Let op etikette!
Let op etikette!

Let op etikette!

Verbruikers word aangemoedig om te kla oor ondernemings wat verkeerde inligting op produkte aandui.
Augetto Graig
Augetto Graig - Namibiërs word aangemoedig om hul stem dik te maak oor onakkurate en misleidende etikette.

Veral verkeerde inligting oor hoeveelhede op produkte wat plaaslik verkoop word, moet aangemeld word.

Van 1 Maart af word die wet op die meet en verkoop van goedere in Namibië strenger ­toegepas.

Die Wet op Handelsmetrologie nommer 77 van 1973 verwys spesifiek na die manier waarop hoeveelhede en inhoud op produkte aangedui en bereken moet word.

Dit stel ook duidelik dat ondernemings hul meetinstrumente gereeld moet nagaan en onderhou.

Inligting oor ­vragkoste en tolbelasting op produkte word ook verskaf.

Vrydag het die Namibiese Instituut vir Stan­daarde (NSI) se hoof uitvoerende beampte, me. Chie Wasserfall, 'n slypskool behartig om die belang van dié ontwikkeling aan belanghebbers te verduidelik.

Volgens Wasserfall sal die wet van nou af strenger toegepas word op groothandelaars, handelaars, die brandstofsektor, die gesondheidsorgsektor, landbou-, vrag- en koerierdienste, die maritieme bedryf en ook plaaslike- en streeksowerhede.

“Ek moedig julle aan om bekend te raak met die inhoud van die wet. Organisasies wat nie ten volle aan die regulasies van die wet voldoen nie, sal gestraf word en besighede kan selfs gesluit word - aldus die wet,” het sy gewaarsku.

“Vervaardigers, pakkers, en groot- en kleinhandelaars word verplig om te verseker hul produkte voldoen aan die regulasies vir etikette, perke van gepakte hoeveelhede, asook die algemene vereistes vir die verkoop van goedere.”

Mnr. Victor Mundembe, die NSI se bestuurder van handelsmetrologie, het tydens die slypskool gesê seksies 20 tot 26 van dié wet gaan oor die verifikasie van meetinstrumente, en enige afwyking daarvan sal 'n oortreding wees. Die NSI sal binnekort besigheide begin besoek om skale en ander toerusting, wat nie na hul kantore gebring kan word nie, na te gaan.

Eienaars van dié toerusting sal vir die koste van die toets verantwoordelik wees, afhangende die tipe toerusting wat hulle gebruik. Nuwe fooie in dié verband sal van 1 April van toepassing wees, het Mundembe gesê.

Die skale moet nie net akkuraat wees nie, maar etikette moet ook die korrekte inhoud van produkte aandui.

Meeteenhede moet ook soos voorgeskryf gebruik word. Boonop sal inspekteurs besighede besoek om seker te maak almal voldoen aan die regulasies, terwyl lede van die publiek ook aangemoedig word om onwettige praktyke direk aan die NSI te rapporteer.



BETAAL NET VIR WAT JY EET

Volgens wet bestaan 'n regulasie wat daarop aandring dat slegs die gewig van gekookte kos gebruik moet word om die prys te bepaal. Dit sluit die gewig van die bord of verpakking waarin dit verkoop word uit.

“Jy moet net betaal vir dit wat jy kan eet,” het Mundembe verduidelik. “As kos per gewig verkoop word, moet dit net die gewig van die kos wees.”

Die wet vereis ook dat verbruikers toegang het tot die skale wat gebruik word om die gewig van kos te meet, en dat hulle mag aandring op die sertifikasie van die toerusting, soos deur die NSI gespesifiseer.

Aan ondernemings het Mundembe gesê: “Dit is nie toelaatbaar dat julle die indruk skep dat julle iets verkoop, terwyl julle eintlik iets anders verkoop nie.”

Ongelukkige verbruikers kan direk met Mundembe by die NSI skakel vir klagtes oor produkhoeveelhede.

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!