• Tuisblad
  • Sport
  • Legendariese Marvelous Marvin Hagler sterf skielik
Legendariese Marvelous Marvin Hagler sterf skielik
Legendariese Marvelous Marvin Hagler sterf skielik

Legendariese Marvelous Marvin Hagler sterf skielik

Boks
Michael Green – Marvelous Marvin Hagler, die voormalige bokskampioen wat oor die naweek skielik dood is, sal as een van die grotes van die sport onthou word.

Die 66-jarige Amerikaner se vrou, Kaye, het Saterdag op sy Facebook-bewonderaarsblad geskryf dat hy vroeër die dag gesterf het.

Dis nog nie seker presies wat sy dood veroorsaak het nie, maar hy het glo deur die dag borspyne ondervind en moeilik asemgehaal.

“Ek is jammer om 'n hartseer aankondiging te maak. Vandag is my geliefde eggenoot, Marvelous Marvin Hagler, onverwags by sy huis hier in New Hampshire dood. Ons familie versoek dat julle ons privaatheid in hierdie moeilike tye sal respekteer,” het Haye geskryf.

Hagler, wat sy naam in 1982 amptelik na Marvelous Marvin Hagler verander het, was gedurende die 1980's een van die supersterre van boks.

Hy het die Wêreldboksraad en die Wêreldboksvereniging se middel­gewigkampioen geword toe hy Alan Minter in 1980 in Londen binne drie rondes verpletter het.

In die volgende klompie jare het hy verwoesting gesaai en met topvegters soos Roberto Duran, Thomas Hearns, Juan Roldan en John Mugabi afgereken.

In April 1987 het hy 'n omstrede puntenederlaag teen Sugar Ray Leonard gely wat tot sy uittrede gelei het.

Hagler het 62 gevegte in die beroepskryt gewen, 52 daarvan met uitklophoue. Hy het net drie gevegte verloor met nog twee wat gelykop geëindig het.

Die ander twee manne wat hom geklop het buiten Leonard, was Willie Monroe en Bobby Watts en dit was taamlik vroeg in sy boksloopbaan.

Die manne wat daarin kon slaag om gelykop teen Hagler te boks, was Vito Antuofermo en Sugar Ray Seales.

Hagler het ná sy boksdae 'n ruk in Italië gewoon waar hy 'n akteur geword het. Hy het in rolprente soos Notti di Paura, Virtual Weapon en Indio 1 en Indio 2 gespeel.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer