Leeslys vir luilekker somersdae
Of jy hierdie somer luilekker dae op die strand gaan deurbring of net op soek is na ’n wonderlike boek om die tyd mee te verwyl, hier is tien boeke wat Bruni Lubbe van Book Den vir die vakansie aanbeveel.
IMMER WES – Irma Joubert
’n Dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adel, ’n liefdelose ma, ’n pa wat omgee – wel, meestal.
In 1914, toe die donker wolke wat oor Europa saamgetrek het uiteindelik in die Groot Oorlog uitbreek, leer Hildegard vir die eerste keer hoe lelik die lewe daar buite is, hoe afskuwelik oorlog is en wat ’n misleidende woord “oorlogshelde” is. Haar kinderlike verering van die Duitswester Gustav los op in die vlaktes van sy geliefde land waarheen hy terugkeer.
Sy trou met ’n man – haar vader se keuse, as mens dit ’n keuse kan noem – wat min vreugde in haar lewe bring. Maar dit is nie die einde van die reis nie. Dit besef sy eers toe sy en haar kind hulle weens omstandighede waarvan niemand sou kon droom nie, in Duitswes bevind. Wat môre sal bring en waar sy en haar dogtertjie ’n heenkome sal vind, weet niemand. Soms weet sy nie of God haar nog hoor wanneer sy bid nie.
Hierdie lekkerleesroman wat strek oor die twee Wêreldoorloë en uiteindelik via Suid-Afrika in Namibië eindig, beloof om Irma Joubert se lesers weer weg te voer na lande en tye wat nie aan ons bekend is nie. Soos altyd is die styl maklik, maar soos soveel keer tevore wys Joubert ook die donker kant van die mens.
VER IN DIE WERELD, SUSHI! – Koos Kombuis
Koos Kombuis vier vanjaar sy sestigste verjaardag, en hoewel dié musiek- en skrywerslegende ietwat ouer en wyser geword het, is sy kommentaar op sosiale en politieke sake nog net so skerpsinnig soos altyd.
In sy jongste rubriekeversameling kom ’n verskeidenheid onderwerpe onder die soeklig, soos die stommiteite van politici, die irrasionele vrese van Afrikaners wat nog in die laer skuil, die sensitiewe ego’s van plaaslike musikante, en die wanstaltigheid van amptenare wat die banaalste vorme van burokrasie in stand hou.
Kombuis presteer nie net as satiriese kommentator nie. Sy ode aan sy oorlede moeder en die nostalgiese herinneringe aan sy kinderdae sal lesers diep ontroer. Bowenal verteenwoordig Kombuis se kritiese stem daardie Afrikaners wat hulself beskou as trotse burgers van die globale dorpie – hulle wat sushi kan geniet sonder om ’n gesigspier te vertrek! Ver in die wêreld, sushi! is ’n keur uit die rubrieke wat tussen 2005 en 2015 verskyn het in publikasies soos Rapport, De Kat, Taalgenoot en op LitNet en Netwerk24. Kombuis-bewonderaars kan nie genoeg kry van die skrywer se sonderlinge humor, verhelderende insigte, kompromislose eerlikheid en meevoerende styl nie.
TUSSEN HEININGS – Corlia Fourie
Tussen Heinings is die oorrompelende verhaal van gewone mense wat ten spyte van alles (misdaad, egskeiding en emigrasie) dit moontlik vind om met hulle lewe voort te gaan en dit tog regkry om die mure van agterdog en onbegrip af te breek.
Corlia Fourie wéét hoe om emosie van agter haar karakters se skanse te laat deurglip – effektief, ontroerend en aangrypend.
BRANDWATERKOM – Alexander Strachan
Alexander Strachan se Brandwaterkom is ’n dubbelloop-roman: Dit is enersyds ’n aangrypende, bloedstollende verhaal oor die lewe van een van die berugste Boereoffisiere, andersyds is dit ’n boeiende ondersoek na die verleidelike, soms selfs verraderlike manier waarop verhale van ons besit neem en ons verbeelding op loop jaag.
Met verbluffende vernuf trek Strachan albei snellers van die roman gelyk af.
MARIONETTE – Elsa van der Merwe
Ná 30 jaar se getroude lewe staan Willemien Niemann voor ’n kruispad-keuse: Moet sy getroud bly ter wille van haar kinders en haar erfgrond, of moet sy skei.
Kan sy op haar eie oorleef nadat Neels haar selfrespek en menswaardigheid met manipulasie en emosionele teistering uitgewis het en daar niks oor is van haar ou self nie? Sy probeer sin maak waarom sy dit toelaat, hoe sy hier beland het, wat haar aandeel in sy woedebuie is. Is hy wat hy is as gevolg van haar? En waarom kan sy nie net voet neersit en sterk staan nie?
Binne een seisoensirkel van die druif en met die hulp en ondersteuning van Lea, haar huishulp en kleintyd-speelmaat, kom sy tot die insig dat sy nie ’n willose slagoffer van die lewe of die natuur is nie, maar iemand wat self verantwoordelik is vir haar keuses – ook die gevolge daarvan.
150 STORIES – Nataniël
’n Versameling van die bekende en gewilde Nataniël se verhoogverhale is die ideale Kersgeskenk.
Nataniël is een van Suid-Afrika se meester-storievertellers op die verhoog. Sy unieke stem en styl, sy spitsvondige en skerpsinnige humor, sy deernis vir die verskoppelinge en verstotelinge, dit alles maak hom ’n belangrike stem in ons kultuur en samelewing.
Die versameling sluit byna al sy verhale (Afrikaans én Engels) uit ouer bundels in wat reeds deur die jare uit druk geraak het (Oopmond, Rubber, Maria Maria, Tuesday, Kaalkop 2, When I was), sowel as 10 nuwe stories.
JUDASKUS – Rudie van Rensburg
Menslike beendere word gevind op ’n stortingsterrein, en skielik moet speurder Kassie Kasselman nuut dink oor moordsake van jare gelede.
Gou begin die moorde vinnig op mekaar volg. Tussendeur die aantreklike nuwe buurvrou wat Kassie se kop aan die swymel het én die enorme posseël-meevaller wat oor sy pad kom weens nóg ’n sterfte, moet hy uitwerk waarom ’n geheimsinnige witboordjie-bende skynbaar besig is om sigself uit te roei. Is dit dalk nié doodgewone bende-oorlog soos sy kollegas glo nie? Wie kan die verraaier - met die vlymskerp broodmes - in hul midde wees? Elke warm leidraad lewer ’n koue lyk op en Kassie en Rooi kan nie voorbly nie.
IN SNEEU GESKRYF – Francois Loots
In Januarie 2003 het Suid-Afrika wakker geword met die nuus dat nege mans gedurende die vroeë oggendure in Sizzler’s, ’n bordeel met net mans in Seepunt, Kaapstad, vermoor is.
Die twee moordenaars het naby Sizzler’s gewoon en is gou in hegtenis geneem. Aangesien hulle nooit in die hof getuig het nie, bly hul motiewe onbekend en het die moorde meer vrae as antwoorde gelaat.
Die roman In sneeu geskryf volg die lewe van drie jong mans tydens die weke wat tot die moorde lei. Platsak Frikkie het pas matriek voltooi en begin by die bordeel werk. Bertus is ’n dertigjarige kliënt wie se lewe verbrokkel – en op Frikkie verlief raak. Adam bestuur ’n nabygeleë eetplek en word gedryf deur geldnood en sy verval in waansin. Die skrywer, Francois Loots, woon in Seepunt. In sneeu geskryf skets dié Kaapse voorstad in die middel van somer, die besige toeristetyd.
DIE VERDWYNING VAN BILLY KATZ – Chris Karsten
Speurder Ella Neser stel ondersoek in nadat vier gemummifiseerde linkervoete in ’n Checkers-sak in ’n openbare tuin gevind word.
Waar is die liggame waaraan die voete behoort? Lou Pepler, oudpolisieman, nou sekuriteitskonsultant, glo dit hou verband met ’n saak wat hy 20 jaar gelede ondersoek het – die verdwyning van Billy Katz, rykmanseun en rokjagter. Ella se soektog lei na ’n begrafnisonderneming in Turffontein en die Pottas-familie, met hul stom aanneemseun, Rakker. Hoe hou die voete verband met Billy Katz se verdwyning en die saak wat Lou sy loopbaan en amper sy lewe gekos het?
DIS EK, ANNA: Die Volle Verhaal – Anchien Troskie as Elbie Lötter
’n Omnibus met Dis ek, Anna en Die staat teen Anna Bruwer om met die film gebaseer op die boeke saam te val.
Sy het haarself Stom Anna genoem. Omdat sy aan niemand kon vertel wat tussen haar en haar stiefpa plaasgevind het nie. Hierdie is die verhaal oor hoe sy uiteindelik die stilte verbreek het en haar verhaal aan die wêreld en ook in die hof gaan vertel het. Dis ek, Anna is gebaseer op ’n ware verhaal.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie