Landbou steier
Landbou steier

Landbou steier

Afrika se kleinskaalboere, wat tot twee derdes van die bevolking in Afrika suid van die Sahara voer en van werk voorsien, is die ergste geraak.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die sluiting van dienste soos hotelle, restaurante en verwante dienste het landbouers in Afrika besonder hard getref.

Dit, omdat dié sluitings tot ’n verlies van spesifieke teikenmarkte gelei en enige kosverkope drasties laat afneem het. Dit het ook daartoe gelei dat die produksie en verwerking van voedsel erg ontwrig is.

Volgens ’n verslag deur die Afrika-unie (AU) oor die impak van Covid-19 op Afrika wat onlangs uitgereik is, bedreig die pandemie veral kleinskaalse of bestaansboere, wat op sowat 80% van alle plase in Afrika suid van die Sahara beoefen word en wat van landbou as lewensbestaan afhanklik is.

“’n Voedselkrisis gaan waarskynlik volg en landbouproduksie sal na verwagting tussen 2,6% en 7% krimp – solank daar handelstruikelblokke is,” waarsku die AU.

Sowat 175 miljoen mense in Afrika suid van die Sahara is werksaam in landbou en tot 80% van landboubedrywighede in Afrika word op kleinskaal beoefen. Tog voer en bied die kleinskaalse boerderye werk aan twee derdes van die bevolking, terwyl dit 62% van landbougrond bewerk.

“Kleinskaalse boere is besonder kwesbaar vir sulke uitdagings,” het die AU geskryf.

“Die informele handel van kos is ’n groot bron van inkomste in talle Afrikalande, veral onder vroue. Boonop maak dit tot 70% van huishoudelike aankope uit.”

VERMORSING

Inperkingsmaatreëls op grense het tot die vermorsing en verliese van voedsel gelei, terwyl dit ook tot arbeid- en verskaffingstekorte, ’n vermindering in die invoere en uitvoere van kommoditeite en wisselvalligheid in pryse aanleiding gegee het, sê die AU.

In die verslag word geskryf dat totale inperkings of beperkte werksure in lande waaronder Burkina Faso en Zimbabwe, waarskynlik tot ernstige voedseltekorte gaan lei – veral in die kosverwerkingsektor.

“Die ekonomiese uitwerking, tesame met die ontwrigting van landbou se voedselverskaffingskettings (weens arbeidstekorte, vervoer- en beweegbaarheidsprobleme), verhoog die risiko vir groter voedselonsekerheid, veral in lande waar kos ingevoer word,” is geskryf.

VOEDSELINVOERE

“Voedselinvoere kan met tussen 13% en 25% krimp as gevolg van hoër transaksiekoste en ’n verminderde plaaslike vraag daarna.”

Afrika is sterk afhanklik van voedselinvoere en volgens die Afrika Ontwikkelingsbank, is die vasteland se voedselrekening jaarliks sowat N$35 miljard. Na verwagting kan dit tot N$110 miljard teen 2025 styg.

“Daarom is dit belangrik om landbou se voedselproduksiestelsels werkend te hou – om ’n voedselkrisis te voorkom en mense te help om voort te gaan om ’n bestaan te maak. Dit kom daarop neer dat boere ongehinderd toegelaat behoort te word om te boer, handelaars moet kan handel dryf en verkopers moet kan verkoop.

Die AU sê navorsing het bewys dat lande wat grootliks op landbou steun, meer veerkragtigheid vir herstel as ander in dié tye toon.

“As tydige stappe nie geneem word nie, kan die voortbestaan van kleinskaalse boere maklik ontspoor word,” waarsku die AU.

EKONOMIE

Die AU is van mening dat Afrika op die regte pad was om sy indrukwekkende ekonomiese prestasies tot op volhoubare vlakke te neem, toe die pandemie toegeslaan het.

“Dit is toe vinnig in die ergste ekonomiese, maatskaplike en humanitêre krisis omskep,” meen die AU.

Die AU se department van ekonomiese sake, asook die Afrika-unie se kommissie is deur lidlande versoek om die omvattende verslag saam te stel oor die impak van die pandemie en gepaardgaande inperkings op die vasteland.

Hiervolgens sal Afrika se ekonomiese groei in 2020 – in ’n optimistiese scenario – op -2,1% staan. In ’n meer pessimistiese scenario kan dit selfs -4,9% wees. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer