Landbank se resultate toon hoe sukkel boere
Dié SA bank sê hy bly trots op sy veerkragtigheid te midde van uitmergelende tye, maar die vure brand op verskeie fronte vir hom.
William Horne – Die Landbank se winste het meer as gehalveer weens die agteruitgang van landbou in Suid-Afrika.
Die Landbank het Dinsdag sy finansiële resultate vir die boekjaar tot einde Maart uitgereik. Hy het ’n wins van R130,6 miljoen aangeteken teenoor R278,7 miljoen in die vorige boekjaar.
Die bank het Dinsdag in ’n verklaring op sy webwerf gesê hy bly trots op sy veerkragtigheid te midde van sulke uitmergelende tye, maar die vure brand nou op vele fronte vir hom.
Veral die daling in die waarde van sy bates en ’n enorme toename in die wanbetaling van lenings het die Landbank swaar getref.
Die waarde-afskrywings het meer as ses keer vermeerder tot R324 miljoen (R55 miljoen in die 2018-boekjaar).
Slegte lenings het toegeneem tot 8,8% van alle lenings (6,7% in die vorige boekjaar). Veral die droogte in Noordwes raak dié persentasie, sê die Landbank.
Hy het tans uitgereikte lenings van altesame R45,2 miljard.
Die Landbank sê in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens die omvang van skuldafskrywings “getuig van die uitdagings waardeur die sektor in die gesig gestaar word”.
Tot 2017, toe dinge net begin herstel het van die landwye droogte van 2016, het die Landbank baat gevind by boere wat meer geleen het om hul tekorte aan te vul.
Ná nog twee jaar se droogte in onder meer die Wes-Kaap en in wat die Landbank beskryf as enorme inkrimpings in die landbousektor oor die afgelope jaar, is daar min kapasiteit oor vir platsak boere om te leen.
Die voortslepende droogtes is ’n hoofdrywer van die 4,2%-inkrimping in die landbou in die tweede kwartaal van 2019 wat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag aangekondig het, sê die Landbank.
Dié syfer volg op ’n reeds verwoestende jaar.
In die eerste kwartaal het die sektor met 13,2% gekrimp nadat dit met onderskeidelik 13,7% en 7,9% gegroei het in die derde en vierde kwartale van 2018. Dié groei was egter nie genoeg om die skade van die eerste helfte van 2018 te herstel nie. In die eerste en tweede kwartaal van verlede jaar het die landbousektor met onderskeidelik 33,7% en 42,3% gekrimp.
Die Landbank sê ook hy is beduidend aan die beleërde suikerreus Tongaat Hulett blootgestel. Dit het ook ’n invloed op sy inkomstestaat gehad.
Die inkomste uit sy lenings het in die afgelope boekjaar met 27% verswak tot R876 miljoen.
Verder het die bedryfsinkomste van sy bankdienste met 25% gedaal tot R730 miljoen.
Sy balansstaat het nie so swaar soos die inkomstestaat gekry nie danksy die herstrukturering van sy laste nadat hy oor kwessies soos grondonteiening sonder vergoeding bekommerd geraak het.
Die Landbank sê sy koste-tot-inkomsteverhouding het tot 57,1% verbeter omdat hy van sy eie skuld vroeër afbetaal het. Dit het hom wel boetes op die hals gehaal, maar dit is ’n meer volhoubare vlak.
Die bank se kontantposisie het ook beduidend verbeter en met 36% toegeneem tot R3,2 miljard.
Sy totale bates staan nou op R50,4 miljard teenoor R47,7 miljard in 2018.
“ ’n Sterk balansstaat is ’n teenwig vir ons inkomstestaat en weerspieël ons vermoë om vinnig en doeltreffend te kan reageer,” sê die Landbank.
“Ons likiditeit bly uitstekend en ons toegang tot finansiering sit sy positiewe neiging voort.
“Ons waardeer ons beleggers se vertroue, veral in die konteks van ander ondernemings in staatsbeheer.
“Net ’n paar jaar gelede was sulke steun en vertroue van ons beleggers betreklik skaars.” – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie