Landbank se afgradering 'kan boere knak’
Die president van die TLU sê dit raak al moeiliker om ’n positiewe ingesteldheid oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika te hê.
Hanlie Stadler en Sarel van der Walt – Die afgradering van die Landbank tot rommelstatus kan die rente wat boere op hul skuld betaal, laat styg en dit kan “tot die ondergang van baie boere” lei, sê die landbou-organisasie TLU SA.
TLU SA voorspel ander staatsondernemings gaan ook deurloop onder kredietafgraderings nadat Moody’s Investors Service die Landbank Dinsdag tot rommelstatus afgegradeer het.
Die afgradering “is net die begin van finansiële uitdagings wat die landbousektor vanjaar sal knou”, sê TLU SA.
“Dit raak al hoe moeiliker om ’n positiewe ingesteldheid oor die toekoms van landbou in Suid-Afrika te hê,” sê Louis Meintjes, president van die TLU SA.
“Boere sukkel om kop bo water te hou weens plaasveiligheid, onbillike arbeidswette, veesiektes, droogtes en beperkte uitvoergeleenthede weens die swak ekonomiese klimaat, maar nou word hulle selfs dieper in die skuld gedompel deur ’n afgradering van die Landbank, wat krediet aan die meeste boere verskaf.”
Moody’s het die Landbank in November 2019 onder hersiening geplaas.
Die uitwerking daarvan is dat die Landbank self meer rente sal moet opdok op die geld wat hy leen, wat op sy beurt sal meebring dat die rentekoers van sy kliënte – hoofsaaklik boere – sal styg.
“Vir TLU SA is dit soos ’n bykomende dolksteek in die hart dat die Landbank – wat in 1905 gestig is op versoek van TLU SA – in sy mandaat kan misluk weens voortdurende wanbestuur en bes moontlik verantwoordelik sal wees vir die ondergang van baie boere.”
Op sy beurt sê Agri SA hy bevraagteken die stand van korporatiewe bestuur van die Landbank.
Moody’s se afgradering van die bank is ’n bewys van die ongesonde stand van sake by die bank.
Hy reken die afgradering is ’n terugslag vir groei en transformasie in die landbousektor. Dit behels regstreekse gevolge vir landbou, met ’n wyer negatiewe invloed op die ekonomie.
“Die landbou is siklies van aard en talle boere verdien nie ’n vaste of gereelde inkomste nie. Hulle verdien die grootste gedeelte van hul inkomste in die kort tydperk wanneer hul produkte verhandel word (wat kan verskil na gelang van die produk),” sê Agri SA in sy verklaring.
Toegang tot krediet by onder meer die Landbank is noodsaaklik om aan boere se kontantvloeibehoeftes (byvoorbeeld die betaling vir insette en arbeid) gedurende die jaar te voldoen.
“Boere sal tipies hul skuld betaal wanneer hulle geoes het.”
Weens klimaatsverandering en gepaardgaande droogtetoestande is baie boere tans onder groot druk.Benewens boere het talle landbou-ondernemings ook hul leningsboeke aan die Landbank verkoop en só die bank se rol in die landboukredietstelsel vergroot.
“Dit beteken dat boere wat produksiekrediet via dié landbou-ondernemings verkry, se kostes kan verhoog,” sê Agri SA. “Agri SA doen ’n dringende beroep op die raad en die bestuurspan van die Landbank om ’n omkeerstrategie in plek te sit wat ’n totale inploffing van die instelling kan teenwerk.”
DA: Ramaphosa se belofte aan skerwe
Die DA-LP Annette Steyn beskryf die Landbank as die “jongste slagoffer van die ANC se voortslepende mislukking met die bestuur van belangrike staatsondernemings”.
“Dit behoort ’n sterk boodskap aan die ANC-regering te stuur dat as ons nie moeilike besluite in die belang van die mense en die ekonomie neem nie, sal ons nie die ekonomie regmaak nie.”
Steyn sê pres. Cyril Ramaphosa het op 20 Junie 2019 in sy staatsrede aangekondig R3,9 miljard is aan die Landbank toegewys. Die DA het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en plattelandse ontwikkeling, gevra waarvoor die geld gebruik gaan word en of die vordering met van elke program wat geld kry, behoorlik gemonitor word.
“Die minister moet nog op dié belangrike vrae antwoord. In die lig van die katastrofiese afgradering tot rommelstatus, moet ons dringend ingelig word of enige deel van die R3,9 miljard wel aan die bank gegee is en of dit behoorlik bestee is op die aangewese programme.
“Ramaphosa se belofte van ’n ‘landbou-revolusie’ wat Suid-Afrikaners sal bemagtig om landbougrond doeltreffend te bewerk, sal een van sy talle verbreekte beloftes blyk te wees, aangesien die entiteit belas met die finansiering van landbou-ontwikkeling, die transformasie van die landbousektor en die handhawing van voedselsekerheid ’n enorme knou toegedien is.”
Steyn sê die regering moet erken dat die afgradering van die Landbank nie die skuld is van die droogte nie, maar van korrupsie en ’n gebrek aan visie.
Moody’s het die Landbank tot rommelstatus afgegradeer weens die vrees dat die regering dalk nie dié staatsonderneming sal red indien nodig nie.
Moody’s het ook sy vooruitsig oor die Landbank se gradering na negatief verander.
“Die afgradering weerspieël Moody’s se evaluering dat die voortgesette fiskale probleme van die staat daarop dui dat die regering meer selektief gaan wees met watter steun hy aan staatsondernemings gee,” lui ’n verklaring.
“Die gradering van die land toon die wesenlike risiko dat die regering nie die agteruitgang in sy finansies kan stuit met ’n herlewing van ekonomiese groei en maatstawwe vir fiskale konsolidasie nie.
“Enige verswakking in die regering se kredietprofiel of sy bereidwilligheid om die Landbank te ondersteun, kan lei tot ’n afgradering.”
Boonop is die Landbank ook in moeilike bedryfstoestande bedrywig en sukkel hy om ’n permanente uitvoerende hoof aan te stel. “Dit plaas druk op sy finansiële vertoning en beleggersvertroue.”
“Hoewel Moody’s erken die bank het stappe gedoen om sy korporatiewe bestuur te versterk in die lig van die algemene fokus op staatsondernemings, is die uitgerekte afwesigheid van ’n permanente uitvoerende hoof kommerwekkend.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie