Langstrand: Basta met partytjies!
Langstrand: Basta met partytjies!

Langstrand: Basta met partytjies!

'n Gebrek aan wedersydse respek veroorsaak konsternasie vir inwoners én besoekers.
Gerine Hoff
Otis Finck op Walvisbaai



Die inwoners van Langstrand het genoeg gehad.

Hulle moedig owerhede aan om standpunt in te neem teen oproerige partytjies en sommige besoekers se onbetaamlike gedrag.

Volgens hulle is besoekers hoofsaaklik die oorsaak van kwessies wat 'n groep permanente inwoners ontstel.

Rusverstoring en ander uitdagings is erger in vakansietye en volgens 'n inwoner van Walvisbaai plaas die eienaars van eiendomme die blaam verkeerdelik op die plaaslike bevolking.

“Mense ruk handuit. Hulle jaag, versteur die rus deur harde musiek in motors te speel, hou partytjies, skyn in die middel van die nag ligte in ons huise in en maak dit moeilik vir ons om 'n ordentlike nag se slaap te geniet,” het 'n inwoner gesê.

“Ons het niks teen mense op die strand nie, maar wel teen motors wat daar rondry. Sommiges gedra hulself regtig sleg. Veral as hulle onder die invloed van drank is, ry motoriste strandlangs om die padblokkade by Afrodite Beach te vermy,” het 'n ander gesê.

“Ons soek nie parkeer­areas, toilette en mense tussen ons huise nie. Die sluiting van die strand is nie 'n antwoord nie, aangesien dit nog altyd vir die publiek toeganklik was,” het hy gesê.



uitdagings

Kommer oor die moontlike sluiting van die strand is uitgespreek by 'n bespreking wat deur Walvisbaai se munisipaliteit gehou is. Daar is gesê vakansiegangers respekteer nie bestaande munisipale reëls nie.

Die bespreking, wat verlede Woensdag by die Narraville-gemeenskapsaal gehou is, het aan belanghebbendes die geleentheid gebied om kommer uit te spreek en voorstelle te maak oor hoe om die kwessie te hanteer.

Volgens 'n inwoner is vakansiegangers die grootste sondebokke wat rondjaag en raas betref.

Langstrand se inwoners is dit eens dat 'n gebrek aan beheer, die afwesigheid van wetstoepassers en regulasies wat nie toegepas word nie, die situasie vererger.

Spanning is verlede jaar veroorsaak toe inwoners versperrings opgerig het, sonder munisipale goedkeuring, wat vierwielmotorfietse en veldry in die omgewing verhoed het.

Hulle het ook 'n prokureur aangestel om hul saak by die munisipaliteit te stel.

Die munisipaliteit het daarna 'n taakspan onder leiding van hul hoofbestuurder, mnr. André Burger, aangestel om die kwessie aan te spreek en om 'n oplossing te vind.

“Dit is 'n uitdaging om die strande vir almal se plesier oop te hou.

“Met die verkoop van die grond het die munisipaliteit onderneem om nie mense se lewensgehalte te verlaag nie. 'n Gejaag op die harde pad is problematies en iets moet daaraan gedoen word. Ons moet ook die regulasies hersien om te verhoed dat mense te na aan huise verbyry,” het Burger gesê.

Hy het voorgestel dat toegang vanaf die suidelike punt van Langstrand beperk word en dat mense slegs van Dolfynstrand af kan inkom.

“Die kwessie van vierwielmotorfietse is deur nuwe wette opgelos. Die versperring van sekere gebiede het eintlik bygedra tot die probleme wat ons vandag beleef en ons moet fokus op gebiede waar toegang moontlik en veilig is.”



Beheer noodsaaklik

Die bestuurder vir gemeenskapsontwikkeling by die munisipaliteit, mnr. Piet van Niekerk, het gesê die munisipaliteit probeer sy bes, maar erken dit is nie genoeg nie.

“Die uitoefening van beheer is baie moeilik en maak dit bykans onmoont­lik om die probleem aan te spreek. Dit is duidelik 'n groter mag is nodig om die area te polisieer.”

'n Verteenwoordiger van die Namibiese kusbewarings- en bestuursprojek (Nacoma) het daarop aangedring dat ontwikkelaars nie toegelaat mag word om die lewenswyse van kusinwoners te beheer nie en het voorgestel 'n omgewingsoudit word gedoen.

“Daar is geen parkeerplek by Langstrand nie en die enigste manier om op die strand te kom, is om daarheen te ry. Die sluiting van die Langstrand-area sal 'n baie slegte voorbeeld stel. As dit gebeur, sal inwoners van Dolfynstrand en die Afrodite-ontwikkeling ook só maak en eis dat dieselfde vir hulle gedoen word,” het hy gewaarsku.

Mnr. David Uushona, ook van die munisipaliteit, het verduidelik 'n toename in kennisgewings wat die gebruik van vierwielmotorfietse en 4x4-voertuie reguleer en verbied, is by die strandarea gesien en dit wek kommer.

'n Petisie met meer as 500 handtekeninge is teen dié beperkings ingedien.



meer polisie

Die ondertekenaars het ook 'n beroep op die munisipaliteit gedoen om nie die poele in die omgewing te privatiseer wat gewoonlik vir kreefduik gebruik word nie.

Ander voorstelle wat gemaak is, sluit in die verwydering van heinings wat toegang versper, die moontlike hersiening van bestaande verordeninge en 'n groter polisieteenwoordigheid.

Huiseienaars het gevra vir die ontplooiing van bykomende wetstoepassers om die nakoming van wette te verseker. Hulle het voorgestel dat 'n bestuursliggaam aangestel word en dat heffings ingestel word om polisiëring te verbeter.

'n Voorstel is ook gemaak wat 'n beroep op die munisipaliteit doen om die konstruksie van parkeerareas, ablusiegeriewe en 'n ordentlike loopvlak te fasiliteer.

Die taakspan sal vergader om voorstelle te oorweeg en 'n tweede vergadering sal daarna gehou word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!