Leeukonflik in Kunene getakel
Leeukonflik in Kunene getakel

Leeukonflik in Kunene getakel

'n Bestuursplan vir mens-leeu-konflik is vir die Noordweste bekend gestel.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Net enkele woestyn­aangepaste leeus in die Kunenestreek is aan natuurlike oorsake dood. Die meeste is weens mens-leeu-konflik dood­geskiet, vergiftig of vir trofeejag geskiet.

Só het dr. Philip Stander, leeunavorser van die Woestynleeu-navorsingsprojek, tydens Vrydag se bekendstelling van die Kunene se mens-dier-konflikbestuurplan gesê. Die plan word deur B2 Gold gefinansier.

“Leeus vreet vee en boere reageer deur die leeus te skiet om hul lewensbestaan te beskerm. Plaaslike gemeenskappe moet die lewenskoste dra om saam met leeus te leef, maar trek nie altyd gelyke voordeel nie.”

Volgens Stander is daar tans tussen 112 en 139 woestynaangepaste leeus in die Noordweste. Hulle is 'n groot trekpleister vir toeriste.

“Nêrens in die wêreld kan jy vrylopende leeus in die sandduine of op die strand sien nie.”

Stander het gesê hierdie leeus moet gesien word as 'n nasionale bate wat goed bestuur moet word tot voordeel van Namibiërs.



GEVALLE VAN KONFLIK

Hy het gesê tussen 2003 en 2015 het die vyf kommunale bewaringsgebiede wat hul grond met die woestynaangepaste leeus deel, 5 864 aanvalle op hul vee deur leeus en ander karnivore aangemeld.

“Gemiddeld 451 gevalle word per jaar aangemeld met 205 in 2003 en 713 in 2013. Sesfontein het die hoogste aantal aanvalle met 2 293, gevolg deur Anabeb met 1 393, Torra met 1 303 en 873 vir Purros,” het Stander gesê.

“Tussen 2005 en 2015 is 'n totaal van 343 gevalle van mens-leeu-konflik deur vyf bewaringsgebiede aangemeld met 'n gemiddeld van 32 gevalle per jaar. Torra het die meeste gevalle aangemeld met 121, gevolg deur Purros met 85, Sesfontein met 77 en Anabeb met 60.”

Stander het gesê tussen 2005 en 2015 is 37 leeus weens mens-leeu-konflik dood met die meeste in Torra (18), gevolg deur Sesfontein (9), Anabeb (7) en Purros (3).

“Tog het die aantal leeus wat tussen 2013 en 2015 doodgemaak is, drasties verhoog met 27 uit 37 (73%) wat doodgemaak is. In dieselfde tydperk het die vyf bewaringsgebiede net 36% voorvalle van mens-leeu-konflik gerapporteer met 26% aanvalle op vee,” het Stander gesê.

Volgens hom is die hoof­oorsaak van mortaliteit van die leeubevolking tussen 1999 en 2012 die doodmaak van leeus deur plaaslike mense weens mens-dier-konflik en trofeejag. Dit het gelei tot 'n skewe verhouding tussen van die grootte van die manlike en vroulike leeubevolkings.

“Leeumannetjies is veral kwesbaar en maak meer as 80% van die sterftes uit. Die gereeldheid waarteen mannetjies, veral sedert 2004, geskiet, vergiftig of vir trofeejag gejag is, het gelei tot die aansienlike vermindernig van die manlike bevolking. Die verhouding het in 2010 kritieke vlakke bereik met een wyfie tot 0,18 mannetjies.”



SEWE TROPPE SONDER MANNETJIE

Stander sê sewe uit die nege groot leeutroppe is tans sonder 'n tropmannetjie.

“Daar is 'n dringende behoefte om die bestuurplan vir leeus te aanvaar om die langtermynbewaring van die spesie in die Kunene te verseker,” het Stander gesê.

Die adjunkminister van die omgewing en toerisme, mnr. Tommy Nambahu, het gesê mens-leeu-konflik het in 2016 'n piek bereik, veral met die erge droogte. Hy het bygevoeg die Kunene-leeukonflikbestuurplan strook met die ­hersiene ­nasionale beleid oor mens-dier-konflik­bestuur.

“Die Woestynleeu-navorsingsprojek, die Geïntegreerde Landelike Ontwikkeling en Natuurbewaring (IRDNC) en die Africat-stigting is gereed om die plan te implementeer,” het Nambahu gesê.

“Maatreëls van die plan behels veebestuurpraktyke soos veewagters en die bou van leeuproefkrale, die ontwikkeling van 'n vroeë waarskuwingstelsel en afskriktaktieke, asook reaksie-eenhede om betyds op konflik­situasies te reageer.”

Nambahu het beklemtoon hoe belangrik leeus vir die groeiende toerisme­bedryf is.

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!