Leiers faal die mense
Leiers faal die mense

Leiers faal die mense

Leiers in die streek maak hulle saam met buitelandse bondgenote aan selfverryking en staatskaping skuldig.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Die Namibiese burgerlike organisasie-aktivis mnr. Uhuru Dempers sê die Suider-Afrikaanse leiers moet “wakker skrik” en die harde werklikhede van neerdrukkende armoede en sosiale uitsluiting raaksien wat deur die meerderheid van mense in die streek ervaar word.

Hy het Donderdag by die SADC-menseberaad in Windhoek gepraat. Dié beraad het aan burgerlikes die geleentheid gegee om hul stem te laat hoor terwyl staatshoofde en regeringslui aan die 38ste SADC-beraad in die hoofstad deelgeneem het.

Volgens Dempers is die streek se leiers nie meer in voeling met die kollektiewe ideale van vryheid, gelykheid en geregtigheid wat die grondslag van die vryheidstryde was nie.

Hierdie ideale, sê hy, is vervang met oneer aan fundamentele menseregte, selfverrykingskemas van politieke leiers, staatskaping deur die plaaslike elite and buitelandse maatskappye, ‘n gebrek aan respek vir die omgewing en natuurlike hulpbronne, en ‘n verontagsaming van dienslewering, diskriminerende praktyke en ondemokratiese en outoritêre leierskap.

Hy sê verkiesingsprosesse oral in die streek word bevraagteken. Daar is steeds geen gevolge vir SADC-lidlande wat hul eie riglyne oor demokratiese bestuur en respek vir die oppergesag van die reg oor verkiesingskwessies, verbreek nie, sê Dempers.

Hy het ook die ondergang van die SADC-tribunaal betreur en gesê die SADC parlementêre forum is nie behoorlik toegerus om die uitvoerende vertakkings van regerings te konsolideer nie, en die nodige wigte en teenwigte ontbreek ook.

Dempers sê ondanks die feit dat armoede-uitwissing hoog op die amptelike agenda is, word weinig op streeks- en nasionale vlak gedoen om ‘n beduidende verskil te maak.

“Armoede gaan nie verdwyn as gevolg van deklarasies nie, maar alleenlik deur radikale strukturele en transformerende optrede waarby burgerlikes as die sleutelrolspelers betrek word.”

Armoede bly een van die streek se grootste uitdagings met meer as die helfte van die bevolking wat op minder as US$1 (sowat N$13,50) per dag oorleef.

Die meerderheid van die inwoners ly honger, is ondervoed, gaan gebuk onder geslagongelykheid, uitbuiting, marginalisering, hoë sterftesyfers en MIV/vigs, sê hy.

Regerings in die streek word daarvan beskuldig dat hulle aanbevelings deur burgerlike organisasies oor armoedeverminderingsmaatreëls, welvaartsverdeling en ekonomiese transformasie ignoreer. “Hulle is liewer tevrede met welsynsingrypings.”

Verder voer Dempers aan burgerlike gemeenskapsgroepe het al sterk wetgewing voorgestel om die dreinering van welvaart uit lande stop te sit en om meer gevorderde belastingstelsels in te stel om veral rykes te laat opdok. Verder het hulle ook ‘n leefbare loon pleks van ‘n minimum loon voorgestel en aanbeveel beleggings in die maatskaplike sektor moet vergroot word.

Hy sê die eienskap van streeksleierskap is kompromisreëlings tydens oorgang waarvolgens minderhede se eiendomsregte beskerm word. In lande waar dit nie gedoen is nie, is daar weer bewyse dat die elite met multinasionale ondernemings saamwerk en toelaat dat groot stukke grond bekom en die plaaslike inwoners afgesit word.

Dempers se voorstel was dat die menseberaad die verkoop van grond en ander natuurlike hulpbronne aan buitelanders en multinasionale ondernemings “ten sterkste verwerp” en eerder huurpagte en wedersyds voordele-opsies voorstel.

Hy het voorts daarop gewys dat die “algemene, skandelike beeld” oral in die streek dié is van regerings wat nie behoorlike behuising en sanitasie aan mense kan verskaf nie.

Dempers beveel aan die hand-oor-hand toename in informele nedersettings moet stopgesit en vervang word met behoorlik beplande en ontwikkelde woonbuurte.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer