• Tuisblad
  • Sport
  • Langes uit Namib ontbied om Proteas te help blom
Langes uit Namib ontbied om Proteas te help blom
Langes uit Namib ontbied om Proteas te help blom

Langes uit Namib ontbied om Proteas te help blom

Krieket
Christo Buchner - Charl Langeveldt, die heraan­gestelde boulafrigter van die Suid-Afrikaanse krieketspan, was met vakansie in die Namib-woestyn in Namibië toe hy sien hy het 'n oproep van Graeme Smith gekry.

“Ek het nogal gedink dit is vreemd, want ek het lanklaas van hom gehoor. Toe ek hom kontak, het hy my die pos as boulafrigter aangebied.

“Sake is binne enkele dae beklink en ek het deur die nag teruggery om Donderdag aan te meld vir die eerste oefening,” het Langeveldt die afgelope Vrydag in Centurion gesê.

Agter die skerms moes Jacques Faul, die nuwe waarnemende uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika (KSA), ook vinnig spring om met Bangladesj se krieketraad te onderhandel sodat Langeveldt, wat hul boulafrigter was, toestemming kon kry om die Proteas by te staan.

Dié eertydse tronkbewaarder meen die boulers het op die onlangse toer na Indië nie die paaltjies genoeg getref het.

“Die belangrikste taak in die reeks teen Engeland gaan wees om uit te werk wat die beste manier sal wees om 20 paaltjies te neem. Ek sal teruggaan na my notaboek oor KG (Kagiso Rabada),” sê Langeveldt, wat die Proteas se boulbreier was toe Rabada die opgang gemaak het na die wêreld se voorste toetsbouler.

“Daar is 'n baie fyn lyn wat gehandhaaf moet word. Aan die een kant wil ons hom beskerm voor die reeks, maar aan die ander kant moet hy genoeg boul sodat hy vóór die eerste toets sy ritme herwin. Hy het enkele dubbele oefensessies ingesit en ons wil nou genoeg boulbeurte in sy bene kry voor die eerste toets,” sê Langeveldt.

“Ek wil ook energie en aggressie van die boulers sien, maar dit moet beheerste aggressie wees en daar moet slim te werk gegaan word,” sê hy.

Wat die Engelse boulaanval betref, sê hy dit is interessant dat Jofra Archer met die Kookaburra-bal sukkel, maar hy glo tog dié eertydse Windie sal saam met Jimmy Anderson en Stuart Broad 'n gevaarlike sneltrio wees.

Langeveldt meen die tuisspan sal wel met 'n draaier, Keshav Maharaj, moet speel, “want daar sal gewis draai op die laaste twee dae wees”.

In die geheel lyk dit of die reeks egter een gaan wees waar vuur met vuur beveg moet word tussen die twee snelaanvalle, sê hy. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer