Lank gelede se voorjaar toe dit nog gereu00ebn het
Lank gelede se voorjaar toe dit nog gereu00ebn het

Lank gelede se voorjaar toe dit nog gereën het

Gerine Hoff
Op die skilderagtige roete wes van die Erongoberge het 'n bokwagter eens met sy kierie gewys dis ­stilhoutyd. Amper vinniger as sy groet was sy waarskuwing dat daar nie op die roete oor Ai-Aiba Omaruru toe deurgekom gaan word nie. Die reën was baie. Nie eens die groter riviere gaan gehaal word nie. Sommer die kleiner dwarslopies en die spruite gaan die motor voorkeer.

En ek het gesê dit maak nie saak nie. Hier in die voorjaar se Januarie en Februarie is daar baie om na te kyk en om aan te dink. Keer die water jou voor, was daar die wonder van die lewende woestyn. Dis 'n aangrypende drama sonder 'n spanningslyn. Die tonele op die skerm het binne 'n week of twee verwissel. Weg was nou die dag se geblêr van 'n boklam oor sy groter dors. Weg was die korhaan as die nuusdraer van die geweste met sy eerste hooftrek oor die droogte. Die video in swart en wit was nou in volkleur.

Weer het die herder gewaarsku van die diep hale in die aarde wat lyk of 'n monster van 'n tier dit met harde houe in die kliplandskap oopgevlek het. Lank gelede was dit glo storms soos die wat die klipeiers van die Bull's Parties laat rol het.

“Deur sal jy nie kom nie.”

“Ek ry”.

'n Vol sakelys moes binne 'n uur of twee afgehandel word. Pas agter was Usakos se haelstorm. 'n Entjie verder Werner van die Khomas Hochland en nog 'n skof verder na die suidooste se Herklaas van die Kalahari. Tussen die wolke en die reën deur het 'n flou boodskap deurgekom van die beproefdes van die Oranje met barssultanas op hul vloere as 'n teistering in hul oorvloed.

Pas die oggend was nog op 'n stoep van Usakos vertel van nou die dag se haelstorm. Die nooientjie het 'n kol tussen 'n duim en voorvinger getrek om te wys hoe groot die stene was. By my ongeloof gee die vinger 'n bietjie skiet om 'n nog groter water­bol te beduie. Sy wou nog skakel, maar was te bang. En sy het na die Khanrivier gewys. Nou was dit net 'n stroompie, maar annerdag was dit 'n massa met golwe wat soos 'n kuif oor alles gespeel het. Die stroom wissel in sy breedte, maar die afgelope weke was hy altyd daar.

Met Werner is destyds self geskakel. Hier in Desember nog was sy treurlied dat al kom reën dit ook nou, sal die gras nie groei nie, want daar's nie meer saad nie. Van die bietjie-bietjies het die saad in die najaar opgekom, maar toe in die November-son vergaan. Maar nou staan die kontrei soos 'n weiland. Die sny- en baalmasjien kan maar kom, want die groen het 'n kombers getrek oor waar daar nou die dag net klippe was. Juis die klippe het elkeen sy eie poeletjie gebou waar die water opgedam en die jong spriete op laat jaag het.

Juis 'n gerug van reën het 'n oproep na Herklaas van die Kalahari aangejaag. Net sy vriendelike Marie is op sy plaaslyn. Eers het haar vreugde gebruis omdat daar deurgekom is ná onderbrekings van 'n paar dae. Haar ingekerfde humor het gebly. Nee, het sy gesê, Herklaas is nie daar nie. Hy het sy boot gevat en oorgery na die buurplaas. Die twee boere wil nou 'n besigheid op 'n dorp begin. Dalk nog in die Noorde waar die afsetgebied groter is. Daar wil hulle sambrele, reënjasse en waterskoene verkoop. Gaan dit so aan dalk ook roei- en selfs motorbote.

Toe lag sy haar koggellag en roep haar Beste.

Vra dan verder in die rigting van die oewerboere van die Gariep.

Nee, daar word gewag op die water om 'n bietjie te bedaar. Die donkies sal eerste inkom om die vloedvlaktes met 'n ploeg te breek. Eers daarna sal die trekkers kan oorneem namate die rivier sy groen lig gee. Daar moet weer begin word.

En die uitnodiging vir 'n kuier kom. “As jy kan deurkom in die reën.”

Dis hoe dit al was.

Laat dit ook die wonder van Namibië in die voorjaar van 2017 wees.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer