Lesotho se nuwe eerste minister ingesweer
Lesotho se nuwe eerste minister ingesweer

Lesotho se nuwe eerste minister ingesweer

Wantroue tussen die nuwe eerste minister van Lesotho en die weermag maak die veiligheidsituasie in die land gespanne.
Thomas Thabane, Lesotho se nuwe eerste minister, is Vrydag ingesweer, amper drie jaar nadat hy uit die land gevlug het uit vrees van ’n moontlike sluipmoord.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, Sibusiso Dlamini, premier van Lesotho, en ander afgevaardigdes het die geleentheid bygewoon.

Lipolelo Thabane, Thabane se vervreemde vrou, is Woensdag in Ha Masana, sowat 20 km van Maseru, vermoor. Dié moord was glo ’n poging om die nuwe regerende koalisie te intimideer.

Thabane het Vrydag die verhoog sonder lyfwagte verlaat, want die kwessie rondom sy veiligheid is steeds onopgelos. Wetlik moet die weermag beskerming vir senior staatsamptenare reël.

Thabane se verhouding met die weermag het versuur toe hy die weermag daarvan beskuldig het dat hulle hom in Augustus 2014 tot ’n val wou bring, waarna hy in ballingskap gegaan het.

Thabane het gesê hy vertrou nie die weermag om hom te beskerm nie en sal waarskynlik deur die polisie beskerm word.

Die weermag het hul daartoe verbind om die nuwe regering te respekteer.

Die All Basotho Convention, Thabane se party, het die verkiesing op 3 Junie gewen. Pakalitha Mosisili, die voormalige eerste minister, het in Maart vanjaar ’n mosie van wantroue in die parlement verloor.

Die All Basotho Convention het 48 setels in die parlement gewen en Mosisili se Democratic Congress het 30 setels gewen. Dit is nie genoeg om vir Thabane ’n volstrekte meerderheid te gee nie. Die onlangse verkiesings was die derde in die afgelope vyf jaar. Thabane het gesê hy hoop hervorming sal politieke stabiliteit bring.

“ ’n Mens kyk vorentoe na ’n stabiele, normale en internasionaal erkende vyfjaar-siklus tussen verkiesings,” het Thabane gesê.

“Ek verseker dus vir jou dat hierdie regering vir alle Basoeto’s, sonder enige vorm van diskriminasie, sal wees.”

Thabane het gesê die regering sal “die oppergesag van die wet respekteer, herbou en die pilare van demokrasie versterk – en verafsku korrupsie in al sy vorme”. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer