Landbou en die nuwe verbruiker
Landbou en die nuwe verbruiker

Landbou en die nuwe verbruiker

Gedragsverandering beteken waardeketting moet aanpas
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - Die reaksie van die sakewêreld en ondernemings, soos in die geval met regerings en verbruikers, wissel na gelang daar vordering is met die navigering van die heropbou noudat die pandemie onder beter beheer kom.

Dít blyk uit ‘n onlangse verslag deur strategiekonsultante McKinsey & Company getiteld: “How consumer-goods companies can prepare for the next normal”.

Die verwagte veranderings in verbruikersgedrag is veral belangrik omdat maatskappye dit moet verreken in nuwe strategieë.

In die verslag word vyf sogenaamde kapstokke uitgewys vir oorweging by strategie-ontwikkeling. In die eerste plek sal daar deeglik kennis geneem moet word van groter pryssensitiwiteit by verbruikers. Die ekonomie druk en beursies is plat, maar verbruikers het ook bewys dat hulle toenemend beter voorbereid wil wees vir die onbekende deur ‘n vorm van Josefsbeleid. Daar moet geld beskikbaar wees vir die onvoorsiene.

Aanvanklik was die voorsiening net ten opsigte van kos met bewyse daarvan in die aankooppatrone. Spense is waar moontlik gevul met niebederfbare kos en daar is begin met van aankoopkanale te verander. Namate die inperkings opgehef is, het die vraag na vars produkte skerp begin styg, maar met ‘n noemenswaardige groter klem op higiëne. Aanlyn aankope van kruideniersware in terme van die fasilitering, het gestalte gekry, maar verbruikers se aanlyn aankope was hoofsaaklik beperk tot niekruideniersware. Verskaffers moes roer om hul sake in orde te kry.

Die tweede aspek van belang is digitale gereedheid van beide verbruiker en verskaffer, want daar was ‘n beduidende toename in digitale handel; ook wat bederfbare produkte betref. Aflewering van die aanlyn aankope van vars groente en vrugte groei vinnig. Die tendens was wel sigbaar in gegoede dele/lande, maar binne die Suid-Afrikaanse opset kom daar nie genoeg hiervan ter sprake nie. ‘n Te groot deel van die bevolking het gewoon nie toegang tot sulke geriewe nie en beklemtoon juis die impak van die swak oordeel van die regering om verskaffing van groente en vrugte via die informele sektor so lank in te perk. Terselfdertyd wys dit op die verantwoordelikheid om sulke gebiede uit die doodloopstraat van agtergelewendheid te kry, naamlik deur daardie kanale beter te ondersteun. Die digitalisering van wat nou nog as informele kanale beskou word, is uiters noodsaaklik. Dit sal ‘n nuwe dimensie gee aan die verskaffing van voedsel wat nie net boere sal bevoordeel nie, maar beslis sal bydra tot huishoudelike voedselsekerheid.

Die derde been van hierdie herskikking ten opsigte van hoe die verbruiker bedien moet word, vloei voort uit die groter klem op gesondheid en higiëne. Te lank is daarmee weggekom aangesien voedsel beskikbaar gestel word aan mense wat net kan koop wat hulle kan bekostig en nie wat hulle werklik nodig het nie.

Die konstruksiewerker wat elke dag ‘n brood en ‘n liter melk koop, gee nie aandag aan die sogenaamde “sell by” of “best before” datum op die brood nie. Namate die verbruiker se vermoë om te kan koop, herstel, sal hierdie aspekte meer aandag moet kry – veral tot die mate wat sulke inligting kosteverhogend kan wees en nie werklik verbruikersgedrag beïnvloed nie.

Die vierde en seker belangrikste verandering word beskryf as “nesting at home”. Verbruikers het die voorreg om tuis te kan wees, te herontdek en om self weer kos te maak, het nuwe betekenis gekry. Die tendens was veral sigbaar as mens kyk na leë winkelrakke waar meel vir eie gebak gereeld uitverkoop is. Die nuwe uiteet is om self die kos te maak!

In die laaste instansie word daar gewys op die herdefiniëring van handelsmerke. Die verbruiker gaan anders verbind met handelsmerke en gaan ander verwagtinge hê. Maatskappy wat wil staatmaak op ou, geagte waardes van hul handelsmerk, sal twee keer moet dink.

Die verslag gee vervolgens ook aandag aan hoe besighede sal moet aanpas, want veranderings binne die verskaffingskanale is onafwendbaar. Daar word verwag dat die kanale kan verminder ná konsolidasie en dat kleinhandelaars wat bykomende waarde bied, die pas van ontwikkeling sal aangee. Digitale bemagtiging van al hoe meer verbruikers sal vervolgens ook noodsaaklike veranderings afdwing.

Verbruikers kan dus uitsien na opwindende nuwe maniere om aan hulle vereistes te voldoen. Hulle moet net oopkop bly.

Net so sal die landbousektor ook moet byhou.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!