dat Pick n Pay meer as 500 mense gaan aflê.
Thieme het met verwysing na gerugte in die wandelgange oor 'n moontlike herinstelling van fase 1-inperkingsmaatreëls gesê inperking versmoor die ekonomie en kos die land werksgeleenthede.
Die aankondiging oor Pick n Pay volg kort nadat die Pupkewitz-groep aangekondig het hy het vrywillige skeidingspakkette vir al 1 860 van sy werknemers aangebied.
O&L en Pupkewitz is die twee oudste private maatskappye in die land. Eersgenoemde het tans sowat 6 500 mense in diens.
Op 'n vraag aan Thieme of dié groep nog mense gaan aflê, het hy geantwoord: “Ek kan nie ja sê nie, en ek kan ook nie nee sê nie.
“Ons is 100 jaar oud en ons weet hoe om deur swaar tye te gaan. Ons visie is om teen 2025 altesaam 10 000 werksgeleenthede in hierdie land te geskep het.
“Op die oomblik kry ons swaar, maar ons sal ons 2025-mikpunt bereik,” sê Thieme.
Pick n Pay, wat 1 931 mense by sy 22 supermarkte in die land in diens het, gaan reeds die afgelope vyf jaar deur moeilike vaarwaters. Die besturende direkteur van Pick n Pay, mnr. Graeme Mouton, sê in 'n verklaring die langdurige ekonomiese insinking en verbruikers se kleiner bestedingsvermoë het die laaste vyf jaar 'n marginale tot negatiewe omset tot gevolg gehad, met verliese die laaste twee jaar.
Hy sê daar is met herstrukturering begin om die verliese te beperk en volhoubaarheid te verseker. Buiten besnoeiingsmaatreëls, het dit ook vrywillige skeidingspakkette en die aanbod van vervroegde aftrede vir werknemers ingesluit.
Die aantal mense wat van dié aanbod gebruik gemaak het, was egter baie klein en gesprekke is begin oor alternatiewe maatreëls wat daarop gemik is om koste te sny sonder om werksgeleenthede te laat verlore gaan.
Volgens Mouton is gesprekke hieroor met die Namibië Voedsel- en Verwante Werkersunie (Nafau) begin en sekere voorstelle oor afgeskaalde voordele is gemaak, wat nie aanvaar is nie.
Dit sluit in dat werknemers nie verhogings kry nie en ook nie vanjaar 'n 13de tjek kan verwag nie. Die aanbod was om in die komende jare die bonustjek aan prestasiebeoordeling te koppel.
Die ander besparingsmaatreël was om werknemers se kontantafslagvoordeel vir aankope by Pick n Pay te verminder, en om Sondagwerk deel van die sesdag-werksweek te maak.
Mouton wys daarop dat O&L “passievol oor mense” is en daarom alle moontlike pogings aangewend het om alternatiewe maatreëls te vind om die besigheid, sowel as soveel as moontlik werksgeleenthede te red.
Ná verskeie onderhandelingsrondes kon die partye mekaar nie vind nie. Dit het ingesluit die oorweging van die vakbond se teenaanbod, wat volgens Mouton nie die gewenste besparings tot gevolg sou hê nie.
Hy sê die werknemers het deur hul vakbondverteenwoordigers en Nafau die maatskappy se voorstel van die hand gewys en gekies om eerder die afleggingsroete te volg.
Volgens Mouton beteken dit meer as 500 werknemers gaan hul werk verloor.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie