Lewenslange vonnis vir moordenaar, vra staat
’n Vrou wat ’n groep mans sowat N$5 000 betaal het om haar man te vermoor, het haar laaste hofverskyning gemaak voor vonnisoplegging.
Kristien Kruger
“Rachel Rittman was die tweede vrou in Namibië se geskiedenis om lewenslank tronkstraf te kry, en my versoek is dat Anastancia Lubinda die derde moet wees.”
Só het staatsaanklaer, mnr. Marthino Olivier, Maandag in die hoërhof in Windhoek aan regter Johanna Salionga gesê nadat hy in sy finale betoë voor vonnisoplegging ooreenkomste tussen dié twee sake uitgewys het.
Lubinda is in Oktober vanjaar skuldig bevind aan die moord op haar man nadat sy ’n groep mans sowat N$5 000 betaal het om hom te vermoor en teenwoordig was toe hul hom gestenig het.
Wyle mnr. Peter Rischo Muleke is op 30 Maart 2015 in die omgewing van Goreangabdam gestenig.
Ses mense is in verband met die moord in hegtenis geneem en ná ’n vier jaar lange verhoor is bevind dat Lubinda en twee medebeskuldigdes, David Kondjara en Donald Hindjou, skuldig is aan die moord.
Lubinda, Kondjara en Hindjou ontken steeds skuld.
“Daar is geen berou by die oortreders nie, want hulle hou vol hulle is onskuldig. Hoe kan jy iets berou wat jy sê jy nie gedoen het nie,” het Olivier gesê.
RITTMAN EN DU PREEZ
Rittman (48) en haar eksminnaar, Ryno du Preez, is in 2013 deur regter Christie Liebenberg onderskeidelik tot lewenslange tronkstraf en 30 jaar opgelê.
Hulle was skuldig bevind op die sameswering en moord op Rittman se man, mnr. Loffie Rittmann (toe 34).
Du Preez is in Desember 2020 in die tronk dood.
HUISHOUDELIKE GEWELD
“Ons hanteer ’n groot aantal sake van huishoudelike geweld in hierdie hof en omdat dit ’n man is, maak geen verskil nie en moet dit steeds as ’n verswarende faktor beskou word,” het Olivier oor Lubinda se dade gesê.
Volgens Olivier is dit nie net die feit dat sy haar eie man wou vermoor nie, wat verswarende omstandighede is nie, maar ook die manier waarop die moord uitgevoer is.
“Hy was onkant betrap en gestenig. Dit opsigself is ’n verswarende faktor.”
Bykomende verswarende faktore is volgens Olivier ook die feit dat sy dit beplan het en sy dit vir finansiële gewin gedoen het.
“Die gepaste vonnis vir hierdie oortreding is lewenslange tronkstraf.”
Olivier het gister sy finale betoë afgehandel en Lubinda se verteenwoordiger, mnr. Milton Engelbrecht, was volgende aan die beurt.
Die twee ander beskuldigdes se verteenwoordiger sal vandag hul finale betoë om ’n versagte vonnis lewer.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie