Leeus van die Noorde knak nuwelinge se moed

Stars trek haas uit hoed
Tielman van Lill
Julinho Sporting, van Rundu, het Saterdag op Okahandja die Young Brazilians van Karasburg in 'n wurggreep beetgekry om hul MTC FNB Namibiese Premierliga-botsing (NPL) by die Nau-Aib-stadion met 4-1 te wen.

Dit was Young Brazilian (Dakaza Boys) se eerste werklike groot loesing sedert hul eerste geskiedkundige treë as groentjies in die 2018-'19-NPL-seisoen, en Julinho se derde oorwinning om skielik die derde plek op die NPL-punteleer in te neem.

Julinho het sy eerste doel in die 29ste minuut behaal toe Veikko Masinde Brazilian se doelwagter flous om rustyd met 'n voorsprong van 1-0 te gaan koeldrank drink. Reinold Shavuka van die Leeus van die Noorde, soos die klub ook bekend is, tref die Dakaza Boys se doelnet binne twee minute van die tweede helfte om sy voorsprong tot 2-0 te rek.

In die 63ste minuut kry die manne van Karasburg in die Suide 'n strafskop, maar Quera van Staden se poging trek skeef. Ses minute later tref Vincentius Jobs se stewel die bal suiwer om Brazilian se eerste punte op die telbord te plaas (2-1).

Vir die spelers van Rundu het dinge vir 'n slag seepglad verloop met Francisco Almeida wat in die 75ste minuut Julinho se telling tot 3-1 opstoot.

Met amptelike speeltyd verstreke behaal die Leeus hul vierde en laaste doel met Kotokeni Asser, 'n laat plaasvervanger, wat die doelnet laat bol om die finale telling 4-1 te maak en Julinho verdien drie ligapunte.

Otjiwarongo

By die Mokati-stadion op Otjiwarongo was Mighty Gunners Saterdag om 15:00 teen die besoekende Tigers van Windhoek in aksie om ná sy oorwinning van 2-1 ook drie ligapunte in die sak te steek. FNB Orlando Pirates van Katutura, wat by dieselfde venue teen Life Fighters opgestap het, het sy vierde loesing van die seisoen op die lyf geloop toe Fighters die Seerowers met 4-1 oorskadu het.

Dit is Gunners se vyfde oorwinning van die 2018-'19-seisoen om tydelik voor FNB Black Africa die eerste posisie op die NPL-punteleer in te neem en Fighters se tweede stel van drie punte.

Op Walvisbaai, by die Kuisebmond-stadion, speel Eleven Arrows van die kus, en Tura Magic van die hoofstad met 2 elk gelykop om elkeen 'n enkele punt by hul totaal op die ligaleer te voeg.

Arrows was stewig in beheer van die botsing met 2-0, maar dit is die towenaars wat 'n haas uit die hoed trek om die gasheer om die bos te lei.

By die Sam Nujoma-stadion in Katutura was nog 'n gelykop uitslag aan die orde van die dag met Citizens en Blue Waters van die kus wat elkeen 'n solo-doel behaal. Black Africa, wat verlede week nog vir Momentum African Stars met 5-1 tot stilstand geruk het, verloor sy eerste wedstryd met 1-0 teen Young African van Gobabis, wat tot dusver vanjaar gesukkel het om op dreef te kom.



Stars

Momentum African Stars het verlede Donderdag na Gauteng gereis waar hulle Saterdag by die intimiderende Orlando-stadion teen die magtige Orlando Pirates van Johannesburg in die Konfederasie van Afrika-sokker se kampioene-liga koppe gestamp het. Stars het bykans die onmoontlike vermag deur die gasheer voor sy fanatiese tuisskare tot 'n gelyk opuitslag (0-0) te dwing.

Dit was Stars se eerste van twee botsings teen Pirates en hy sal komende Saterdag tuis weer sy beste teen Pirates by die Sam Nujoma-stadion lewer.

Stars het glo 'n meesterlike vertoning op die verdediging gelwer om dié voormalige kontinentale kampioen se aanvalsplanne in die wiele te ry. Maar so maklik was dit ook nie.

Die groot doring in die besoekers se vlees was sy skerpskutter Justin Shonga wat binne die eerste 15 minute twee keer sy visier op Stars se doelnet gerig het.

Maar Ratanda Mbazuvara, doelwagter van die Samba Boys, was beide kere suksesvol om dié Zambiese aanvaller van punte te weerhou. Stars het beslis met meer selfvertroue begin speel en self met Panduleni Nekundi aangeval, wat sy poging wyd laat trek.

Net voor halftyd word nóg 'n goue geleentheid deur Stras vermors toe Nekundi nie betyds 'n aangee van Ronald Ketjijere kan beetrky nie, en sy planne word deur Happy Jele, Pirates-kaptein, in die wiele gery.

Nekundi word ná rustyd deur Chrispen Mbewe vervang om daardie belangrike doel weg van die huis af aan te teken, maar die gasheer begin die skroef aandraai om die spel te beheer.

Mbazuvara red Stars met uitstekende keerslae om ook die pogings van Vincent Pele, Shonga, Augistine Mulenga en Thembinkosi Lorch te stop. Stars se verdedigers, wat Pirates in toom gehou het, is Ivan Kamberipa en Denis Tjetjinda, wat gewys het hulle hoort in die geselskap van die grotes.

Bobby Samaria, Stars se vorige breier, wat verlede week deur Stars se bestuur nadergetrek is, weier om opgewonde te raak oor sy span se prestasie, en sê daar wag nog 90 minute se sokker op hulle.

“Ons het daarin geslaag om 'n doellose gelykop stryd weg van die huis te behaal, wat 'n bewys is waar die spelers se harte en lojaliteit lê. Indien 'n span sy strukture gedurende 'n wedstryd behou, is enigiets moontlik in sokker. Die plan was om hul voorste vier aanvallers in toom te hou, en ons het relatief goed daarin geslaag,” het Samaria vertel sonder om die sluier oor sy planne vir aanstaande week se finale kampioene-ligawedstryd teen Pirates te lig.

– Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!