Lang afstande kniehalter inentingsveldtogte
Lang afstande kniehalter inentingsveldtogte

Lang afstande kniehalter inentingsveldtogte

Die aantal kinders wat by geboorte ingeënt word, neem plaaslik en wêreldwyd af.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Lang afstande na verafgeleë gebiede, entstowwe wat koud gehou moet word en die “enorme las van siektes” soos MIV/vigs, tuberkulose en malaria is van die grootste struikelblokke in die pad van suksesvolle immuniseringsveldtogte in Namibië.

Volgens prof. Clarissa Pieper, ’n pediatriese neonatoloog, het die land ook ’n tekort aan mediese geriewe en word dit deur die wêreld as ’n middelinkomsteland geklassifiseer.

“Dit beteken ons kan nie immunisasies gratis of teen minimale koste bekom nie. Die entstowwe wat ons in die staat gebruik, is dieselfde as in die private sektor en daar kos een inenting meer as 'n N$1 000,” het sy verduidelik.

Pieper, wat plaaslik op ’n hoëvlak- nasionale komitee dien wat die negatiewe effekte van immunisering ondersoek (Aefi), sê onder die “hoër sosioëkonomiese bevolking” is daar weer ander probleme.

‘Barbaars’

“Baie ma’s en pa’s voel dis barbaars om hul kinders seer te maak. Dan hang die storie van outisme, wat deur die MMR-entstof veroorsaak word, ook nog oor ons. Dit is as pure snert en geldmaak afgemaak, maar daar is baie sterk anti-inentingsgroepe wêreldwyd en selfs van ons plaaslike vroedvroue wat moeders aanraai om nie te laat inent nie,” het Pieper gesê.

Dit beteken “hulle ry op die rug van dié kinders wat ingeënt is” en is diegene wat siektes laat voortbestaan.

Pieper het gemaan dis belangrik om die uitwerking van entstowwe in die wêreld te sien.

“Net die oumense het nog ‘n pokke-inentingletsel, niemand is in die laaste 50 jaar daarteen ingeënt nie, so dit ís moontlik om ’n siekte uit te roei.”

Pieper verwys voorts na die term “community remembering”.

“Die meeste jong dokters het nog nooit polio gesien nie. Ons as ‘n gemeenskap vergeet die mense in die ‘ysterlonge’ wat so volop tussen 1940 en 1960 was.”

Pieper het voorts verwys na verskeie eise van ouers teen die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste vir skadevergoeding nadat ’n kind ná ’n inenting dood is.

“Wat my bitter bang maak, is dat al die negatiewe publisiteit uiteindelik veroorsaak dat die deel van die bevolking wat dit die nodigste het, nie vir die inspuitings gaan nie, en dat ons (soos in Amerika en Engeland) uitbrekings van siektes kry met ’n gebrek aan mediese dienste.”

Volgens Pieper is dit “’n bietjie soos openbare gesondheid”.

Polio feitlik uitgeroei

“Dis ‘n ramp vir die een kind wat siek word, maar die duisende wat gesond bly, word nie getel nie.”

Volgens haar word “steeds op moeders gewag om hul kinders te bring”.

“Ek vermoed sommige van die kinders wat ná ’n inenting dood is, is vir mediese hulp na die kliniek gebring en nie net vir ’n inenting nie.”

Sy is seker baie kinders in die land word by geboorte ingeënt, maar dié getalle neem egter plaaslik en wêreldwyd af “soos wat die kinders groter word en minder klinieke bywoon”.

“Dis ook nog nie roetine vir ons dokters en verpleegsters wat na ’n siek kind omsien om die gesondheidsboekie te ondersoek en seker te maak die kind word ingeënt nie. Dit word te dikwels aan die kliniek oorgelaat.

“’n Ander probleem is veldtogte teiken dikwels die stede, crèche’e en skole waar baie kinders maklik ingeënt kan word. Maar weer bly die verafgeleë skole en kinders agter.”

Sy maan die koste van ’n uitgebreide veldtog moet ook in ag geneem word.

Volgens Pieper is daar sekere inentings wat “uitsprei”, soos polio en pokke.

“Wanneer jy een baba inent, sal die baba vaksientipe polio aan al die kontakte versprei.”

Daarom sê Pieper was dit redelik moontlik om dié siekte uit te roei.

Dit kom egter steeds voor in plekke soos Afghanistan en Pakistan waar geloofsgroepe inenting met geweld onderdruk, asook in oorlogsones en waar bevolkings ontwortel is.

“Vir masels het ons ’n dekking van 96% nodig. Die entstof is baie gevoelig vir temperatuur, wat beteken jy moet almal inent om dekking te kry. Ons gee op nege maande al die eerste een en op 18 maande weer, omdat die eerste een nie voldoende is nie.”

Tog sien hulle steeds “redelik baie” masels in Namibië.

“Die probleem is natuurlik ook dat diagnoses gemaak word sonder bewyse soos bloedtoetse en dat nie alle gevalle aangemeld word nie.”

Nadoodse ondersoeke

Met verwysing na die komitee waarop sy dien, sê Pieper inligting word van klinieke, lykshuise en die media ontvang. Mense word uitgestuur om onderhoude met die ouers en verpleegpersoneel te doen.

“Ons versamel data oor die entstowwe wat gebruik is, kontroleer die cold chain en kyk na ander pasiënte wat dieselfde lotnommer ontvang het.”

’n Vergadering volg en waar nodig word spesialiste geraadpleeg. ’n Verslag word saamgestel en met die permanente sekretaris van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste bespreek.

“Ons maak ook ’n afspraak met die ouers as dit moontlik is, sou hulle verkies om die saak te bespreek.”

Volgens Pieper het die komitee ook ’n nasionale aanmeldingsvorm en word gepoog om nadoodse ondersoeke op al die slagoffers te doen, wat toksikologie en ander bloed- en weefselstudies insluit.

“Die komitee is deur die minister aangestel en bly van krag.”

Komiteelede sluit buiten dokters ook verteenwoordigers van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) asook personeel in beheer van immunisasies in.

Pieper verwys na die stelsel om die nadelige uitwerking van inentings aan te meld (VAERS).

Hiervolgens beskryf 85 tot 90% van die verslae matige newe-effekte soos koors, ’n seer arm of matige prikkelbaarheid.

Die oorblywende persentasie word as ernstig geklassifiseer, wat beteken die nadelige uitwerking het tot permanente gestremdheid, hospitalisasie, ’n lewensbedreigende siekte of selfs die dood gelei. Hoewel laasgenoemde ná ’n inenting kan voorkom, is dit selde deur die entstof veroorsaak.

Ongelukkig, sê Pieper, kom dié gevalle meestal deur “die media en sekere regspersone” na vore.

‘Probleem met patoloë’

Sy erken daar was vroeër “’n groot probleem met patoloë” en ’n anti-inentingsgroep wat deur ’n plaaslike forensiese patoloog, dr. Yury Vasin, gelei is oor die aantal sterftes ná inentings in Namibië.

“Hy was nie ’n opgeleide patoloog nie, maar ’n mediese dokter en het inenting as ’n rede vir sterftes geïdentifiseer voordat enige patologiese of toksikologiese data bekend was.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!