Landwye tekort aan chroniese medikasie
Alle terapeutiese klasse van medikasie word geraak.
Henriette Lamprecht
Daar is omtrent nie ’n kwaal wat nie geraak word deur die landwye tekort wat tans aan medikasie in die land ondervind word nie.
Volgens mnr. Willie van Wyk, besturende direkteur van die farmaseutiese groothandelaar Geka Pharma sluit dit die volle spektrum en alle terapeutiese klasse van medikasie in. Veral in chroniese medikasie word reusetekorte ondervind, insluitend medikasie vir hoë bloeddruk, skildklier en diabetes. Internasionaal dui die literatuur daarop dat mense met diabetes en ander metaboliese siektes in die hoërisikogroep is om komplikasies vir Covid-19 te ondervind.
Ook is daar tekorte in van voorbehoedmiddels en entstowwe tot chemo.
Ja, die prentjie lyk baie donker vorentoe, maar van die medikasie het sedert verlede week wel begin inkom, sê Van Wyk.
“Daar is definitief ’n verbetering in voorraad wat inkom. Probleme word steeds by die grens ondervind met inspeksies op voorraad wat langer duur,” het hy gesê.
Hy het verwys na die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (ITAC) wat op 28 Maart vanjaar nuwe regulasies uitgevaardig het vir die uitvoer van sekere medikasie en wat ook handreinigers en maskers ingesluit het. Dié betrokke medikasie was onderhewig aan die uitreik van ’n Itac-permit wat sewe tot tien dae kon duur.
“Daar was nie duidelike riglyne nie en die kommissie en rolspelers in die bedryf was nie seker vir watter produkte dit geld en watter dokumente ingedien moet word nie.”
Die hulp van die ministeries van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS), sowel as van handel en nywerheid is ingeroep om volgens Van Wyk die probleem op te klaar.
“Die Itac-gedeelte het redelik verbeter, maar toe kom die vereiste goedkeuring van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) by. Al ons verskaffers wag vir SARS-goedkeuring.”
Volgens Van Wyk moet die verskaffer ’n permit en faktuur hê van die voorraad wat uitgevoer moet word voordat SARS die groen lig vir uitvoere gee. ’n Brief is intussen aan die Namibiese ministerie van finansies gerig in ’n poging om die kwessies met hul eweknie in Suid-Afrika te probeer oplos.
Met verwysing na die invoer van medikasie uit lande buiten Suid-Afrika sê Van Wyk met internasionale vlugte wat gekanselleer is, is dit nie so maklik om uit ander lande in te voer nie.
“Daar is byvoorbeeld nie direkte vlugte nie en padvervoer het ook logistieke probleme.”
Intussen het me. Anthea van Wyk van die Namibiese Vereniging vir Private Gesondheidsgeriewe (Naph) ook bevestig gewone chroniese medikasie is landwyd nie beskikbaar nie. Van die verskaffers sit volgens haar ook sonder 50% van hul voorraadlyne.
“Diabetes-medikasie is nie in die hele land beskikbaar nie,” het sy gesê. Ook word entstowwe en voorbehoedmiddels deur die tekorte geraak.
Die Namibiese Onkologiesentrum (NOC), waar Van Wyk as hoofbestuurder betrokke is, word ook ernstig deur die tekorte geraak.
“Baie van ons chemo kom nie en natuurlik word ons pasiënte beïnvloed.”
Volgens Van Wyk is die vereniging in gesprek met MoHSS en die ministerie van finansies om ’n oplossing te vind.
MoHSS se uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, het by navraag gesê ’n verklaring sal in die verband uitgereik word. Teen druktyd was dit egter nog nie beskikbaar nie.
Volgens een koerantleser moet sy daagliks medikasie vir haar bloeddruk en skildklier neem.
“Sonder my pil vir my skildklier sal my organe ingee en ek sal doodgaan. Meer mense sal aan chroniese siektes doodgaan as aan Covid-19,” voorspel sy. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie