Lüderitz ’n skatkis van juweeltjies

Die klein dorpie aan die einde van ’n doodloop bied iets vir almal.
Tanja Bause
Tanja Bause – Die Covid-19 pandemie en die wêreldwye hoktye en reisbeperkings het veral die toerismebedryf gedwing om buite die boks te dink.

Besluitnemers moes nuwe bemarkingstrategieë vir hul besighede, besienswaardighede en aanbiedinge uitdink en toepas. Hulle moes ook die plaaslike gemeenskappe begin oorweeg en hulself aan alle Namibiërs verkoop en Namibiërs na hul uithoek van die land lok.

Dit is presies wat mense in die toerismebedryf van Lüderitz gedoen het. Hulle het saamgespan en onder die slagspreuk “Lokal is Lekker, maar Lüderitz is Lekkerder” nooi hulle almal uit om die besonderse Suidedorpie te kom besoek.

Lüderitz is aan die einde van die hoofpad wat in Aus begin en na sowat 125 kilometer op die kusdorpie teen die Atlantiese Oseaan eindig. Baie Namibiërs dink die roete na net ’n enkele bestemming maak dit nie die moeite werd om Lüderitz te besoek nie. Vele Namibiërs dink Lüderitz is ’n vervelige dorpie in die woestyn met te veel aanhoudende wind.

Dit is hierdie denkwyse en mites wat “Lüderitz is Lekkerder” uit die weg wil ruim met hul spesiale pakkette wat tot einde Januarie 2021 vir Namibiërs geldig is. Die spesiale pakkette bly só lank geldig omdat niemand seker is wanneer die Covid-19 pandemie tot ’n einde sal kom sodat die landsgrense kan heropen nie.

Ingesluit by die groep is Obelix Guesthouse, Zeepaard Boat Tours, Namib Offroad Excursions se Elizabethbaai-toere, Coastways Tours Lüderitz se Pomona en Bogenfels-toer, Lüderitz Safaris & Tours se skiereiland- en stadstoer en die Portuguese Fisherman restaurant.

OBELIX GUESTHOUSE

Aan die stuur van die span is die stigter van die groep, Brenda Kotze van Obelix Guesthouse en Shark Island Airbnb.

“Ons het besef dat ons nie alleen deur hierdie krisis sal kom nie, maar as ons besighede saamstaan en ’n pakket uitwerk en aanbied om veral plaaslike mense hierheen te lok, kan ons dit maak werk.

“Ons wil besoekers ons ryk geskiedenis wys. Dit sluit in ’n besoek aan die Elizabethbaai-myn en spookdorp, ’n besoek aan ander spookdorpe en die bekende Bogenfels in. Hierdie toere is in die Sperrgebiet.

“Ons wil ook besoekers ons geskiedkundige dorp met sy ou koloniale geboue en natuurlik die skiereiland met ’n besoek aan byvoorbeeld Diazpunt wys. Die boottoer na die Halifax-eiland met sy kolonie brilpikkewyne is ook ’n moet. Lüderitz het baie wat ’n besoeker kan sien, geniet en ontdek wat ’n paar dae se oornag regverdig. Natuurlik het ons ook ’n uitstekende Portugese visrestaurant wat die varsste seekos direk uit die water bedien.”

Brenda het haar man Henning in Suid-Afrika leer ken terwyl sy toerisme by die technikon in Pretoria studeer het.

“My man was ’n plaasboer naby Aranos en ek het saam met hom soontoe getrek. Ek het ’n kampeerplek aangelê en ’n 4x4 roete aangebied sodat ek bietjie met toeriste te doen kon kry. Weens gesondheidsredes moes ons kus toe trek waar dit koeler was en so het ons Lüderitz toe verhuis. Dit is waar my man my drome bewaarheid het en ons het die Obelix Guesthouse oorgeneem. Ek het dit op 1 Februarie 2017 geopen. Ek is nou in my vyftigs en lewe my droom in toerisme uit.”

Die gastehuis het 16 kamers en kan 46 gaste akkommodeer.

BRILPIKKEWYNE

Elke oggend vertrek die Zeepaard katamaran met Heiko Metzger agter die stuur na Halifax-eiland waarop die grootste kolonie brilpikkewyne woon.

Die boot vertrek uit die hawe en ry verby Sharkeiland, Diaspunt en sy ligtoring tot by Halifax, waar die bedreigde brilpikkewyn sy tuiste het. Hier woon die enigste pikkewynspesies wat langs die kus van Afrika voorkom.

In 1846 het die eerste mense begin om die ghwano op dié en ander omliggende eilande te ontgin. Dié proses het tot 1949 aangehou.

“Daai tyd was die ghwano sowat ses tot agt meter diep en die pikkewyne het floreer. Hoe meer ghwano egter uitgehaal is, hoe meer het die pikkewynbevolking afgeneem. Pikkewyne het die ghwano nodig om holtes te grawe om hul eiers daarin te kan lê. Die holtes beskerm die eiers en kuikens teen die wind en weer en teen die roofseemeeue. Vandag is die ghwano net sowat 30 tot 40 cm diep, wat die eiers en kuikens baie blootgestel laat. Daar is nou net nog ’n geskatte 7 000 pikkewyne oor.”

Die ou geboue op die eiland wat nou deur die pikkewyne bewoon word, is oorblyfsels van die ghwano-myners en die plaaslike hoofman.

Hierdie is net ’n brokkie van die geskiedenis en interessante feite wat Heiko gedurende die reis vertel. Heiko self is in Swakopmund gebore en het op talle plekke in die land grootgeword voordat hy in 1986 as diamantduiker Lüderitz toe getrek het. Tien jaar later het hy, sy vrou en seun op ’n seilboot die Lüderitz-hawe verlaat om rustig om die wêreld te seil. Elf jaar en nog ’n seun ryker was hulle terug in Lüderitz en het hy met die Zeepaard-boottoere begin.

“So is ek nog steeds op die see, my eie baas en ek kan my liefde vir die kus, geskiedenis, pikkewyne en seevoëls met almal deel.”

ELIZABETHBAAI

Die ou myndorp is in die Sperrgebiet. Toergids Heinz Manns van Namib Offroad Excursions begin al vanaf Kolmanskop gaste oor die ryk geskiedenis van diamante inlig.

Sowat 45 kilometer vanaf Lüderitz lê die dorp wat in 1928 opgerig is. Binne die eerste nege jaar is sowat 1.25 miljoen karaat aan diamante gemyn. Ná die Eerste Wêreldoorlog het die myn tot stilstand gekom en eers ná die Twee Wêreldoorlog is daar weer probeer. Nadat 43 000 karaat diamante uitgehaal is, is die myn toegemaak omdat dit nie meer winsgewend was nie.

Heinz ry deur die spookdorp terwyl hy die uitleg, huise en geboue bespreek. Hy stop voor een van die familiehuise en deur die venster sien ’n mens op die muur ’n muurskildery van ’n palmboom.

“Die man het hier aangekom en begin werk. Hy het glo aan sy vriendin in Duitsland ’n brief geskryf en gesê sy moet met die volgende skip kom. Sy het hom geantwoord dat sy slegs sal kom as daar ’n strand met palmbome is. Hy het die verf laat kom, die palmbome en strand op die muur geskilder en vir haar laat weet sy kan kom. Sy was glo nie ingenome met die muur nie en het weer vertrek.”

Dit is net een interessante staaltjies wat hy vertel. Die toer en inligting oor die diamantmyn is insiggewend en laat ’n mens verstom oor wat inwoners daai jare reggekry het, hoe hulle ’n bestaan in die woestyn, wind en weer gemaak het.

“Natuurlik was daar ’n groot casino waar mense nie net kon ontspan nie, maar ook hulle swaarverdiende geld kon spandeer.”

Heinz se ouma en oupa het in Kolmanskop gewoon en sy oupa het op Elizabethbaai gewerk.

”Hulle het in 1945 vanaf Kolmanskop na Lüderitz getrek. Ek is op die dorp gebore en is ’n Buchter deur en deur. My kinders en kleinkinders is ook hier gebore; ons is nou al die vyfde generasie Buchters.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!