Landerye onder water

Andrew Poolman
Tanja Bause



’n Boer in die Grootfontein-omgewing, mnr. Wimpie van Rensburg, sê hy het vir die reënseisoen gemeet vanaf November reeds bykans 800 mm reën gemeet. Net gedurende verlede week se aanhoudende reën is 160 mm bygevoeg.

“In die jaar tevore het ons die hele reënseisoen 632 mm gemeet. Die huidige reënseisoen is nog nie klaar nie en as dit so aanhou, verwag ek dat ons oor die 1 000 mm sal ontvang. In dié seisoen was elke maand se totaal die meeste reën wat ek nóg hier op my plot gemeet het.”

In die seisoen 2018-2019 het Van Rensburg by die 500 mm gemeet. Vir die 2017-’18-seisoen het hy by die 300 mm gehad en die seisoen tevore weer so by die 500.

Van Rensburg boer vir die afgelope vyf jaar op Lushof op die Shamalindi-plotte, sowat 12 km buite Grootfontein.

“Hier is baie plotte, plase en lande wat onder water is. Oral waar jy kyk, staan water. Baie van die landerye is onder water. My sorghumlandery is onder water en talle mielie- en ander landerye is onder water. ’n Buurman se aartappels het versuip.”

Die mielies wat hy geplant het, het ook versuip en hy moes hulle met die hand van nuuts af plant, omdat die landery te deurdrenk vir ’n trekker was.

“Die mielies het nou weer mooi opgekom en die laaste paar dae se sonskyn doen wondere.”

Volgens Van Rensburg is daar talle fonteine wat vir die eerste keer in talle jare weer uitgeloop het.

“Hier naby my plot is nou ’n fontein wat ek nie eens geweet het bestaan nie. Ons is baie bly oor die reën. Dit is baie goed om die grondwater aan te vul en dit is seker die rede hoekom so baie fonteine oral opduik. Die Otavi-fonteine het ook baie water en die water loop steeds soos ’n rivier onder deur die hoofpad tussen Otavi en Grootfontein.”

Me. Ellie Lottering het op sosiale media ’n video van ’n fonteinoog in die Otavi-berge geplaas.

Volgens ’n plasing op Agriforum-Namibia se Facebook-blad het die fontein ná ’n wolkbreuk twee Vrydae gelede in die omgewing opgeduik. Talle ander fonteine is op die D2828-pad sowat 8 km buite Otavi op die Grootfontein-pad te sien. “Fonteinoë het ook in die berge langs die Otavi-vallei oopgegaan. Dit is ’n gesig wat ’n mense net in baie baie goeie reënjare beleef.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer