Leierskorps teen korrupsie bly
Leierskorps teen korrupsie bly

Leierskorps teen korrupsie bly

Noa en Van der Merwe vir nog ses maande aangestel
Augetto Graig
Augetto Graig – Mnr. Paulus Noa sê die opleiding van 'n opvolger is nie deel van sy of die Teenkorrupsiekommissie (ACC) se mandaat nie.

“Die direkteur-generaal en die adjunkdirekteur-generaal word volgens die wet deur die president aangestel. Die president dien sy nominasies by die parlement in, waar dit goedgekeur word, voor die president hulle aanstel. Dit is nie in my mag om iemand voor te berei nie. Die wet werk nie so nie,” voeg hy by.

Die kantoor van die president het Woensdag aangekondig dat Noa as waarnemende direkteur-generaal, en adv. Erna van der Merwe as waarnemende adjunkdirekteur-generaal van die Teenkorrupsiekommissie vir 'n tydperk van ses maande aangestel is.

Die ampstermyne vir beide Noa en Van der Merwe het op 31 Desember tot 'n einde geloop en aangesien die Nasionale Vergadering tans in reses is, het die staatshoof die aanstellings gedoen. Die aanstellings is geldig vanaf 1 Januarie 2021 tot 31 Junie 2021.

“Elke instansie het sy manier en so ook die ACC. Dit is wat die wet sê wat dit bepaal,” sê Noa.

“Volg die letter van die wet” is een van vele lesse wat Noa deeglik gedurende sy bykans 15 jaar leierskap van die nasionale teenkorrupsie-instansie geleer het, en ook waar vaardighede ontwikkel is.

“Beslis is daar nou meer vaardighede. Enige wetgewing is onderworpe aan interpretasie en uitdaging soos in 'n hof. Vandag weet ons waar wysiging aan die wetgewing nodig is, deur die interpretasies van die wet, veral deur die hoërhof. As voorbeeld word korrupsie baie wyd in die wet gedefinieer; basiese enige oortreding teen die beleid, teen die wet, of teen die reëls, maar dit is voor die hoërhof gebring en hulle het besluit die bedoeling moet in ag geneem word.

“Gevalle van blote nalatigheid is administratief en moet deur die administrasie getakel word, byvoorbeeld deur afdanking. Dit is nie vir kriminele vervolging nie,” sê hy.

Ander kennis waaroor die ACC nou beskik, sluit in die vereistes vir wetlike lasbriewe en bevel tot inhegtenisneming. “Toe ons begin het, is mense keer op keer voor die hof gebring en bloot weer vrygelaat. Dit is nie langer die geval nie. Ons weet nou hoe 'n beëdigde verklaring opgestel moet word,” sê Noa.



'PRAAT EN SKRYF OOR KORRUPSIE'

Van uiterste belang is dat elke stap wetlik gevolg moet word, sê Noa.

In terme van sukses by die ACC oor die jare reken Noa die groeiende bewustheid van korrupsie in Namibië is 'n topprestasie.

“Mense verstaan die gevaar van korrupsie, die skade aan die ekonomie, en hulle ontbloot dit. Ons sukses is bewys deur meer mense wat praat oor korrupsie, kla oor korrupsie, asook die media se vryheid om te skryf oor korrupsie. In sekere lande hoor mense niks van korrupsie nie, maar dit mag daar erger wees as hier.

“Ook dié wat agter tralies sit, of voor die hof verskyn, is suksesse, maar dit gebeur nie eenmalig en klaar nie.

“Solank die mensdom bestaan, sal iemand die stelsel probeer korrupteer. Die vraag is nie of korrupsie bestaan of nie, dit gaan oor wat gedoen word om dit teen te werk. Ons probeer ons bes,” sê hy.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer