Leë huise, erwe binnekort te koop
Huise en erwe onder die Massiewe Stedelike Gronddiensprojek gaan voetstoots verkoop word, onderhewig aan die uitkoms van die waardasieproses.
Leandrea Louw op Walvisbaai – Die Walvisbaaise dorpsraad het die plan goedgekeur om erwe in Kuisebmond en Narraville – wat as deel van die Massiewe Stedelike Gronddiensprojek (MULSP) gediens is – deur 'n openbare bieproses te verkoop.
Volgens die raad se agenda het 15 van die 102 nie-toegekende huise defekte en is hulle nie gereed om bewoon te word nie. Hulle sal voetstoots verkoop word.
“Die betrokke defekte moet gewaardeer word voordat die finale verkoopproses bepaal kan word.
“Verder is aanbeveel dat die munisipale waardeerder, Messrs. Trust and Estate Company, 'n finale waardasie van alle verbeterings op dié erwe moet uitvoer om defekte en tekortkominge vas te stel.
“Sodra dié waardasie ontvang is, moet 'n voorlegging ingedien word ten opsigte van reserwepryse vir die verbeterings sowel as om die verkoopvoorwaardes af te handel,” lui die agenda.
WAARDASIEPROSES
Me. Anita Kaihiva, woordvoerder van die munisipaliteit, het aan Erongo 24/7 gesê die waardasieproses het begin.
“Die tydsraamwerk word binnekort bepaal. Die vertraging was omdat die waardeerder volgens die Covid-19-regulasies moes isoleer.”
Kaihiva het gesê die idee is om nuwe kopers tydens die verkoopproses te oorweeg. “Die verkoopvoorwaardes moet egter gestel word sodra die waardasie afgehandel en die eiendomme geadverteer is.”
Die leë huise is tot dusver 'n twispunt vir plaaslike inwoners, met sommige wat dreig om die huise te beset en antwoorde oor die pad vorentoe by die raad eis.
“Die raad het die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling by verskeie geleenthede betrek aangesien dit 'n gesamentlike projek was. Die terugvoer in hierdie verband het egter bietjie langer geneem as wat verwag is. Dit word nie as 'n vertraging beskou nie, want daar was geen bepaalde tydsraamwerk vir die raad om te besluit om die huise voetstoots te verkoop nie.”
Kahiva het gesê die raad het 'n paar erwe beskikbaar om te verkoop, naamlik dié wat nie tydens die openbare bod in Mei verkoop is nie en nie-residensiële erwe wat, soos geadverteer, wat vir Vrydag (6 Augustus vanjaar) verwag is.
“Dit sal slegs MULSP-huise wees wat te koop is,” het sy benadruk.
GEEN REAKSIE
Volgens die raad se agenda vir Julie is die uitvoerende direkteur van die ministerie in 'n brief gedateer 17 Februarie 2017 ingelig oor die raad se kommer oor gehaltebeheer met betrekking tot die huise, maar geen reaksie is ontvang nie.
“Verskeie nuwe huiseienaars het defekte by hul huise aangemeld. Ongelukkig is hierdie gebreke geïdentifiseer nadat die aanspreeklikheidstydperk verstryk het en retensiegelde, wat kontraktueel vir sulke herstelwerk van kontrakteurs weerhou word, reeds aan die onderskeie kontrakteurs uitbetaal is.”
Om dié rede was dit onmoontlik om die kontrakteurs aanspreeklik te hou vir die herstelwerk.
In 'n ander brief aan die uitvoerende direkteur van die ministerie gedateer 25 April 2019 is voorgestel dat die herstelkoste van die opbrengs uit grondverkope gedek word. Geen reaksie is ook op dié voorstel ontvang nie.
Onder die aanbevelings wat gemaak is, is dat die raad kennis moet neem van die defekte by sommige van die huise wat as deel van die MULSP-program gebou is.
“Die ministerie het nie gereageer op die briewe wat by twee verskillende geleenthede aan die uitvoerende direkteur gerig is nie.
“'n Aanbeveling is ook gemaak dat die versoeke aan die Walvisbaai-munisipaliteit om die foute te herstel, nie oorweeg moet word nie, aangesien die eiendomme voetstoots verkoop is en het die huiseienaars na 'n klousule in hul verkoopooreenkoms verwys wat bepaal dat die verkoper nie aanspreeklik gehou kan word vir enige defekte op die eiendom nie – hetsy latent of patent.”
ONDERSOEK
Intussen wag inwoners van die hawedorp angstig op die ouditverslag wat met betrekking tot die MULSP gedoen is.
'n Aantal hooggeplaaste munisipale amptenare is steeds geskors na aanleiding van 'n ondersoek deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC), insluitend die uitvoerende hoof van die munisipaliteit, mnr. Muronga Haingura; hoofbestuurder van gemeenskaps- en ekonomiese ontwikkeling, mnr. Augistino Victor; bestuurder van eiendomme en behuising, mnr. Jack Manale, en die eiendomsklerk me. Constance Summers.
Die skorsing volg nadat die ACC op 9 Desember 2020 op die kantore van dié vier amptenare toegeslaan en beslag gelê het op toerusting, waaronder skootrekenaars, rekenaars en selfone.
Die ACC ondersoek aantygings van korrupsie rakende die beweerde gebrek aan deursigtigheid en vermiste geld wat vermoedelik aan die MULSP behoort.
Hierdie ondersoek volg nadat N$24 miljoen blykbaar uit die projek “vermis” geraak het.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie