Lelie-droom blom in die woestyn

Bolle word uit Holland ingevoer en langs die Swakoprivier gekweek.
Tanja Bause
Tanja Bause - Me. Andrea Hoth het vir vier jaar blomme op haar plaas, Gelbingen, by Kamanjab gekweek.

Dit het onder meer lelies, sonneblomme, dahlias en irisse ingesluit.

Toe die plaas verkoop is en sy Swakopmund toe verhuis het, het haar droom om meer blomme te plant, saamgetrek.

“Ek wil graag blomme kweek en aan bloemiste verkoop. Kamanjab was net te ver, maar Swakopmund is nader en dalk is dit nou moontlik. Ek het die droom met Cathy Ellis gedeel en dit het by haar ook vlam gevat,” het Hoth gesê.

Vier soorte lelies blom tans op 'n kleinhoewe in die Swakopmund­vallei buite dié dorp. Die bolle van die verskillende soorte lelies is uit Holland ingevoer deur kontakte wat Hoth met produsente opgebou het. Oranje vuurlelies, wit Sint Josefs­lelies, geel Longiflorum-lelies en groot, wit White Triumph-lelies is ingevoer.

Mnr. George en me. Kathy Ellis, wat op dié kleinhoewe, Oranje­hoewe, met groente boer, en Hoth is die enigste mense wat lelies op dié skaal in Namibië aanplant.

“Die bolle is van Holland af Suid-Afrika toe gevlieg en toe na Swakopmund vervoer. Hier het ons hulle in koelkamers gebêre en begin plant. Ons het twee keer 2 000 ontvang en geplant.

“Die bolle kan nie langer as twee weke in die koelkamers bly nie, want dan kan hulle blomme misvorm wees. So ons moes vinnig spring en plant,” het Ellis gesê.

Twee bolle word in 'n swart sak geplant en in 'n tonnel gekweek. Die bolle dra elkeen tot vyf lelies aan een stingel. Wanneer hulle gepluk word, word die stingels net bokant die grond afgesny.

In die swart sakke is die leeftyd van die blomme as vertoonstukke tot twee weke. Die onlangse warm weer by die kus het gesorg dat amper al die bolle gelyk geblom het.

“Ek verkoop die vars blomme daagliks voor 'n winkel in die sentrale sakegebied van Swakopmund. Mense wat troues of partytjies beplan, kan my of Andrea direk kontak. Ek sny die blomme vars op bestelling vir hulle,” het Ellis gesê.

Benewens die blomme verkoop Ellis ook groente wat op die kleinhoewe gekweek word. Sy en George is veral bekend vir hulle groen aspersies. Hulle oes tot 90 kilogram groen aspersies per dag, wat hulle die grootste aspersieprodusente in die land maak.

Ook vars tamaties, groenrissies, slaai, brokkoli, bone, komkommers en verskillende kruie word daagliks vars te koop aangebied.

Die twee vrouens het reeds twee blommemarkte in Die Hoenderhok aangebied.

Die Hoenderhok is 'n groot saal waarin die hoenders van die hoenderboerdery grootgemaak is.

Die toerusting wat met die dak langs afloop om die kuikens en hoenders te voer en water te gee, is steeds in die saal.

Dit, saam met verskeie ou meubels wat Ellis oor die jare versamel het, skep 'n besondere atmosfeer vir besoekers.

“Tydens die blommemark verkoop ons natuurlik ons blomme, maar ons gee mense ook 'n lekker ontbyt, koffie en koek. Dis 'n gesellige familie-­wegbreek uit die dorp uit langs die Swakoprivier,” het Hoth gesê.

Mense kan ook Die Hoenderhok vir private geleenthede of troues vir tot 70 mense huur. Ellis en Hoth sal die spyseniering doen en hulle kan die troukoek ook voorsien.

“'n Funksie of troue in 'n ou hoender­huis is baie ongewoon, maar tog baie lekker,” het beide gesê.

Vir bestellings en meer inligting kontak Hoth by 081 271 3851 en Ellis by 081 347 2005.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!