Landdroste streef na beter
Landdroshowe is onder groot druk weens agterstande, personeeltekorte en verouderde stelsels.
Augetto Graig
Die weeklange jaarvergadering vir landdrosse vanoor die hele Namibië het gisteroggend by die Safari Hotel in die hoofstad afgeskop.
Die voorsitter van die landdroskommissie en hoërhofregter, me. Claudia Claasen, sê ondanks groot druk waaronder landdrosse in Namibië geregtigheid moet lewer, moet hulle nie ophou hoop nie. “Ons mag nie hoop verloor nie,” sê sy.
Die tema van die 2020-vergadering is “Die veranderende gesig van die landdrosregsbank, balansering van onafhanklikheid en aanspreeklikheid.”
In die toespraak deur hoofregter Peter Shivute, voorgelees deur regterpresident Petrus Damaseb, is omvattend gepraat oor die struikelblokke wat Namibië se landdrosse moet oorkom. “Ons moet ons herverbind om die gety van lae vlakke van prestasie in ons distrikshowe te keer,” sê die hoofregter.
Oor die hooftema sê Shivute “nakoming van geregtelike etiek en die integriteit en aanspreeklikheid van regterlike beamptes moet verbeter, om openbare geloof in die regstelsel te versterk.”
Die hoofregter sê hy neem kennis van die aantal leë poste by verskeie distrikshowe. “Die ontoereikendheid van personeel het ernstige gevolge op toegang tot geregtigheid, aangesien die handjie vol regsbeamptes net ’n sekere persentasie van die werklading in die howe kan hanteer, en nie in die behoefte aan geregtigheid van die meerderheid van ons mense, veral op die platteland, kan voldoen nie,” sê hy.
Hy doen ’n beroep op spoedige aanstellings in poste waarvoor begroot is.
Om die groot agterstand in sake by landdroshowe landswyd te bekamp, word ’n strategie deur ’n komitee onder leiding van hooflanddros Philanda Christiaan uitgevoer, sê hy. Die proefprojek is in September 2019 in Oshakati en Windhoek begin, maar word weens vertragings deur Covid-19 tot in die komende finansiële jaar verleng, sê hy.
Hofsake ouer as 12 maande word hierdeur geprioritiseer en beslisings word gelewer in lyn met ’n agterstandsplan wat spesifiek vir elke hof uitgewerk is – nóg meer rede vir die aanstelling van meer landdrosse, sê hy.
“Die strategie verg nou die behoorlike opsporing van hangende, afgehandelde sake,” sê hy.
Shivute sê die delegering van die verhoor van skeisake na streekshowe sal die werklading in die hoërhof verlig. Die kantoor van die regbank werk ook met die ministerie van justisie om die vlak van dringendheid te verhoog van sake wat op distriks- of streekshofvlak aangehoor kan word, sê hy.
“Nog ’n inisiatief is om ’n hof vir klein eise tot die regstelsel voor te stel. Met toepassing sal dit toegang tot geregtigheid, teen kleiner koste vir die gemeenskap verbeter,” sê hy.
Namibiese howe omhels ook nou digitalisering. “Die regstelsel neem die nodige stappe om hofprosese op alle vlakke te vereenvoudig, te versnel en meer deursigtig te maak, deur die aanneming van moderne tegnologie,” sê Shivute. Die verwagting is die elektroniese saakbestuurstelsel sal ook ’n gedigitaliseerde hofrekordstelsel behels, sê hy.
Die minister van justisie, me. Yvonne Dausab, het die belangrikheid van beskikbare, bekwame landdrosse beklemtoon.
Sy het aan die landdrosse gesê: “Die gebruik van die wet is ’n hulpmiddel tot maatskaplike geregtigheid en om ons samelewing te hervorm. As mense praat van die regstelsel wat bloei, bedoel hulle dat hul kwessies onbeantwoord bly. Moenie bang raak as mense protesteer en julle aanspreeklik wil hou nie. Ons is dienaars van die mense en dit is hul reg. Julle is ’n belangrike deel van die hervormingsproses.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie