Lewenslank vir Suide-verkragters

’n Sterk boodskap is gister in twee afsonderlike vonnisopleggings in die hoërhof aan die verkragters en moordenaars van vroue gerig.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh en Ronelle Rademeyer - Twee mans wat vroue op Mariental en Tses verkrag en vermoor het, is gister in twee afsonderlike sake vonnisse van altesaam 152 jaar opgelê vir dade wat as “barbaars” beskryf is.

Hul vonnisse van onderskeidelik 105 en 47 jaar sal egter samelopend met hul lewenslange vonnisse vir die skuldigbevindings op klagte van moord uitgedien word.

Regter Christie Liebenberg het die 34-jarige Gerald Henly Matlata gisteroggend in die hoërhof in Windhoek lewenslange tronkstraf opgelê vir moord, asook 80 jaar vir bykomende klagte.

Dit sluit in twee klagte van huisbraak met die opset om te verkrag, verkragting, twee klagte van poging tot moord, huisbraak met die opset om te roof, roof met verswarende omstandighede, asook diefstal.

Hy het tussen 2012 en 2015 twee vroue op dié dorp in hul huise oorval, verkrag en die een vermoor. Sy derde slagoffer se gille het hom op die vlug laat slaan voor sy verkrag is, maar hy is vir dié voorval skuldig bevind aan huisbraak met die opset om te roof, en poging tot moord.

Daarmee saam het regter Nate Ndauendapo terselfdertyd gister die 43-jarige Jesaya Boois van Tses tot altesaam 47 jaar tronkstraf gevonnis vir die verkragting en moord van ’n vier maande swanger vrou in 2014 by dié nedersetting.

Liebenberg het in sy vonnisoplegging gesê die feit dat die beskuldigde oor drie jaar jag gemaak het op die swakker en meer kwesbare mense van die samelewing, tel swaar teen hom.

“Die een klaagster is ’n dame van ouer as 60 jaar en was soos in die geval van die ander twee slagoffers, geensins opgewasse teen hom nie omdat hy hulle met relatiewe gemak kon oorweldig. Hy het brutale krag teen hulle gebruik en was gewillig om hul dood te maak om sy seksuele begeertes te bevredig.

“Volgens sy eie getuienis het hy in een van die sake seks met ’n sterwende persoon gehad. Jy kan jouself afvra, wat kan meer barbaars as dit wees?

“Hy het sy slagoffers aan gewelddadige en genadelose aanranding onderwerp om sy seksuele begeertes te bevredig.”

Hy het gesê Matlata is ’n ernstige bedreiging vir die samelewing en moet daaruit verwyder word tot hy geleer het om die regte van ander te respekteer.

Hy het ook nie die feit dat Matlata skuldig gepleit het, in sy vonnisoplegging in ag geneem nie omdat dit nie opgevolg is deur ’n verklaring van berou nie. Hy het ook verwys na die feit dat openbare protes dikwels in die Namibiese gemeenskap teen die sinnelose moord op vroue en kinders opklink. Volgens Liebenberg is dit die hof se plig om die belange van hierdie onskuldige slagoffers te beskerm deur met uitsprake en vonnisse namens dié wat stilgemaak is, te praat. Hy het gesê dié vonnis moet ook as ’n afskrikmiddel vir voornemende misdadigers dien.

Die vonnis kom nadat staatsadvokaat Marthino Olivier die hof versoek het dat Matlata “vir die res van sy lewe” tronk toe gestuur word, omdat hy geen tekens van berou getoon het nie. Olivier het bygevoeg sy aanvalle was skynbaar goed beplan omdat al die vroue, wat saam met ander mense in hul huis woon, alleen tuis was wanneer hy toegeslaan het.

Intussen het die twee oorlewende klaagsters getuig hulle leef steeds in vrees ná sy aanvalle op hulle, met een van hulle wat sê dit was onstellend om te weet Matlata het nog vir vier jaar lank op vrye voet verkeer nadat hy haar aangeval het.

Intussen het Ndauendapo tydens Boois se vonnisoplegging gelas die vonnis van 20 jaar vir verkragting en die twee ander vonnisse van een jaar elk op klagte van aanranding deur dreigemente en regsverydeling, moet saam met die lewenslange vonnis op die klag van moord uitgedien word.

Dit beteken hy sal die volgende 25 jaar van sy lewe agter tralies deurbring.

Boois het die swanger me. Bonaventura Jahs (28), met wie hy vroeër ’n verhouding gehad het, die nag van 2 tot 3 September 2014 verkrag en haar daarna verwurg. Daarna het hy haar selfoon en klere versteek en die toneel opgeruim om die misdaad te verbloem.

Die hof het gehoor die vermoorde Jahs se 11-jarige seun woon by sy ouma en het gedragsprobleme ontwikkel ná sy ma se dood. Hy draai stokkies by die skool en is agressief. Boois is nie die seun se pa nie en was ook nie die pa van die baba wat sy ten tye van haar dood verwag het nie.

Ndauendapo het met vonnisoplegging daarop gewys dat die staat gevra het Boois moet vir die verkragting tot 45 jaar tronkstraf gevonnis word, aangesien hy vantevore ook aan dié misdryf skuldig bevind is. Die Wet op die Bekamping van Verkragting van 2000 bepaal ’n oortreder kan met ’n tweede skuldigbevinding vir 45 jaar tronk toe gestuur word.

Hy het egter verwys na die hooggeregshof se uitspraak in Februarie vanjaar in die saak van Zedikas Gaingob en drie ander teen die staat, wat bevind het buitengewoon lang vonnisse is ongrondwetlik, aangesien dit hulle geen hoop bied om uiteindelik op parool vrygelaat te word nie.

Dit is om hierdie rede dat hy hom net tot 20 jaar tronkstraf vir die verkragting gevonnis het.

Kommentaar

Republikein 2025-04-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer