Leeu geskiet ná aanval op boer

Mens-dier-konflik het weer daartoe gelei dat drie leeus vrekgeskiet en 'n boer beseer is.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - 'n Man sterk in die Opuwo-staatshospitaal aan nadat 'n leeu hom Woensdag aangeval het.

Dit volg ná nog 'n voorval van mens-dier-konflik toe leeus Woensdag in die vroeë oggendure beeste op 'n plaas in die Kunenestreek gevang het.

Volgens die Namibiese polisie se misdaadverslag is drie leeus omstreeks 02:00 op die plaas Onguta in die omgewing van die Omtjokavare-nedersetting naby Werda gesien. Die leeus het 'n bees gevang wat buite 'n kraal gelê het.

"Die leeus het een koei gevang en toe die plaaseienaar wakker word, het hy die leeus weggejaag deur in hul rigting te skiet. Die bure het gekom om te help," lui die verslag.

"Die boere het in die veld geloop toe 'n leeu 'n man aangeval het. Die leeu is dadelik vrekgeskiet."

Die man, mnr. Ngeripurue Heuva, wat volgens 'n woordvoerder van die polisie, hoofinsp. Kauna Shikwambi, 'n naburige boer is, het beserings aan sy regter bo-arm opgedoen. Hy is aanvanklik na die Otjokavare-kliniek geneem en later na die Opuwo-staatshospitaal oorgeplaas waar sy toestand as stabiel beskryf is.

Volgens die polisie het die boere toe die leeuspore tot by die waterpunt gevolg en nog 'n koei gekry wat deur die leeus gevang is.

"Hulle het die twee leeus daar naby gevind en hulle vrekgeskiet," sê die polisie.

Amptenare van die ministerie van die omgewing en toerisme is van die voorval ingelig, het die ministerie se woordvoerder, mnr. Romeo Muyunda, Vrydag bevestig.

"Die ministerie se personeel is uitgestuur om die voorval te ondersoek," het die woordvoerder gesê.

ONDERSOEK NA KAMBWA

In Mei is ses leeus in drie weke in die Omusatistreek ná mens-dier-konflik deur boere afgemaai wat groot oproer op sosiale media veroorsaak het.

Die ministerie van die omgewing en toerisme het 'n ondersoek van stapel gestuur nadat die bekende sakeman van die Noorde, mnr. David Kambwa, drie leeus noord van die Etosha Nasionale Park in die Omusatistreek doodgeskiet het nadat sy pa se beeste gevang is.

Op sosiale media is Kambwa aan die een kant wyd gekritiseer en aan die ander kant geloof omdat hy foto's op Facebook geplaas het waar hy met 'n gewere by die leeukarkasse pronk. Gru-foto's van die leeukarkasse wat afgeslag en gekook word, het wydverspreide reaksie, veral woede, uitgelok.

Op 'n vraag hoe ver die ondersoek na Kambwa is, het Muyunda Vrydag bevestig dat die ondersoek wel deur die polisie uitgevoer is.

"Die eerste verslag van die ondersoek is aan die minister (mnr. Pohamba Shifeta) oorhandig waarin aanbevelings gemaak is," het Muyunda gesê.

Hy het gesê hy dra geen kennis van die inhoud van die verslag nie.

Daar sou ondersoek ingestel word of Kambwa in besit van 'n jagpermit en vuurwapenlisensie is en onder watter omstandighede die leeus geskiet is.

Die ministerie het die skiet van die leeus skerp veroordeel, "want dit is sonder die ministerie se toestemming gedoen".

Die ministerie het ook ook onder fel kritiek van die boere deurgeloop oor die haglike toestand van die heining aan Etosha se noordekant. Muyunda het toe bevestig dat Kambwa in 2011 deur die ministerie gekontrakteer is om die heining reg te maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!