Langpad-troebadoer
Die derde boek in die reeks “Discovering the secrets of Namibia” het pas verskyn en die skrywer – in murg en been ’n avonturier – het met Republikein oor sy liefde vir reis gesels.
Ronelle Rademeyer - Die Windhoeker Johan Snyman (56), siviele ingenieur, reisiger en skrywer, het al sowat 26 keer om die aarde gery.
Nie letterlik nie, maar met die aarde se omtrek 40 075 km en die kilometers wat hy as deel van sy “amptelike” reise geklok het reeds op 1 060 000, is dít die som.
Die derde boek in sy reeks van reisgidse oor Namibië, Discovering the secrets of Namibia: North-Eastern Namibia, het pas verskyn. Om dié omvattende, 470-bladsye gids saam te stel, het hy tussen Mei 2013 en Desember 2017 sowat 60 000 km in die uitgestrekte noordoostelike deel van Namibië afgelê. In dié tyd het hy 79 nagte in sy daktent op van die mooiste en mees afgeleë plekke in die land oornag.
Hierdie is die mees omvattende en volledigste gids oor dié 214 000 km²-gebied wat Hereroland, Boesmanland, die Khaudum, die Kavango en die Zambezi insluit.
Net soos sy vorige twee reisgidse oor Kaokoland en Damaraland, bevat dit al die inligting wat voornemende reisigers nodig het om ingeligte besluite te neem wanneer hulle hul reise beplan.
Altesaam 16 800 km se paaie en roetes word beskryf en die boek word met 1 600 volkleurfoto’s geïllustreer.
Só gesels hy oor sy lewe, sy werk en sy groot passie:
Vertel vir ons meer van jouself
Ek het in Durbanville in die Wes-Kaap grootgeword en het in 1979 aan Durbanville Hoërskool gematrikuleer.
Ná my diensplig het ek siviele ingenieurswese gaan studeer en aanvanklik by die Kaapse provinsiale administrasie se paaiedepartement gewerk. Daarna het ek vir 22 jaar as projekbestuurder op munisipale infrastruktuurprojekte by die destydse streeksdiensteraad op Stellenbosch gewerk voor ek aan die einde van 2010 as ingenieur by die Windhoek-munisipaliteit se departement vir paaie en stormwater aangestel is.
Jy het al meer as ’n miljoen km afgelê. Wanneer het jy met jou verkenningstoere begin?
Ek verken al van kleintyd af die wêreld om my, want ek wou nog altyd weet wat anderkant die horison lê. Ek het in 1994 begin boek hou, en rekord hou, van die reise wat ek onderneem het en het van Junie 1994 tot Junie 2016 een miljoen kilometer op toere gery.
Sedertdien het ek nog so 60 000 km bygesit. Dit sluit nie die meer as 100 000 km wat ek met die fiets gery het, die paar 1 000 km wat ek op voetslaanroetes gestap het, en die meer as 1 000 km wat ek al met ’n kayak geroei het, in nie.
Watter lande het jy al besoek?
Uit die aard van die saak Suid-Afrika, waar ek op die meeste paaie in die Noord-, Suid- en Wes-Kaap gery het. Ook Namibië, waar ek op elke geproklameerde pad in die land asook op feitlik elke tweespoorpaadjie noord van Windhoek gery het. Verder het ek ’n klein bietjie van Botswana, Kenia, Madagaskaar, Zambië en Zimbabwe verken.
Hoe en wanneer het die behoefte ontstaan om jou reise te dokumenteer en reisgidse saam te stel?
Ek het jare gelede begin dagboek hou omdat ’n mens so maklik detail vergeet van die goed wat jy gedoen en beleef het, asook van die plekke waar jy was. My rekordhouding het begin verander toe ek my eerste rekenaar in 2000 gekoop het en digitale kamera’s meer bekostigbaar en die kwaliteit van hul foto’s beter geword het.
Op skool het ek ’n Engelsonderwyseres, juffrou Gina Mantel-Bohr, gehad en om ’n opstel vir haar te skryf, was geen geringe taak nie. Die ding moes nagevors en met prentjies geïllustreer word en dit was dus nie iets wat jy “gou” die oggend kon aframmel en ingee nie. Ek het dit destyds gehaat, maar het sedertdien al honderde “illustrated essays” geskryf.
Met die verbetering in internettoegang en die koms van e-pos (mens kan jou vandag amper nie indink dat dit nie altyd daar was nie), het dit baie maklik geword om jou wedervaringe met ander mense te deel. Verskeie artikels oor my toere is ook in tydskrifte soos SA 4x4, Weg, WegRy en Land Rover Africa gepubliseer.
Soos meer mense my toerdagboeke en artikels onder oë gekry het, het die navrae vir inligting na die plekke wat ek besoek het, ook begin toeneem. In daardie stadium was ek ook ’n gekwalifiseerde toergids in Suid-Afrika wat mense oor naweke op 4x4-roetes en ander wildernisgebiede begelei het. Ek het ook so een tot twee keer per jaar vriende begin saambring as ons in Namibië kom toer het.
In 2008 (Paasnaweek) was ons in Damaraland toe die wêreld oorstroom het. Mense van Argentinië het my kort daarna gevra om hulle in 2009 Kaokoland toe te neem. In Augustus was ons in Kaokoland toe vriende wat so 1 km agter my gery het, my gevra het of ek dalk weet watse boom hulle so pas verbygery het. Ek het dadelik aan die Argentyne gedink, want hulle sou ’n antwoord op so ’n vraag verwag. Ek het toe ’n lys gemaak van al die algemene plante, voëls, soogdiere ensovoorts in die gebied en ’n dokument met prente daarvan saamgestel met die idee dat dit die meeste van hulle vrae sou kon beantwoord.
Barnie Louw, in daardie stadium die redakteur van die WegRy-tydskrif, het die dagboek van die Damaraland-avontuur onder oë gekry en my gevra of hulle ’n artikel daaroor kon doen. Tydens ons gesprek het die dokument wat ek vir die Argentyne saamgestel het, asook die roetebeplanning wat ek vir ander mense gedoen het, ter sprake gekom en hy stel toe voor dat ek ’n boek oor die Kaokoland skryf omdat daar so min inligting oor die gebied beskikbaar was.
Die boeke wat ek tot nou geskryf het, volg dieselfde “resep”. Die grootste gedeelte van die boek gaan oor al die “die” onderwerpe – die ligging, die klimaat, die topografie, die basiese geologie, die algemene fauna en flora, al die paaie in die gebied, die besienswaardighede, ensovoorts. Dan is daar ook ’n gedeelte oor voorbereiding en die aanbevole roetes.
Die boek oor die Kaokoland, Discovering the secrets of Namibia: Kaokoland, het in Maart 2011 uitgekom. Dit is opgevolg deur Discovering the secrets of Namibia: Damaraland in Maart 2013 en is op sy beurt opgevolg deur die nuutste boek, Discovering the secrets of Namibia: North-Eastern Namibia in Maart 2018.
Waar is jou boeke beskikbaar?
Ek het die boeke self uitgegee, sonder enige borgskappe of finansiële bydrae van ander partye. Ek versprei die boeke self en kan ’n boek na enige adres in die wêreld stuur. (Kontak hom by [email protected])
Op Swakopmund is die boeke beskikbaar by die Swakopmunder Buchhandlung en by die Muschel.
In Windhoek is dit by Bushwhackers, Namibia Book Market, The Book Den en Windhoeker Buchhandlung beskikbaar.
Hoe lank het jy aan die nuutste boek gewerk?
Ek het in 2013 aan die boek begin werk, maar werk het in Mei 2014 tot stilstand gekom toe my vrou, Adri, uit die bloute met graad 4-borskanker gediagnoseer is.
Ek het weer in 2015 sporadies daaraan begin werk ná sy oorlede is. Die grootste gedeelte van die navorsingswerk was teen die einde van 2016 voltooi, maar soos die skryfwerk gevorder het, moes ek van tyd tot tyd weer die gebied besoek om inligting te bevestig of foto’s te gaan neem.
Die werk was uiteindelik in Januarie vanjaar voltooi. Bryony van der Merwe van Windhoek het vir my die redigering en uitleg gedoen en die boek is deur John Meinert Printing gedruk.
Adri was nie net jou lewensmaat nie, maar ook jou reismaat. Hoe het julle paaie gekruis?
Nadat ek my diensplig voltooi het, het ek nie gedink Namibië sou my ooit weer sien nie. Toe ontmoet ek vir Adri, wat hier gebore is. Ons het in Junie 1994 die Visrivier-canyon kom stap en van toe af het ons elke beskikbare oomblik in die land deurgebring.
Toe ons in Desember 2010 na Windhoek verhuis het, was dit die 59ste keer wat ek die land sedert Junie 1994 binnegekom het.
Fotografie was een van haar groot passies in die lewe en ons reise het haar die geleentheid gegee om allerhande interessante goed asook mooi landskappe en interessante mense af te neem. Sy het die meeste van die foto’s in die Kaokoland- en Damaralandboeke geneem en ook heelwat van dié wat in die nuutste boek te sien is.
Wat neem jy saam wanneer jy op jou verkenningsreise gaan?
’n Satellietfoon vir kommunikasie, ’n baie omvattende noodhulpstel, herwinningstoerusting en basiese gereedskap en onderdele. Dan natuurlik die twe GPS’e waarop ek die paaie karteer, ’n skootrekenaar, my kameras, notaboeke en veldgidse.
Wat is vir jou die heel lekkerste daarvan om op onbekende en afgeleë paaie te ry?
Die onbekende anderkant die horison. Ek wil dan juis weet wat daar te siene is!
Hoe beplan jy vooraf?
Omdat ek meestal op my eie, of net met een voertuig in die wildernisgebiede rondry terwyl ek die navorsingswerk doen, is ’n rugsteundiens en die vermoë om te kommunikeer uiters noodsaaklik.
Roetebeplanning is baie belangrik, maar in my geval was dit redelik moeilik omdat baie van die paaie nie op kaarte aangedui was nie en ook nie op lugfoto’s gesien kon word nie aangesien dit deur bome verberg word.
Ek het letterlik die kaart stuk-stuk van ’n kant af begin inkleur, want dit was al manier om die werk op ’n gestruktureerde manier aan te pak en seker te maak dat niks oorgeslaan word nie.
Wat is jou raad aan ander verkenners?
Gelukkig is hierdie gebiede nou gekarteer en is die paaie op Tracks for Africa se kaarte te sien. Dit bly egter steeds afgeleë en as iets gebeur, is jy ver van hulp af.
Dit is dus van uiterste belang dat jy behoorlike beplanning doen en ’n gebeurlikheidsplan het. Die vermoë om te kan kommunikeer, kan nie oorbeklemtoon word nie.
Wat beplan jy volgende?
Ek weet nog nie. Die aantrekkingskrag van die gebiede wat deur my drie boeke gedek word, is die onbekende wildernisgebiede waar wilde diere vrylik rondloop, daar bykans geen grensdrade is nie en jy grotendeels min mense teëkom.
Die oorblywende gedeelte van Namibië het meestal net geproklameerde paaie en oral is grensdrade. . .
Ek het ook nou ’n nuwe, ander fase van my lewe betree nadat ek toevallig ná Adri se dood my groot hoërskoolliefde van 38 jaar gelede weer raakgeloop het en die vonk steeds daar was.
KASSIE
Skryf in en wen sy boek
Een gelukkige leser kan Snyman se nuwe reisgids wen. Om in te skryf, stuur ’n faks na 061 223721 met die volgende inligting daarop:
Vir Aandag: Ronelle Rademeyer
Onderwerp: Inskrywing vir Reisgids-kompetisie
Verstrek u naam en van, asook u selfoonnommer en e-posadres.
Inskrywings sluit Maandag 16 April om 17:00. Die gelukstrekking sal Dinsdag gedoen word en die wenner sal daarna in kennis gestel word.
Die wenner moet die boek by Republikein se kantoor in Eros afhaal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie