Landbou kan ekonomiese herstel aanvuur
Landbou kan ekonomiese herstel aanvuur

Landbou kan ekonomiese herstel aanvuur

Covid-19 bring dalk nuwe, noodsaaklik balans
Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher – Sowat anderhalfjaar nadat die pandemie sy loop geneem het, is daar duidelike tekens van herskikking. Aanvanklik was alle ingrypings daarop gemik om sterftes te beperk.

Die doelwit was deurgaans om die koers van besmetting af te bring en te laat daal – dus om groeikurwes platter te kry. Opvolgende vlae van besmetting met nuwe variante het mens laat voel asof die stryd nooit gewonne sal wees nie en vir baie lande is die stryd nog ver van oor.

Saam met die kurwe van besmetting was daar ‘n gelyklopende kurwe vir die ekonomiese skokke met ekonomieë wat tot stilstand geruk is. Beide kurwes moes aandag kry, maar die een voor die ander. Die red van lewens is aanvanklik as van groter belang geag as lewensonderhoud soos werksgeleenthede, ekonomiese ontwikkeling ensovoorts. Nou is die pleidooi om die een te doen en die ander nie na te laat nie. Kenners is dit eens dat ekonomieë die inherente herstelvermoë het om globale ekonomiese groei van meer as 4% te behaal. Indien bedryfsleiers egter die regte vooruitsigte identifiseer en oordra by wyse van implementering, kan daar meer as dié groeitoename in die ekonomie moontlik word. ‘n Verenigde siening sal egter tot gevolg hê dat die globale ekonomie te min en te stadig sal groei.

Covid-19 het veranderings afgedwing in die bestryding van die aanvanklik progressiewe groei van beide voorafgenoemde kurwes. Terwyl die Covid-19-pad gebou is, moes almal daarop loop en baie ompaaie was eenvoudig aan die orde. Soos met enige strategiese disoriëntasie moet daar nou herbesin word. Normalisering van wat ontwrig is, sal onmiddellike positiewe gevolge hê sonder dat tegnologie ingespan hoef te word om produktiwiteit te lig. Intussen moet daar anders gewerk word. Vir eers is gate in gesondheidsorgstelsels uitgewys, welke gate onmiddellike aandag moes kry (beveg die sterftekoerskurwe se styging). Die blywendheid van dié verstellings is gereeld getoets deur opeenvolgende vlae van nuwe variante. Dit was duidelik dat pleisters plak op ou wonde nie volhoubaar was nie. Net so is die onderwysstelsel beproef en waarvoor al baie jare gepleit is, moes eenvoudig nou gebeur. Dié en ander veranderings moet en het gelei tot onomkeerbare gedrag en dit is hier waar leiding nodig is.

Indien ons al die eksterne skokke moet verwerk tot implementeerbare strategie op plaasvlak, geld ‘n tregtertaktiek. Wat buite die plaas se grensdrade gebeur, moet verwerk word om af te tregter tot werkbare grondvlakplanne. Met planne wat werk in die hand, kan samewerking vervolgens vanaf die plaashek tot die verbruiker regtens afgedwing word. Boere moet in beheer bly van hierdie hefboomvermoë en saamstaan om sterker te word. Hulle was uiteraard ook uitgelewer aan die wisselwerking van die bestuur van die genoemde twee kurwes, maar moes hoofsaaklik maar vrede maak dat beleidmakers die toon aangegee het. Dit was nie noodwendig ‘n fout nie, want daardeur kon die landbou sy spreekwoordelike huis in orde kry. Die sektor het wel gely onder die impak van hoe die pandemie uitgespeel het en daardie terugslag is nog nie verby nie, maar die “spelers” kan uitrus op die reserwebank.

Nou word landbou in die veld gestoot en indien nie, behoort landbou hom staan te maak om die ekonomie te help omkeer. Gegewe die inherente optimisme van ‘n boer, sal dit ‘n fout wees as regerings daardie vaardighede miskyk en/of onderskat.

Die landbousektor is die beste geposisioneer om sy hefboomvermoë nou te gebruik om veral die ekonomiese skokkurwe om te keer tot een van realiseerbare groeiverwagtinge.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer