Lang vonnis vir Stoop-moordenaars
Lang vonnis vir Stoop-moordenaars

Lang vonnis vir Stoop-moordenaars

Die meisie van die 78-jarige mnr. Koos Stoop en haar medebeskuldigdes gaan lank vir sy moord moet boet.
Denver Kisting
Denver Kisting – Agt jaar nadat mnr. Koos Stoop (78) wreed aan die hand van sy minnares en twee broers dood is, is sy moordenaars die afgelope Donderdagoggend gesamentlik effektiewelik tot 54 jaar tronkstraf gevonnis.

Die drietal is in Februarie vanjaar daaraan skuldig bevind dat hulle dié bejaarde Windhoeker wreed in sy woonstel beroof en vermoor het.

Dít kom nadat Stoop se eertydse minnares, die 34-jarige Nelsiene Kauaria, en die broers Erwin (ook 34) en George Katjingisiua (36) aanvanklik skuld op dié grumisdade ontken het.

Vir haar aandeel in die moord moet Kauaria met 20 jaar in die tronk boet, terwyl die broers tot onderskeidelik 16 en 18 jaar in aanhouding gevonnis is.

Regter Alfred Siboleka het hulle elkeen tot ‘n aanvullende tydperk van 12 jaar gestraf weens roof met verswarende omstandighede.

Op aanklag van poging tot roof het die regter hulle voorts vir nóg ses jaar elkeen gevonnis.

Die regter het egter gelas dat ál die vonnisse gelyktydig uitgedien moet word.

Die staat het suksesvol aangevoer dat Kauaria en die twee broers meer as agt jaar gelede – tussen 28 en 29 Augustus 2009 – vir Stoop in sy woonstel in Cimbebasia, ‘n woonbuurt aan die suidelike buitewyke van die hoofstad, beroof en vermoor het.

Ten tye van die moord, wat destyds skokgolwe deur die land gestuur het, was Kauaria in ‘n romantiese verhouding met Stoop betrokke.

Regter Siboleka het bevind Erwin het vir Stoop vermoor terwyl George hand bygesit het. Volgens hom het albei bedoel om Stoop om die lewe te bring.

Die minnares, wat tydens Donderdag se vonnisverrigtinge oudergewoonte keurig uitgedos was, was teenwoordig toe die Katjingisiua-broers die misdade gepleeg het.

Trouens, het regter Siboleka bevind, sý was die meersterbrein agter die plan om Stoop te beroof hoewel sy hom nie fisiek help vermoor het nie.

Tydens die verhoor het die hof gehoor Erwin het vir Stoop met ‘n mes toegetakel om hom te probeer dwing om die ligging van ‘n beweerde sak geld in die woonstel te onthul.

Kauaria het haar met dié aanval vereenselwig, het Siboleka bevind.



Erwin het verlede jaar beken Kauarie het drie dae voor die voorval hom met haar plan genader. Dít kom nadat hy ook vroeër ewe onskuldig gepleit het.

Hy het naas die mes ook vir Stoop met ‘n skroewedraaier bygekom om die geld in die hande te probeer kry. Uiteindelik het hulle net N$50 in die hande gekry. Van die beweerde groot som geld was daar geen sprake nie.

Erwin het voorts getuig Kauaria het die woonstel gefynkam op soek na die geld terwyl hy vir Stoop geteister het.

Stoop is uiteindelik weens versmoring dood nadat ‘n stuk van ‘n geskeurde T-hemp in die bejaarde man se mond gedruk is.

Die rowers en moordenaars is uiteindelik met net ‘n televisiestel, ‘n motorradio en ‘n haarsnymasjien daar weg.

Adjunk-aanklaer-generaal Antonia Verhoef het namens die staat aangekla terwyl Kauaria deur mnr. Louis Karsten verteenwoordig is.

Mnr. Braam Cupido het namens George opgetree en mnr. Monty Karuaihe het vir Erwin verdedig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!