Leeuwagspan beïndruk
Die span doen gereeld patrollies en waarsku boere oor roofdiere wat nader beweeg.
Francoise Steynberg
Van Mei tot Julie vanjaar is die ondersteuningspan vir mens-dier-konflik na 26 voorvalle ontbied en het 19 patrollies oor 'n verbysterende afstand van 8 870 km in die Kunenestreek gedoen.
Volgens 'n verslag van Geïntegreerde Landelike Ontwikkeling en Natuurbewaring (IRDNC) is dit 'n indrukwekkende rekord vir dié span.
Die span bestaan uit drie waaksame wagte: mnre. German Muzuma, Cliff Tjikundi en Linus Mbomboro, wat dikwels deur beamptes van die ministerie van die omgewing en toerisme en wildwagte (opgeleide leeuwagte) van die bewaringsgebiede bygestaan word.
Die reaksie- en moniteringsaktiwiteite sluit meestal spoorsny van roofdiere in, asook om boere oor enige naderende roofdiere te waarsku.
Patrollies behels gereelde besoeke aan konflikgebiede soos Anabeb, Sesfontein, Purros, Omatendeka en Ehi-Rovipuka.
“In Mei het die span gereageer op 'n leeumannetjie wat aanhoudend in die Puros-Orupembe-gebied was, wat gelei het tot sy verskuiwing weg van Puros af, maar ná drie dae het hy teruggekom,” sê IRDNC.
In Junie het die span bystand met die jaarlikse wildtelling in die Noordweste se leeugebiede (Torra, Anabeb, Sesfontein, Ehi-rovipuka, Purros en Otjikondavirongo) verleen as deel van die streek se leeumoniteringstrategie.
Volgens die IRDNC-verslag is 'n vergadering in Junie op Swakopmund gehou om die strategieë rakende die Noordwes-leeubestuursplan (NWLMP) verder te verfyn.
Dit sluit onder meer implementeringsplanne, beste praktyke, befondsing en volhoubaarheid van stelsels in.
In Julie het die span met leeumonitering voortgegaan en saam met leeuwagte en natuurbewaarders op konflikvoorvalle gereageer.
“Hulle het voorkom dat boere ingrypend teen leeus optree.”
Die span het ook hulp aan die Woestynleeu-bewaringsprojek (DLC) verleen om leeus van nekbande te voorsien en te help verskuif.
VASTE PATROLLIEROETES
Vir die volgende drie maande gaan die span en hul vennote baie besig wees: “Daar word beplan om die leeuwagprogram na elke geraakte bewaringsgebied in die Kunene- en Erongostreek uit te brei. Vaste patrollieroetes in konflikgebiede gaan gevestig word om data-insameling en kommuniksie te verbeter.”
Ondanks die span se belangrike werk in die streek is daar volgens dié verslag steeds uitdagings wat hulle in die gesig staar: Die gebrek aan fondse vir die leeuwagprogram, boere wat al hoe meer ingrypend optree weens meer leeukonflik, die traagheid van bewaringsgebiede om aan die program deel te neem en die stadige implementering van maatreëls om konflik weens finansiële tekortkominge te verminder.
Volgens IRDNC is voorstelle van belanghebbendes in die Kunenestreek ontvang vir 'n leeuwagspan wat voetpatrollies in bewaringsgebiede doen.
“Meer bewusmaking moet ook onder boere gedoen word oor hoe konfliksituasies beter hanteer kan word, doeltreffender nekbande moet gebruik word en alle belanghebbendes (bewaringsgebiede, nieregeringsorganisasies, boere, owerhede, die toerismesektor en die publiek) moet in mens-dier-konflikbestuur belê,” meen IRDNC.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie