Landbousektor verbind hom tot voedselbank
Landbousektor verbind hom tot voedselbank

Landbousektor verbind hom tot voedselbank

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die landbousektor is gereed om hulp met die voedselbank aan die regering te verleen, maar het ook hul kommer oor onder meer druk op die bedryf weens die droogte en nuwe uitvoervereistes vir vee na Suid-Afrika uitgespreek.
President Hage Geingob het gister met onder meer verteenwoordigers van die landbousektor vergader en gevra dat die sektor hom daartoe sal verbind om met die voedselbank te help.
Hy het landbouprodusente, verteenwoordigers van die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibiese Akkerbouraad (NAB), die Vleisraad van Namibië asook die Namibië Landbou-unie toegespreek en gesê die proses van voedselverskaffing aan behoeftiges sal reeds teen die einde van vandeesmaand begin.
Volgens die Harambee-plan sal die werklose jeug in die vorm van straatkomitees die voedselbank bestuur en dienooreenkomstig vir hul werk vergoed word. Terselfdertyd sal hulle onder meer aangesê word om te sorg dat die strate waarin hulle werk, skoon is en sekuriteit help bewerkstellig.
Die private sektor asook handelaars sal gemotiveer word om deur middel van vrywillige skenkings deel van die program te vorm. Die doel is om die proses reeds teen die einde van vandeesmaand te begin.
Die eerste voedselbank moet tussen Junie en die einde van die jaar in Windhoek van stapel gestuur word, terwyl nog ses ander takke binne die Harambee-tydperk landwyd begin sal word. Sowat 115 mense in Katutura is reeds as deel van die program opgelei.


LANDBOU GEWILLIG, MAAR ONDER DRUK
Die voorsitter van die Vleisraad, me. Patricia Gurubes, het gesê hulle bied hul volle steun aan om seker te maak dat niemand honger gaan slaap nie. Sy het ‘n skenking van vleisprodukte beloof.
Gurubes het ook ernstige kommer uitgespreek oor die nuwe, strenger uitvoervereistes van vee na Suid-Afrika en gesê dit sal die meeste landbouprodusente, veral kommunale boere en bokboere, ernstig knou.
“Die Vleisraad vra dat ingetree word en dat die kwessie met die president se Suid-Afrikaanse eweknie opgeneem word. Namibië het ‘n uitvoermark vir sy lewende hawe nodig – veral tydens die huidige droogte.”
Mnr. Ryno van der Merwe van die NLU het hierby aangesluit en gesê die unie is bekommerd oor die finansiële situasie van landbouprodusente, veral dié in die noordelike kommunale gebiede waar droogte en die uitbreking van bek-en-klou-seer voorgekom het. Hy het ook gesê die NLU bied sy volle steun in die voedselbank-projek.
“Ons is egter bekommerd oor bemarkingsgeleenthede vir produsente, veral dié in kommunale gebiede. Die streng uitvoervereistes vir vee na Suid-Afrika gaan ‘n baie negatiewe impak op plaaslike produsente hê.”
Van der Merwe het ook gesê die NLU het besprekings oor die voedselbank met Windhoekse handelaars gehad, wat gesê het hulle is gereed om bystand te verleen.
“Ons het ook ‘n vergadering met biskop Zephania Kameeta, minister van armoede-uitwissing en maatskaplike welsyn, gehad om die praktiese uitvoerbaarheid van ‘n voedselbank te bespreek. Ons het ooreengekom dat die beste pad vorentoe moontlik sal wees om ‘n werkskomitee op te stel wat prakties na die kwessie sal kyk. Verkoelings-, verwerkings- en stoorgeriewe sal byvoorbeeld op afgeleë plekke benodig word,” het Van der Merwe gesê.
Die Akkerbouraad het gesê weens droogte en vloede oor die afgelope seisoen het akkerbouers verskeie struikelblokke ondervind.


NIEMAND MOET HONGER SLAAP
Geingob het gesê Namibiërs kan nie gelukkig wees as daar ander is wat saans honger gaan slaap nie en moet daar hande geneem word om die probleem die hoof te bied.
“Namibië het ‘n bevolking van net sowat 2,2 miljoen mense en het sekere hulpbronne wat beskikbaar is. Deur middel van voedselbanke kan verantwoordelikheid vir ongelykhede aanvaar word, kan ons verhinder dat met kos gemors word, korrupsie help voorkom en nasionale stabiliteit behou.
“Ons het verkeerd begin met die voedselbank – ons wou ‘n groot gebou, pakhuis en slaggeriewe bou, terwyl die doel slegs is om arm mense te help.
“Ons benader dus ook handelaars en eienaars van pakhuise om hulp, sonder dat ons noodwendig self duur pakhuise moet bou. Intussen sal van die pakhuis gebruik gemaak word waarin ons tans kos vir droogtehulp stoor.”
Die voormalige Kubaanse ambassadeur in Namibië, mnr. Angel Dalmau, het gesê ’n begin is reeds met ‘n projek in die Tobias Hainyeko- en Samora Machel-nedersetting in Windhoek begin, wat as van die behoeftigste gedeeltes in die land geïdentifiseer is.
“Individue is reeds opgelei om kwesbare gesinne te identifiseer wat minder as N$400 per persoon per maand verdien en nie genoeg kos het nie. Die individue sal ook verantwoordelik wees vir die verspreiding van kos in hul gemeenskappe,” het Dalmau gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!