Lesse uit die VSA wat nie misgekyk mag word nie
Dr. Riaan Eksteen van Swakopmund skryf: Die onverkwiklikhede wat verlede week in Washington D.C. plaasgevind het toe die setel van die wetgewende gesag in die VSA met brute fors bestorm en die Capitol-gebou binnegedring is, moet nie net met veroordeling en ligsinnige opmerkings oor die demokrasie in daardie land beskou word nie. In hierdie tragiese gebeure en die hele aanloop daartoe, lê belangrike lesse wat nie uit die oog verloor moet word nie; dis ook nie net op die Amerikaanse toekoms van toepassing nie. Vele ander lande kan put uit die lesse wat daaruit geleer moet word.
Dat president Donald Trump in sy ampstermyn onbesonne dinge aangevang, aanvegbare stellings gemaak en swak oordeel aan die dag gelê het, is nie te betwyfel nie en hoef nie hier herhaal te word nie. Ook nie die pluspunte wat hy wel onder andere met buitelandse beleid en die ekonomie bereik het nie. Wat wel hier nou ter sprake is, is om die gebeure van die afgelope weke in oënskou te neem en met die soeke na die oorsake daarvan te let op waar alles dan skeefgeloop het en hoe bepaalde benaderinge hierdie gevolg gelaat het.
Trump het ernstige foute begaan in die weke na die verkiesing van November 2020. Eerstens het hy nie raadgewers met gravitas gehad wat hom met goeie kwaliteit advies bedien het nie. Die wat hy rondom hom geskaar het, het hom aanhoudend wys gemaak wat hy wou hoor. Dit was heeltyd soos musiek in sy ore. Hy het hom laat mislei deur hul verskeidenheid van praatjies dat alles op koers is om die verkiesingsresultate omgekeer te kry. Van die samesweringsteorië wat hulle opgedis het, het aan die verregaande gegrens. Hoe meer hulle in sirkels geargumenteer het, hoe minder geloofwaardig het hulle geword en hoe meer het Trump in hul ongegronde versekerings verstrik geraak. Baie van hulle het eintlik hul eie agendas probeer bevorder en in die proses enduit wanvertolkings van die grondwet verkondig.
Tweedens het hierdie adviseurs geglo dat hofsake hul bondgenote sal wees om hul einddoel te bereik. So is 'n proses aan die gang gesit om tientalle sake in verskeie howe in verskillende deelstate te voer. Selfs die Hooggeregshof is nie ontsien nie. Trump het blindelings geglo, en is hy in sy futiele uitkyk gesteun, dat die drie regters (Kavanaugh, Gorsuch en Barrett) wat hy tot daardie hof benoem het, sy saak ter wille sou wees. Toe die drie van hulle ook geen meriete in sy betoë kon vind nie, het die boom van sy pogings om verkiesingsuitslae omgekeer te kry nog verder uitgeval. Hier moes hy besef en aanvaar het dat hy nie teen donderweer kan skreeu nie; dit sou sy uiteindelike vernedering dalk nie so verdoemend gemaak het nie. 'n Duur les is geleer dat litigasie nie 'n bestuurstyl is nie.
Verder het sy hardkoppigheid waarin hy byna ten alle koste aangepor was geen geringe rol gespeel nie. Dan is sy onlangse foute ook gevoed uit die aksies wat hy deurentyd gevoer het rondom sy eie persoonlikheid en om sy eie beeld te bou. Dit het geen grense geken nie. Hy het homself as onmisbaar beskou. So het hy meer en meer onder die waan verkeer dat hy onaantasbaar is. Die beeld wat hy van homself veral in die afgelope jaar opgebou het as synde die hoofvoorstaander van wet en orde, het hy 'n paar dae gelede binne enkele ure eiehandig vernietig. Op die ou end was hy sy eie grootste vyand. Soos in 'n klassieke Griekse tragedie was sy nemesis sy narsistiese persoonlikheid. Veral vir diegene in posisies van leierskap behoort dit 'n les oor karakterontwikkeling te wees.
Dit sal egter 'n fout wees om al die probleme net voor Trump se deur te lê. Die wortels van die meeste van die ongelukkighede in die huidige Amerikaanse samelewing strek veel dieper as oppervlakkige beskuldigings. Menige van diegene wat nou hewig kritiek lewer, was nie eintlik hoorbaar toe brandstigters en vandale enkele maande gelede verwoesting in verskeie stede gesaai het nie. Van optrede teen hierdie anargiste het weinig gekom.
Oor tien dae betree die VSA 'n nuwe era. Die letsels van veral die jongste gebeure sal vir baie jare nog bly. Die uitdagings wat nou voorlê, is om ander benaderings te volg en nie die spel van blaam aanhoudend te probeer speel nie. Dit sal niemand iets in die sak bring nie, en sal die foute van die verlede nóg regmaak nóg uitwis. Elders waar die spel al tot vervelens toe gespeel is, het bewys dat dit ook nie 'n bestuurstyl is wat indruk maak nie, bloot omdat dit net nie standhoudend is nie. In die VSA sal dit bepaald net so kortstondig 'n indruk maak totdat die bevolking agterkom dat dit eintlik 'n rookskerm is waaragter swak en onbevredigende optredes skuil. Hierdie les is net so veelseggend en een wat nie ligtelik afgemaak kan word nie.
Die wêreld se politieke atmosfeer sal dwaas wees om nie op die afgelope gebeure in die VSA en die noodlottige gevolge baie ernstig ag te slaan nie. Die stryd tussen die Republikeine en die Demokrate kan nouliks feller word. Die Republikeinse party se eenheid het die afgelope week 'n ernstige knou weg. Die impak wat Trump se ondersteuners verder op hierdie party gaan hê, kan nie gering geskat word nie.
*Riaan Eksteen was ná onafhanklikwording Suid-Afrika se eerste ambassadeur in Namibië. Hy het tydens sy diplomatieke loopbaan 10 jaar in die VSA deurgebring en in daardie tyd vier presidentsverkiesings eerstehands meegemaak. Tien ander het hy noukeurig gevolg toe hy elders gewerk en gewoon het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie