Le Clos glimlag breed oor dubbele driekuns
Swem
Tinus van Staden
Ná ''n baie donker jaar en swak Olimpiese Spele, kon Chad le Clos sy goue week in Kanada beswaarlik beter afsluit.
Le Clos het vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) geskiedenis gemaak toe hy die 50 m-vlinderslag by die kortbad-Wêreldkampioenskappe in Windsor, Kanada, in 21.98 sek. gewen het.
Nadat Le Clos verledeweek ook die goue medaljes in die 200 m- en 100 m-vlinderslag gewen het, het hy die eerste manswemmer geword wat hierdie goue vlinderslag-driekuns vir ''n tweede keer agtereenvolgens by die kortbad-byeenkoms kon behaal.
“Ek is natuurlik baie gelukkig met die week. Dit kon nie beter begin het as met die 200-vlinderslag nie. Ek het voor die tyd gesê dit was vir my die belangrikste nommer. Ek wou weer terug op die wenpad in die 200 m- vlinderslag kom,” het Le Clos uit Kanada laat weet. Le Clos kon vroeër vanjaar by die Olimpiese Spele waar hy sy 2012-goud verdedig het, nie die podium in dié item haal nie en moes met die vierde plek tevrede wees. Ná sy blink begin aan die kortbad-kompetisie het Le Clos silwer in die 200 m- vryslag gewen en dit in die 100 m- vlinderslag met ''n kragtoer opgevolg.
Nie net het hy koning gekraai nie, maar dit gedoen met ''n nuwe wêreldrekordtyd van 48.08 sek. Daardie vertoning het hy Sondag as ''n bonus beskryf. Met sy vertoning in die 200 m-vryslag is Le Clos ook tevrede, hoewel hy voel hy dalk té laat met sy eindpoging begin het. Sy sege in die 50 m-vlinderslag was die kersie op die koek vir Le Clos.
“Ek is baie gelukkig dat ek weer die vlinderslag-driekuns gekry het en die eerste man in die geskiedenis is om dit twee keer in ''n ry te doen. Ek voel geëerd om dit te kan sê,” het Le Clos vertel.
Die Amerikaner Tom Shields wat silwer in die 200 m- en 100 m-vlinderslag gewen het, moes weer eens tevrede wees om tweede viool teen Le Clos te speel. Hy het die 50 m in 22.40 sekondes afgelê. David Morgan van Australië was derde met ''n tyd van 22.47 sekondes.
Dié medalje was Le Clos se negende goue en elfde medalje algeheel, by kortbad-wêreldbyeenkomste.
“Oor die algemeen was dit wonderlik. Die ondersteuners was ongelooflik en dit was heerlik om saam met die span te sit en mekaar te ondersteun. Ek is baie tevrede met die week. Ek kon nie vir ''n beter manier gevra het om op die Olimpiese Spele se vrae te antwoord nie. Soos ek reeds gevra het, moet my nie oordeel hoe ek swem wanneer ek op my beste is nie, oordeel my wanneer ek met my rug teen die muur is. Ek glo ek het goed teruggeslaan,” het hy gesê. - Netwerk 24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie