Leeus gelukkig om maanhare te behou

Windhoek Gimnasium moes in sy Momentum o.19-premierligawedstryd ’n merkwaardige terugvegpoging deur sy aartsvyand te bowe kom.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Schoemans-groep Windhoek Gimnasium Leeus se maanhare is Saterdagnamiddag so ampertjies in hul eie Leeukuil in Kleine Kuppe deur die Samsung Windhoek Hoërskool Koedoebulle geknip, voordat die rooies met 20-19 die knoop deurgehaak het.

Die Leeus kon teen rustyd met twee vyfpunters agter sy naam en ’n voorsprong van 15-6 met ’n geruste hart en met ’n lafenis in die hand planne gaan beraam om in die tweede helfte hierop voort te bou.

Die Leeus het egter nie met die Koedoebulle se vasberadenheid rekening gehou nie en was sekerlik verlig oor die uitslag.

Vir WHS het dinge vanuit die staanspoor nie goed verloop nie en hulle moes toesien hoe Gim sy eerste drie binne die eerste drie minute gaan druk en die telling 7-0 maak.

Die Koedoebulle se lynstane was sommer al vroeg ’n nagmerrie en hul skrums sal ook min regmerkies kry. In die los het die manne in blou beter gevaar en op die verdediging kan ’n mens nie anders om 97 persent agter hul toets te skryf nie.

Die Leeus het wel drie drieë gedruk, maar as dit nie vir die besoekers se verdediging was nie, kon die eindtelling aansienlik groter vir Gim gewees het.

WHS kon met nege punte meer op die telbord gespog het, maar drie strafskoppogings gaan verlore. Hoewel een poging weer ’n langafstandskop vanuit WHS se eie halfgebied was, was die ander twee skoppe heelwat makliker en kan die bloues ongelukkig voel dat die potensiële wenpunte hulle ontwyk het.

• Rubicon Tsumeb Gimnasium bly die onoorwonne voorloper in die Momentum o.19 premierliga en het boonop ’n betekenisvolle tree gevorder toe hy KMC/JCC Windhoek Affies ná twee opeenvolgende oorwinnings gestuit het.

In die wedstryd wat op die noordedorp beslis is, het Tsumeb met 21-10 geseëvier. Die wenspan se kaptein, die stewige agtsteman WJ Otto, is as speler van die wedstryd aangewys ná die ontmoeting wat ook deel van die FNB Classic Clashes was.

• Die naweek se ander wedstryd was op Stampriet, waar Pupkewitz Haval Elnatan ongelukkig vir die tuisondersteuners nie die knoop kon deurhaak nie. Die besoekers uit Outjo, OK Foods Moria Privaatskool, het met 19-8 die wenpunte opgeraap.

• Tsumeb Gimnasium, met ses uit ses gewen, se puntetotaal het tot 54 geklim, met Windhoek Gimnasium (vier uit vyf, 39) in die tweede posisie. Maak gerus ’n draai op rugby.my.na vir die volledige puntestand en alles wat jy van die Momentum o.19 premierliga wil weet.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer