Leeus verkies bont, horinglose beeste
As leeus ’n kudde beeste bekruip, is hulle meer geneig om sekere diere in die kudde te teiken, volgens ’n nuwe studie deur die Universiteit van Pretoria.
Elvira Hattingh
As dit by die vang van beeste kom, verkies leeus beeste sonder horings en met ’n bont pels, terwyl dié met lang horings liefs vermy word.
As leeus ’n kudde beeste bekruip, is hulle meer geneig om sekere diere in die kudde te teiken, volgens ’n nuwe studie deur die Universiteit van Pretoria (UP).
Leeus het ’n voorkeur vir beeste met ’n swart en bruin pels, terwyl beeste wat heeltemal swart, wit of donkerbruin is, ook doelbewus vermy word.
“Verse trek die grootste voordeel uit die konsep van ‘veiligheid in getalle’, terwyl bulle meer op hul eie is, weg van kuddes. Dit maak hulle meer kwesbaar vir roofdiere,” het prof. Michael Somers en dr. Florian Weise gesê, wat mede-outeurs van die nuut gepubliseerde studie getiteld “Leeus verkies sekere soorte beeste” is.
As deel van sy na-doktorale studies het Weise reeds verskillende studies oor leeus, hul prooi en konflik met mense langs die noordelike grens van Botswana gedoen. Hy doen dit in samewerking met Somers.
VERDUIDELIK
Die navorsers het bevind beeste met klein horings, sekere velkleure en –patrone, jeugdigheid asook hul sosiale gedrag, is bepalende faktore van hoe geneig hulle is om ’n maaltyd te raak.
Alhoewel bulle met lang, skerp horings beter is om ’n leeuaanval af te weer, bied koeie se meer sosiale gedrag hulle groter voordele in terme hiervan.
Somers en Weise sê die voorkeur vir beeste met klein horings is logies, want dit verminder hul kanse op ’n besering, alhoewel dit moeilik is om te verduidelik waarom hulle beeste met bont pelse verkies.
Weise en sy span het opgemerk dat leeus, soos huiskatte, se oë spesiaal ontwikkel het om beter in die nag te kan sien.
“Dit kom egter teen ’n prys, naamlik dat hulle nie kleure so goed soos mense kan sien nie,” het die navorsers verduidelik.
“Dit verduidelik dalk hoekom bont pelse vee nie enige beskerming bied nie, maar dit verduidelik nie hoekom diere met net ’n enkele pelskleur minder gevang word nie.
“Dalk omdat leeus sukkel om diere te sien wat stil staan en reageer op prooi wat vinnig beweeg. ’n Bont pelskleur help hulle waarskynlik om beweging te identifiseer. Dit kan verduidelik waarom leeus bont beeste verkies,” meen die navorsers.
Jong kalwers, wat min ervaring met roofdiere het, geniet ook voorkeur onder leeus. Leeus teiken beeste veral in gebiede waar daar nie beeswagters of ander vorme van beskerming is nie.
Die navorsers meen ook dit kan teenproduktief wees om leeus van hul prooi weg te jaag as hulle ’n bees gevang het, want dit beteken hulle kan opnuut ’n aanval loods.
Somers het bygevoeg dat die leeubevolking oraloor Afrika oor die afgelope eeu drasties afgeneem het en op sommige plekke op die punt van uitwissing staan. Dis veral ’n kwessie waar hulle uit beskermde parke beweeg en deur boere – wat hul vee wil beskerm – doodgemaak word.
“Ons het bevind dat leeus die aktiefste in die nag is en tot 87% van hul vangste tussen skemer en dagbreek voorkom,” het die navorsers gesê.
Die Okavango-leeubevolking is een van die laaste vestinge vir die langtermynoorlewing van dié groot katte. Dis ook om dié rede waarom die UP hier verskeie strategieë navors om konflik te vermy.
Van die studies is in samewerking met die Universiteit van Newcastle in Australië, asook die Universiteit van Siegen in Duitsland gedoen. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie