Leerlinge skaaf aan skryfkuns

'n Spesiale skryfskool het aan jong Namibiërs die geleentheid gegee om hul talent in die Afrikaanse skryfkuns te ontwikkel.
‘n Totaal van 160 leerlinge het in Junie aan die Bank Windhoek-skryfskool deelgeneem. Die skryfskool is in samewerking met die ATKV se Windhoek-tak aangebied en het jong Namibiërs die geleentheid gegee om hul talent in die Afrikaanse skryfkuns te ontwikkel en bevorder.

Die Bank Windhoek-skryfskool is deur prof. Hans du Plessis van Noordwes Universiteit (NWU) aangebied. Die kursus word ook as ‘n kanselierkursus van die NWU beskou en kursusgangers se name word nou by die departement van taal by die universiteit aangeteken en dopgehou indien van hulle eendag boeke sou publiseer.



“Die ATKV se Windhoek-tak wil Bank Windhoek graag vir hul ondersteuning as hoofborg van die Bank Windhoek-skryfskool bedank. Bank Windhoek se ondersteuning het dit moontlik gemaak dat kursusse by agt skole aangebied kon word vir leerlinge in Windhoek, Gobabis, Otjiwarongo en Swakopmund. Dit is voorwaar 'n voorreg om saam met Bank Windhoek te werk. Dankie vir Bank Windhoek se getroue ondersteuning oor die jare,” het me. Leonie van Rensburg, voorsitter van die ATKV Windhoek-tak, gesê.

“Dit is vir Bank Windhoek ‘n voorreg om die skryfskool te ondersteun en ontluikende talent te koester en aan te wakker. Dit is die bank se hoop dat alle kursusgangers hul nuwe kennis sal toepas en sodoende ‘n positiewe bydrae tot hul studies sal maak,” het Bank Windhoek se skakelbeampte, mnr. André le Roux, gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer