Landboubegroting minder as gehoop
Landboubegroting minder as gehoop

Landboubegroting minder as gehoop

Sowat N$1,3 miljard is aan landbou en grondhervorming bewillig, terwyl N$929 miljoen vir die watersektor geoormerk is.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die minister van landbou, water en grondhervorming, mnr. Calle Schlettwein, sê die toekenning van altesaam N$2,2 miljard (of N$ 2 266 591 000) aan die landbousektor vir die 2020-’21-boekjaar is ver minder as waarop gehoop is.

Hy het bygevoeg openbare en private beleggings in landbou het van 4,6% tien jaar gelede tot 3,6% afgeneem.

Schlettwein het onlangs tydens sy motiveringstoespraak vir dié ministerie se begroting gesê landbou bied die beste geleenthede om die ekonomie te help herstel, werk te skep en om die land selfvoorsienend in kosproduksie te maak.

Dit is omdat die sektor tot soveel as 70% van die Namibiese bevolking onderhou en ook die grootste werkverskaffer is.

Hy het egter gesê die beskikbare geld moet so doeltreffend as moontlik aangewend word.

Meer as die helfte van die ministerie se begroting, of N$1,3 miljard, sal aan landbou en grondhervorming gaan, terwyl sowat N$929 miljoen (of N$ 929 177 000) vir die watersektor geoormerk is.

Laasgenoemde sluit N$80 miljoen in wat tydens die Covid-19-pandemie vir watersubsidies toegestaan is.

WATER

Die minister sê die watersektor staar ernstige uitdagings in die gesig en dat die finansiële behoefte om watertekorte te bekamp, sowat N$3,6 miljard oor die volgende twee tot vier jaar sal wees.

Die geld word benodig vir projekte soos die opgradering van die Gammams-waterherwinningsaanleg wat die hoofstad van water voorsien, asook vir kragverskaffing om water vanaf die Kombat-Berg Aukas-skema te bekom en die opknapping van die Von Bach-pompstasies.

Verder is die geld nodig om waterverskaffing aan kusgebiede te verseker, asook op plekke in die Noorde.

“Vir die projekte is ’n bedrag van N$1,8 miljard van die Afrika-Ontwikkelingsbank geleen, wat ‘n tekort van nog N$1,8 miljard laat. Vir die komende jaar word N$360 miljoen van die regering benodig, waarvan net N$73 miljoen bewillig is,” het Schlettwein gesê.

Schlettwein sê die ministerie beoog verder om vanjaar die land se waterinfrastruktuur op te gradeer en nuwes aan te skaf, terwyl die bestuur van huidige bronne, asook oorgrenssamewerking oor watersake, moet verbeter.

“Ander ontwikkelingsinisiatiewe, soos studies om ontsoute water na Botswana te vervoer of ‘n gesamentlike konstruksieprojek met Suid-Afrika vir die Noordoewer/Vioolsdriftdam, word ook opgevolg,” sê die minister.

“Onderhandelinge oor die instelling van 'n gesamentlike bedryfsowerheid met Angola vir die Calueque-skema op die Kunenerivier is bykans voltooi.”

LANDBOU

Schlettwein het verduidelik van die geld wat aan die landbousektor bewillig is, sal 36% vir ontwikkelingsprojekte gaan, terwyl die res, of 64%, vir bedryfskoste geoormerk is.

Ontwikkelingsprojekte waarop die ministerie gaan fokus, sluit in om die gehalte en gesondheid van lewendehawe noord van die veterinêre kordonheining te verbeter sodat marktoegang bewerkstellig kan word.

Dit behels die verwydering van die kordonheining, asook die bou van ‘n heining op die grens tussen Namibië en Angola.

“Die N$15 miljoen wat hiervoor bewillig is, is egter nie genoeg om te begin met die bou van ‘n grensheining wat vee kan keer en langer as 450 km is nie. Gegewe dié situasie, beplan die ministerie om planne van stapel te stuur om die negatiewe uitwerking van die kordonheining uit te skakel,” het Schlettwein gesê.

Hy het aangedui dit kan gedoen word deur die ontwikkeling van onder meer ‘n beeswaardeketting, die verbetering van dieregesondheid en -bemarking vir die noordelike kommunale gebiede.

Nasionale groenskemas het 37,6% van die geld wat hiervoor benodig word, uit die begroting ontvang, terwyl die droëland-gewasproduksieprogram N$22 miljoen, of 62,8% van sy beraamde koste ontvang het.

Geen fondse is bewillig vir die vee-herbestokkingskema om boere ná die droogte te help nie, ook nie vir die bou van voerkrale of die skep van siektevrye-veesones in noordelike kommunale gebiede nie. Die geld hiervoor sal van elders moet kom.

Vir grondhervorming en die aankoop van ‘n verdere 1,7 miljoen hektaar vir hervestigingsdoeleindes, is N$116 miljoen bewillig, waarvan sowat N$10 miljoen gebruik sal word om steun aan reeds gevestigde hervestigingsboere te bied.

AgriBank sal die medefinansierder hiervan wees.

Bykomende planne sluit in die voltooiing van die Rundu-abattoir en -vleisverwerkingsfasiliteit, asook die by Ongwediva en die bou van die Bukalo-vleisverwerkingsaanleg en opgradering van die Opuwo-abattoir.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!