Landbou lu00ea die fondasie vir groei
Landbou lu00ea die fondasie vir groei

Landbou lê die fondasie vir groei

Boerderye voed mikro-ekonomieë op dorpe
Ronelle Rademeyer
Dr. Kobus Laubscher – Ons moet ondanks die onmiddellike geveg om oorlewing te midde van die ongekende vlaag van infeksie, perspektief behou. Alhoewel die ekonomie kruppel is vanweë die uitgerekte stryd met ‘n virus waarvan die impak daagliks ‘n nuwe dimensie kry, moet noodsaaklike stutte vir ekonomiese heropbou identifiseer en bevestig word. Soos wat die gesondheidsorgstelsel se grense daagliks getoets en verskuif word, moet wat ekonomies haalbaar is, dapper en selfs onverskrokke getoets word.

Die bestaande gesondheidsorgstelsel is tekenend van stelsels wat uitgedien kan wees, maar vanweë die gebrek aan werklik ontwrigtende gebeure soos wat ons tans beleef, polities gepoleer kon word om dit te laat lyk na iets wat werk. Dieselfde geld ander ondersteunende stelsels in die ekonomie. Verby is die dae van die ooglopende miskyk van gebreke wat voorgehou word as synde dit werk.

Klein dorpies wat verval is ‘n afgeleide van vele faktore. Die verval van gebrekkige infrastruktuur, wat meer is as paaie waarlangs goedre vervoer word vervoer, moet vierkantig in die oë gekyk word. Landelike ontwikkeling in Namibië is onlosmaaklik deel van enige ekonomiese heropbou. In hierdie verband speel die landbou ‘n kern rol.

Die mees doeltreffende manier om ‘n sukkelende ekonomie te herskik, is om volhoubaarheid van landbou op plaasvlak te komplementeer. Die resep is eenvoudig. Maak dit moontlik vir die Kamanjab-beesboer om op sy plaas te kan bly omdat hy wins maak uit sy boerdery. Dit vra behoorlike pryse vir sy beeste en mededingende pryse vir die insette wat hy vir sy boerdery moet aankoop.

Laasgenoemde is afhanklik van ‘n legio faktore, waaronder behoorlike logistieke stelsels en ‘n mededingende sakestruktuur om te verhoed dat die boer prysgewys uitgebuit word. Aan die pryskant van die boerdery moet pryse volhoubaarheid ondersteun, maar moet kommunikasie met markte tot so ’n mate betroubaar en intyds wees dat dieselfde boer se vertroue in die bedryf voltyds bevestig word.

Hy is en bly ‘n prysnemer, maar indien hy binne ‘n mededingende mark keuses het, sal sy entrepreneuriese gees sorg vir die res. Vir die mark om mededingend te wees, is beleidsekerheid en ‘n dinamiese beleidsomgewing ononderhandelbaar.

As alles meewerk en hom ondersteun tot so ’n mate dat hy wins maak, kan die boer sy diskresie gebruik. Wins beteken dat hy ook as werkgewer sy verantwoordelikhede kan nakom en dit dra so by tot ekonomiese oplewing. Sy werknemers is betaal en kan geld bestee op Kamanjab en in die omgewing. Sodoende kry daardie mikro-ekonomie brandstof en word dit bygetel by wat reeds deur die boerdery bestee is aan insette en ander logistiek soos om die beeste by die mark te kry.

Dit behoort die begin van ‘n ekonomiese groeirevolusie te wees, want nie buitengewone of bykomende kapitale beleggings van die fiskus behoort te vra nie.

Met ‘n dinamiese ontwikkelingsprogram soos hierbo beskryf, kan die regering ’n ander rol speel. Regerings kan te midde van fiskale druk hulle bydrae gebruik om normale ekonomiese aktiwiteite met landbou as oorsprong, tot voordeel van die bruto binnelandse produk te laat meewerk. Die neiging om parallelle strukture te probeer finansier is doodgebore en sulke inisiatiewe sal meer produktief wees as daar geen geld daarvoor bewillig word nie.

Regerings het sosiale verantwoordelikhede soos om geld beskikbaar te stel vir sosiale beskerming, maar heel dikwels kry dié hulp ‘n politieke geur wat onder druk onvoorspelbaar reageer.

Ekonomiese bemagtiging, vry van politieke dienstigheid, is die nuwe normaal en fiskale herposisionering met landbou as die senior vennoot, is die aangewese voertuig.

Kommentaar

Republikein 2025-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer