LGBTQ-vlugteling sterf in die VK
LGBTQ-vlugteling sterf in die VK

LGBTQ-vlugteling sterf in die VK

Die Britse media het ook dekking gegee aan die jong Namibiër se tragiese einde en sy agtergrond.
Yandi Du Plessis
Jana-Mari Smith

’n Jong Namibiër wat glo uit die land gevlug en asiel in Brittanje gesoek het as gevolg van diskriminasie wat hy weens sy biseksualiteit ervaar het, het vandeesmaand in Brittanje selfdood gepleeg.

Terwyl mnr. Romeo Tjijandjeua Nguase (22) se bedroefde familie en vriende nie op rekord wou praat oor sy dood nie, is bevestig dat geld tans ingesamel word om sy liggaam na Namibië terug te bring.

Die oorledene het na bewering drie jaar gelede asiel in die Verenigde Koninkryk gesoek (VK) om LGBTQ-vervolging in sy geboorteland te vermy.

“Só jammer dat ons asielstelsel jou in die steek gelaat het, Romeo. Jy moes hier veilig gewees het. Rus in vrede en mag,” het ’n vriend verlede week in die sosiale media geskryf.

Lede van sy sokkerspan het oor sy laaste wedstryd voor die grendeltyd geskryf, waar hy “wonderlike vermoë getoon het en ons enigste doel in ’n 1-1-gelykopwedstryd aangeteken het”.

Die ministerie van internasionale betrekkinge en immigrasie het gister bevestig hulle is van sy dood in kennis gestel is, asook dat hy ’n asielsoeker was.

Die ministerie kon nog nie die oorsaak van sy dood bevestig, óf die redes waarom hy asiel in die Verenigde Koninkryk gesoek het nie.

Hulle was besig om familie te kontak om “uit te vind hoe hulle met die liggaam wil voortgaan”.

Die ambassade in die VK het, deur die ministerie, bygevoeg “dit moet genoem word dat ’n persoon wat asiel gevra het, hul burgerskap verbeur het”.

TRAGEDIE

Verskeie Britse media-instellings het berig dat Nguase op 16 April weens selfdood gesterf het nadat hy erg depressief geraak en geïsoleerd gevoel het in die nasleep van ’n gedwonge verskuiwing van Glasgow na die stad Hull.

Daar is berig dat hy in Glasgow naby familie gewoon het en erg ongelukkig was oor die skuif. In Hull is hy glo in minderwaardige verblyfomstandighede geplaas en hy het finansiële probleme gehad. Boonop het hy nie voldoende toegang tot hulpbronne gehad om hom in sy stryd te help nie.

Volgens verskeie berigte het Nguase drie jaar gelede uit Namibië gevlug. Die Britse koerante het familielede wat naby aan hom was, aangehaal waar hulle sê hy is in ballingskap gedwing nadat hy deur familie en vriende mishandel is weens sy status as ’n biseksuele man.

Luidens berigte het hy eers by vriende in Manchester ingetrek, maar was toe vir ’n kort tydperk haweloos.

Later het hy Glasgow toe getrek ná sy aansoek om asiel. Ná sy verhuising het hy erge depressie en isolasie ervaar.

Die MailOnline het verlede week Donderdag ’n familielid aangehaal wat gesê het Nguase het vroeg in April ’n mislukte selfdoodpoging gehad, waarvoor hy in die hospitaal opgeneem is. Daar is berig dat sy naasbestaandes nie gekontak is nie en dat Nguase geen steun vir sy worsteling teen geestesgesondheid ontvang het nie.

Die ondersoek is tans aan die gang, het die binnelandse kantoor in Brittanje verlede week bevestig.

Sy familie en vriende het diep hartseer en skok uitgespreek oor sy tragiese heengaan.

In Namibië duur LGBTQ-gemeenskappe se stryd steeds voort om beskerm te word teen homofobie van die staat en om gelyke behandeling onder die Grondwet en wette te kry.

Volgens regskenners en LGBTQ-kampvegters het onlangse gebeure die kollig op die skending van die gemeenskap se menswaardigheid en grondwetlike regte geplaas.

Die afgelope paar weke was die diskriminasie teen LGBTQ-gesinne en individue die onderwerp van wydverspreide debatte tydens die Namibiër, mnr. Phillip Lühl en sy man, mnr. Guillermo Delgado, se stryd om hul pasgebore tweeling, Maya en Paula, huis toe te bring.

Die regering het geweier om reisdokumente aan die tweeling – wat Delgado en Lühl se wettige kinders is – uit te reik.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!