Lesse vat lank om geleer te word
Lesse vat lank om geleer te word

Lesse vat lank om geleer te word

Heelwat van die bekende struikelblokke bly kniehalter die sport se vordering.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Sewesrugby bly suig maar aan die agterspeen en Namibië kry dit net nie reg om betekenisvolle treë vorentoe te gee nie. Talent is nie die probleem nie, maar eerder die erns om strukture in te stel wat dit ten volle tot sy reg laat kom.

Die Namibiese studentespan het die naweek sy beste eindposisie nóg (vierde) behaal by die 2018 wêreldstudentekampioenskap in die sport wat op Swakopmund aangebied was.

“As ons eerlik moet wees, het ons amper net deur spelerstalent só ver gevorder. Die groter lande het veel meer strukture en kry ook meer blootstelling aan groot toernooie.

“Ons voorbereiding was onvoldoende en vyf spanlede kon eers die Dinsdag voor die toernooi by ons aansluit.

“Ons spelers het die vorige Vrydagaand nog vir hul klubs in die vyftienman-premierliga gespeel. Jy sal sien dat die sterker spanne se spelers feitlik net op sewesrugby fokus – vir ten minste 'n maand voor 'n toernooi speel hulle geen vyftiens nie, om jou ingesteldheid reg te kry.

“Sewesrugby mag vir 'n leek maklik lyk, maar daar is klein dingetjies wat die verskil maak. Dis goed wat instinktief moet gebeur, soos om vinniger terug in die verdedigingslyn te kom. In die vyftienmanspel kan 'n spanmaat jou altyd nog op die dekverdediging red, maar as jy in sewes net-net te laat in posisie kom, is dit te laat.

“Namibië speel eenvoudig te min sewes om werklik vloeiend in die kode te raak. Dit is hoekom ek die afgelope dae heelwat meer afrigting moes doen as wat die geval behoort te wees.”

Volgens Bougard sou die Namibiese span beslis sterker kon wees as die Blou Bulle die agtsteman Oderich Mouton en heelagter/losskakel Chad Plato uit sy junior spanne vrygestel het. “Daar is nog twee weke oor voor die o.20 Curriebeker begin en volgens my kon die Bulle hulle maar laat kom het, maar hulle wou nie.”

Sunday Haitembu is 'n veelsydige agterspeler wat tevore op sewestoere na Wallis en Kenia was. Op die vooraand laas week het die besluitnemers beslis dat hy onkiesbaar is, hoewel hy net 'n paar dae “te vroeg” gebore is. Die beperking vir die studentetoernooi is dat spelers hoogstens gedurende dié kalenderjaar 25 jaar oud mag word, terwyl Haitembu in September verjaar het.

Max Katjijeko (nasionale toets-oefengroep) en Helarius Kisting (persoonlike redes) was ook onbeskikbaar.

“Fiksheid, kondisionering en spoed was nie 'n probleem nie, maar ons het net nie genoeg ondervinding gehad om die topvlak rugbylande soos Frankryk, Australië of Suid-Afrika te bedreig nie. Ons het nie skrums of lynstane verloor nie en niemand het bo-oor ons verdedigers gehardloop nie; teen die vinnige en ratse spelers van Australië kon ons nie die pas volhou om betyds in posisie vir verdediging te kom nie.

“Spelers moet gewoond raak aan die werketiek om teen vinnige en kragtige opponente hul man te kan staan. Die voorste lande het sewesligas of bied toernooie aan, maar by ons is nie geld vir sewesrugby beskikbaar nie.

“As ons sterkste span beskikbaar was, sou ons miskien met geluk vir Australië kon verras het en dalk vir Frankryk in die uitspeel vir die derde plek kon uitdaag. Maar Suid-Afrika se voormalige Blitsbokke ploeg terug in hul sewes-akademies – daar is geen kans dat ons hulle sou klop nie. Met hul spesialisasie is hulle op 'n hoër vlak as die ander spanne.”

Bougard sê die span se doelwit was om minstens die kwarteindstryd te haal en hopelik die semifinaal, wat hulle toe reggekry het voordat Australië hulle uitgeskakel het.

“In dié opsig is ek dus baie tevrede. Mense sal nie besef hoe goed ons gevaar het as hulle net na die tellings kyk nie.

“In ons videosessies van oefeninge en wedstryde het ons nie kritiek uitgedeel as mense foute begaan nie, maar het eerder die geleenthede uitgewys om te verbeter. Maar dit registreer nog nie instinktief op die veld in die hitte van die oomblik nie.”

Bougard is 'n voorstander dat Namibië en in besonder Tisan (die tersiêre instellings sportvereniging van Namibië) sterker strukture vir sewesrugby instel.

“Ons het byvoorbeeld geen databasis van alle spelers wat tans ingeskrewe studente is en wat dus sou kwalifiseer nie. As die afrigter nie van 'n speler weet nie, of iemand bring nie 'n speler onder sy aandag nie, hoe sal hy weet? Ek glo daar is vele ander spelers van wie ons nie eens bewus was nie. In die toekoms kan Tisan en die NRU in dié opsig veel nouer saamwerk.”

Volgens Bougard sal Italië volgende jaar die Europese studentekampioenskap aanbied, met Namibië wat ook 'n uitnodiging gekry het. Die volgende FISU wêreldstudentekampioenskap is in 2020 in Argentinië.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!